Saak teen Jaco Swart gaan voort

Jaco Swart (Foto: Verskaf)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal Maandag in die landdroshof in Kuilsrivier wees om ’n klaer te verteenwoordig in ’n saak teen die veroordeelde vroueslaner Jaco Swart. Swart word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê daar was na bewering ’n voorval die oggend van 13 Januarie 2022 waartydens die klaer se buurvrou haar om hulp geroep het omdat haar vriend, Swart, glo dronk was ná ’n aand uit en geweier het om haar woonstel te verlaat.

“Swart het in ’n stadium na bewering die veiligheidshek gesluit en die vrou verhinder om haar woonstel te verlaat. Die klaer het haar hand deur die veiligheidshek gedruk en Swart aangesê om nie die deur toe te maak nie. Ten spyte hiervan en met die wete dat die klaer ’n polisiebeampte was, het hy glo geweld gebruik en die deur op haar arm toegeslaan en ’n sening in haar arm beskadig. Sy het die polisie se hulp ontbied en Swart het uiteindelik die eiendom verlaat.”

Die privaatvervolgingseenheid het in Junie aangekondig dat hulle die sertifikaat bekom het om voort te gaan met ’n private vervolging teen Swart, maar die dagvaarding kon nie aan hom beteken word nie, omdat hy nie in die land opgespoor kon word nie.

Die eenheid het in Junie van ʼn betroubare bron verneem dat Swart Suid-Afrika verlaat het en hom in die Verenigde Koninkryk (VK) gevestig het, waar hy na bewering onwettig gewerk het. Die eenheid se eie ondersoek en geo-ligging van foto’s wat Swart in daardie stadium op sosiale media geplaas is, het ook daarop gedui dat hy hom in die VK bevind.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sal Maandag ’n polisiespeurder as getuie roep wat besonderhede aan die hof sal voorlê oor presies waar Swart hom bevind en hoe hy daarin geslaag het om die land te verlaat.

Swart het in Junie verlede jaar skuldig gepleit op die aanranding van sy vrou, Nicoleen Swart. Die streekshof in Pretoria-Noord het hom ʼn boete van R20 000 opgelê, asook drie jaar tronkstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.

Sommige van die aanrandings op Nicoleen is op video vasgevang, asook ʼn voorval waarin Swart een van sy werknemers, Edwin Strydom, klaarblyklik uit die bloute in sy motorhandelonderneming in Gezina se kantoor aanval terwyl hy op sy rekenaar besig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.