SAL: Krediteure gee staat tot dán om sakereddingsplan te wysig

(Foto: Suid-Afrikaanse Lugdiens)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se krediteure het Vrydag gestem om die departement van openbare ondernemings tot Maandag kans te gee om ʼn paragraaf in die lugredery se sakereddingsplan te wysig.

Dié betrokke paragraaf hou verband met ʼn waarborgbrief wat die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en ander leningsfinansierders daarvan verseker dat waarborge wat aan hulle uitgereik is, van krag sal bly totdat die SAL se skuld gedek is.

Die staat het hom verbind tot ʼn waarborg vir die R16,4 miljard skuld wat aan die lugdiens se krediteure verskuldig is. Die leners wil egter hê dat dié geld in hul rekeninge terugbetaal word in plaas daarvan dat dit aan die SAL oorbetaal word om sy verpligtinge na te kom.

“Die uitstaande voorwaarde hou verband met die waarborgbevestigingsbrief wat deur die leners vereis word. Die brief is reeds voorberei en aan die regering gestuur om af te teken,” het die SAL se reddingspan gesê.

Die span het verduidelik dat die sakereddingsplan as onuitvoerbaar geag sal word indien die krediteure se voorwaardes wat paragraaf 42.1 van die sakeplan betref nié teen Maandag nagekom word nie. Die krediteure sal dan Donderdag ʼn vergadering belê om die sakereddingsplan te wysig.

Indien nie moontlik nie, sal die krediteure ten gunste van likwidasie beslis.

Maroela Media het vroeër berig die SAL se krediteure het vroeër vandeesmaand die sakereddingsplan goedgekeur.

Tito Mboweni, die minister van finansies, en Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, het intussen onderneem om finansiering beskikbaar te stel vir die SAL vir sy onmiddellike en langtermynbehoeftes in die uitvoer van die sakereddingsplan.

Die departement het bevestig die sakereddingsplan vereis ʼn bedrag van R10,1 miljard om die plan te finansier, die balansstaat te stabiliseer, die res van die groep te herstruktureer, asook werkskapitaal beskikbaar te stel vir die res van die groep se entiteite om ʼn stabiele en lewensvatbare platform te skep.

Volgens die plan sal sowat 2 700 werknemers teen ʼn koste van R2,2 miljard afgelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lorette ·

Wel, dit is per slot van sake die krediteure se geld wat hier in gedrag is, of hoe?

Deon ·

Is dit nie die regte ding om te doen nie? Hulle moet mos na hul geld kyk, die SAL sal dit net vermors as dit nie na gekyk word nie…

Annelize ·

Ek dink dis hoogtyd dat hulle hul voet begin neersit en duidelike DO’s and DONT’s voorlê…

Pieter ·

Dit is ‘n absurde proses. Mense stem vir sakeredding, maar niemand weet waar die geld vandaan gaan kom nie. Tito/ANC wil ons pensioengeld vat, maar het die pensioenbegunstigdes gestem op hierdie vergadering? Lekker om te stem om geld te kry en ander in die proses in te doen.

capie ·

As die krediteure onverskillig geld aan die SAL geleen het wetende dat dit ‘n hele korrupsie spul is, sal hulle maar die punch moet vat. Volgens my wete moet salarisse eerste betaal word en eers dan kom die ander in aanmerking. Die belasting betaler kan nie opdok vir onverskillige geldleners nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.