SAL-raad, vakbonde in gesprek

(Foto: flysaa.com)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens sê hy is in gesprek met vakbonde oor werkers se eise, maar sê sommige daarvan kan net deur die regering opgelos word.

Vakbonde het Vrydag gesê die staatslugdiens het ʼn week om te handel met hul eis dat Vuyani Jarana as uitvoerende hoof van SAL heraangestel word en die lugdiens se raad aangepas word.

Die National Union of Metalworkers (Numsa) en die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kajuitpersoneel (Sacca) het Donderdag met die SAL-raad vergader oor werkers se griewe, ná Jarana se bedanking twee weke gelede.

Die vakbonde se grootste eis is dat Jarana dadelik heraangestel word, nadat hy ʼn omkeerstrategie begin implementeer het wat die steun van die regering, die raad én die vakbonde gehad het.

SAL se kajuitbemanningslede word deur Sacca verteenwoordig, terwyl Numsa-lede by SAL se tegniese afdeling (SAAT) en by lughawens oor Suid-Afrika werk.

SAL-woordvoerder Tlali Tlali het bevestig dat die redery die memorandum met die twee vakbonde se griewe ontvang het en kennis geneem het van die spertyd van sewe dae.

“Sommige van die kwessies val onder die gesag van die aandeelhouer (regering), terwyl ander deur die raad en uitvoerende bestuur opgelos moet word,” het Tlali gesê.

“Ons het reeds met die vakbonde oor die kwessies begin praat en Donderdag met die werkers se vakbonde vergader.”

Tlali het gesê dit sou onbehoorlik wees en grens aan ondermyning van die proses tussen SAL en die vakbonde as die redery in die media kommentaar sou lewer oor belangrike kwessies of eise van die vakbonde.

“Regverdigheid vereis dat ons eerste en direk met die vakbonde praat, sodat hulle nie van ons reaksie in die media kennis neem nie,” het hy gesê.

SAL het verlede Vrydag vir Zuks Ramasia as die nuwe, waarnemende uitvoerende hoof van die redery aangewys. Adam Vos is die nuwe hoof van SAAT.

Vakbondlede het by al die grootste lughawens in die land betoog om hulle misnoeë met probleme by SAL te kenne te gee.

Hulle het die raad aanvanklik 48 uur gegee om sy besluit om Jarana se bedanking te aanvaar, op te skort en hom onmiddellik weer aan te stel.

City Press het gister die woordvoerder van die departement van openbare ondernemings, Adrian Lackay, aangehaal as dat daar geen kans is dat Jarana gaan terugkom om SAL te lei nie.

“Die voormalige SAL-hoof het self besluit om te bedank. Hy gaan nie heraangestel word nie. Die manier waarop hy bedank het, ten spyte van die raad se versoeke dat hy verantwoordelik is wat betref sy bedanking, het die lugredery blootgestel as beduiende risiko’s by kredietverleners en verskaffers,” het Lackay aan die koerant gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Hansie Slim ·

Jarana weet daar is geen salf te smeer nie.
Maak SAL toe en stel die goeie werkers by ander lugrederye aan sodat hulle kan leer wat werk is!!!

Andre Potgieter ·

Van wanneer af steur SAL hulle aan regverdigheid? Hulle weet mos dat die regering altyd ons geld sal gebruik om hulle uit te ‘bail’

Gert van Wierdapark ·

Die ENIGSTE Omkeer-strategie wat sal werk, is om die paar SAL vliegtuie terug in SA te kry, en hul dan “Op Hok” te sit sodat almal wat nog ‘n eiertjie oor SAL te le het, saam met die vakbonde ens, dit op die Hoenderstallasies langs die vliegtuig-rompe kan gaan doen! ” Finish en Klaar”.

John ·

Jarana is dalk nie heeltemal so onskuldig nie. Hy het dalk die unies ingelig oor sy eise en griewe… en dat die bestuur te betrokke is en hy ‘n vrye hand wil hè. Wat weet die unies oor sy planne waarvan hulle so baie gehou het. Iewers is daar in slang in die vliegtuig… Hoekom hou die unies so baie van hom?

Linda Merwe ·

Raak ontslae van die dooie hout. Kry besigheidsmense om hierdie belastingrowers te bestuur en maak skoon..of beter nog privatiseer. Hierdie dat dooie, korrupte staatsinstansies tot alke prys aan die gang gehou word, is vir die voëls.

Dries du Toit ·

Gee SAL net weg. Verkoop sal nie kan gebeur nie. SAL se skuld is baie groter as sy bates.

JanBotha ·

Google gerus. “pampered SAA pilots” Dan verstaan jy die probleem beter.
Die unies het die regering aan die kort hare beet.

Andre Coetzee ·

Privatiseer of maak toe.Tyd dat die vakbonde leer dat almal nie gaan spring as hulle ontevrede is nie.

fred ·

maak hulle toe..daar is genoeg ander rederye wat winsgewend is…en leer die dom vakbonde n les

Sieg ·

Seker maar baie belowe, nou sien hy self die sal nooit gebeur nie.

marous ·

Wil nie meer hier werk nie want die plek is verrot . Nee jy MOET hier werk anders brand ons alles af ..

George in Bloem ·

Van wanneer af het enige unie enige blerrie se wie watter werk moet doen? Hierdie patetiese onbevoegde korrupte ANC spul het ‘n lekker lat vir hulje eie aterstewe gepluk deur vir die unies soveel mag te gee. Die res van die wereld lag vir die spul patete en groot mynhuise vat al hulke bates landuit. Kan enige iemand hulje blameer en wanneer gaan die spul ANC idiote wakker skrik? Indien ooit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.