SAL-hoof tree af, DA voorspel swarigheid

Zuks Ramasia. Foto: SAL

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se direksie het vandeesweek aangekondig dat hy Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerde hoof van die SAL, se vroeë aftrede aanvaar het. Ramasia sal die lugdiens op 14 April verlaat.

Ramasia is in Junie verlede jaar as waarnemende uitvoerende hoof aangestel nadat Vuyani Jarana bedank het. Ramasia was 27 jaar lank by SAL en het voorheen as operasionale bestuurder diens gedoen.

Die DA meen Ramasia se aftrede is moontlik die laaste spyker in die SAL se doodskis. “Die nuus dat nog ʼn uitvoerende hoof van SAL bedank is ʼn verdere aanduiding dat SAL nie gered kan word nie,” het Alf Lees, DA-lid van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), Sondag in ’n verklaring gesê.

Lees voorspel verdere swarigheid vir SAL noudat die sakereddings nóg ʼn verlenging gekry het vir die uitreik van sy plan vir die sukkelende nasionale redery.

SAA-toonbank by Kaapstad- Internasionale Lughawe (14 November 2019) (Foto: Henk Kruger/African News Agency/ANA)

Maroela Media het vroeër berig die sakereddingspraktisyns Siviwe Dongwana en Les Matuson het Donderdag gesê hulle het toestemming van SAL se krediteure gekry om dit nou tot 29 Mei uit te stel. Dit is die sakeredders se tweede uitstelfase.

Volgens Lees vertraag dit net die onvermydelike – die likwidasie van die SAL.

“Hierdie ongekende verlenging van twee maande gaan belastingbetalers miljarde rande kos om SAL se uitgawes soos kontrakteurs en werknemers se salarisse te dek. Om nie eens te praat nie van die miljoene rande wat nou aan Matuson en Dongwana en hul baie duur bykomende personeel en/of konsultante betaal word wat ingevolge die besigheidsreddingsproses aangestel is,” het Lees gesê.

Dít alles in ʼn tyd waarin SAL vir ten minste drie weke feitlik geen inkomste gaan verdien nie weens die algehele landwye afsondering.

Die DA het nou ’n skrywe aan Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gerig om vas te stel hoeveel die sakereddingspraktisyns asook hul konsultante die belastingbetaler kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lorna ·

En daar val hy
Waar is die geld wat klaar na hul gegaan het
Nou lees ek daar gaan nog R……?..?…….. na hul kant toe kom

ElizeK ·

Kry seker ook weer n VET tata pakket.
Weet in elk geval nie hoekom hulle verder “worry” oor SAL nie. Die rommel land het ook nou rommel status bereik.

Jan ·

Die sakeredding was van die begin af maar net n manier om nog n paar miljoen in die kaders se sakke te kry

Grassie ·

Hoe gouer die “swarigheid” kom hoe beter. Hierdie rommelstatusland kan wragtig nie ‘n parasiet, ‘n bloedsuier soos SAL verder dra nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.