Saak teen oudminister se vrou teruggetrek

Norma Mngoma, vrou van oudmin. Malusi Gigaba. (Foto: Ian Landsberg African News Agency/ANA)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het besluit om die saak teen Norma Mngoma, vrou van voormalige minister van finansies, terug te trek.

Mngoma is in Julie verlede jaar op aanklag van opsetlike saakbeskadiging en crimen injuria in hegtenis geneem. Sy is daarvan beskuldig dat sy een van Gigaba se luukse motors gekrap het.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die NVG, sê die besluit om die aanklagte terug te trek, is gegrond op die hooggeregshof in Pretoria se uitspraak dat die Valke se lasbrief vir Gigaba se inhegtenisneming tersyde gestel moet word. Die hof het beslis die lasbrief is onregmatig.

“Die besluit om die saak weer te hervat, hang af van die oorweging van verdere vertoë aangaande die klagte teen Gigaba,” sê Mahanjana.

Maroela Media het vroeër berig daar was destyds heelwat vrae oor waarom die Valke enigsins betrokke was by die saak en die eenheid het toe gesê dit vorm deel van ʼn breër ondersoek na ernstiger bewerings.

Mngoma het onder meer aangevoer haar inhegtenisneming was ʼn sogenaamde guns aan haar man.

Volgens News24 het die hof vroeër gehoor Mngoma is aangekeer as deel van ʼn onregmatige plan van die Valke om beslag op haar elektroniese toestelle te lê en inhoud daarop uit te vee. Haar regsverteenwoordiger, adv. Dali Mpofu, het ook aangevoer ʼn ander motief kon dalk wees om haar te straf of ʼn les te leer omdat sy sou durf waag om haar man en sy twyfelagtige vriende te konfronteer.

Die Valke is beveel om alle inligting wat onregmatig van Mngoma se toestelle verwyder is, te herstel en alle inligting wat van haar elektroniese toestelle afgelaai is, aan haar terug te besorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Estelle ·

En wie betaal intussen vir hierdie sirkus? Ons, die belastingbetaler ….

Baardman ·

Wie is nou verbaas daaroor, kon dit voor die tyd al voorspel

sopbeen ·

Sy gaan nog soos ‘n kannarie sing en al sy sondes op die lappe bring

Sonia ·

propperse koloniale dame sit en suig aan koloniale drankie, en kyk daai handsak! kos seker ‘n paar duisend Rand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.