Sakeliga weer in hof oor Potgietersrus-munisipaliteit

(Foto: nightjartravel.com)

Sakeliga het ʼn hofaansoek in die hooggeregshof in Polokwane gebring om die waarnemende munisipale bestuurder van die Mogalakwena- plaaslike munisipaliteit in Limpopo aan minagting van die hof skuldig te bevind.

Die aansoek volg op ʼn hofbevel wat Sakeliga op 18 Januarie vanjaar bekom het om die munisipale bestuurder te verplig om verskeie rekords soos finansiële verslae en raadsbesluite aan Sakeliga te oorhandig. Mokopane (Potgietersrus) is die setel van dié munisipaliteit.

Die hofbevel volg op ʼn onbeantwoorde versoek kragtens die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) wat Sakeliga reeds in Mei verlede jaar aan die munisipaliteit gerig het. Sakeliga het die versoek gerig na aanleiding van samewerking met die Mokopane Sakekamer. Dié versoek het egter onbeantwoord gebly.

Die Paia-versoek dek heelwat rekords wat die gemeenskap in staat sal stel om met behulp van litigasie en ander stappe aandag te gee aan ʼn totale gebrek aan finansiële bestuur by die munisipaliteit.

Die 18 Januarie-bevel, wat deur Sakeliga aan die munisipale bestuurder per balju beteken is, het die munisipale bestuurder gelas om binne 30 dae die rekords in die oorspronklike Paia-versoek te voorsien. Meer as ʼn jaar en ʼn hofbevel in Sakeliga se guns later het die munisipaliteit nog nie met die rekords vorendag gekom nie.

“Die munisipale bestuurder het skynbaar die bevel geïgnoreer. Ons vra derhalwe dat die hof die munisipale bestuurder nou tronkstraf oplê, sou die rekords nie binne ʼn sekere aantal dae soos deur die hof bepaal, gelewer word nie,” sê Tian Alberts, woordvoerder van Sakeliga.

“Daar is geen rede in goeie regeringsbestuur waarom Sakeliga ʼn staatsorgaan behoort te dwing om aan ʼn hofbevel gehoor te gee nie. Oor meer as ʼn jaar se versuim en ook minagting van ʼn hofbevel om eenvoudige rekords te oorhandig waaroor enige munisipaliteit wetlik behoort te beskik en vir die publiek beskikbaar moet stel, is daar ʼn paar ooglopende afleidings wat Sakeliga kan maak. Dit sluit in dat die Mogalakwena-munisipaliteit tot so ʼn mate verval het dat dit nie die vermoë het om basiese rekords beskikbaar te stel nie, of dat daardie rekords nie bestaan nie, of dat die rekords so inkriminerend is dat die munisipaliteit dit eerder sal weerhou selfs in weerwil van ʼn hofbevel.”

Alberts sê indien die rekords nie bestaan nie, sou dit nie net bevestiging van ʼn totale gebrek aan finansiële bestuur daarstel nie, maar ook bevestiging van afwesigheid van enige georganiseerde munisipale bestuur.

“Sakeliga merk ʼn tendens in sowel Limpopo as in Noordwes op dat munisipaliteite eenvoudig nie oor die vermoë en/of bereidwilligheid beskik om aan basiese inligtingversoeke kragtens Paia gehoor te gee nie. Sakeliga moes byvoorbeeld in November verlede jaar ook minagting-van-die-hof-verrigtinge van stapel stuur om die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit in Noordwes te dwing om rekords kragtens ʼn vorige hofbevel en inligtingsversoek te oorhandig. Die munisipaliteit het gevolglik die meeste van die rekords oorhandig, terwyl ʼn hele aantal rekords klaarblyklik nie bestaan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.