SAL: Sakeredders moet verduidelik

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Die DA sê hy het groot respek vir en simpatie met werkers by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wat nou deur ʼn bitter onseker toekoms in die gesig gestaar word. Elke moontlike poging moet aangewend word om ʼn billike skeidingspakket vir hulle te beding.

Maroela Media het vroeër berig werkers by die sukkelende lugdiens het nou tot Vrydag kans om die voorgestelde afleggingsooreenkomste te onderteken.

Die besluit kom nadat die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, Saterdag ʼn hoëvlakvergadering tussen die regering, vakbondverteenwoordigers en ander werkersverteenwoordigers gelei het om die status van die sakereddingsproses te bespreek.

Die departement en vakbonde het ooreengekom op ʼn gedeelde visie van ʼn “nasionale bate wat internasionaal mededingend, lewensvatbaar, volhoubaar en winsgewend is”.

“Die leierskap is deeglik bewus watter uitdaging dit is, maar is onomwonde verbind daartoe om die SAL te red,” het die departement ná die vergadering gesê.

Alf Lees, ʼn DA-lid van die parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge, het Sondag gesê dit is tyd dat die minister hom aan die proses onttrek en die sakereddingspraktisyns – Les Matuson en Siviwe Dongwana – toelaat om hul werk te doen.

“Oor ʼn tydperk van vyf maande het hulle herhaaldelik die bekendstelling van ʼn sakereddingsplan vertraag en dit lyk of nog R5,5 miljard in belastinggeld daarmee heen is,” het Lees gesê.

“Die geld wat aan die sakeredders en konsultante betaal is, beloop luidens berigte gemiddeld R60 miljoen per maand. Ons wag nog vir ʼn antwoord op ʼn parlementêre vraag aan die minister oor of dié inligting korrek is.”

Hy sê tensy daar private beleggers aan die deur klop, is die likwidasie van die SAL onvermydelik. Uitstel deur die sakeredders gaan net die koste van die proses verder opjaag.

“Enige poging wat aanhou geld mors op ʼn wanfunksionele instelling soos die SAL is verraad aan alle Suid-Afrikaners wat met hoë werkloosheidsvlakke en ʼn wankelende ekonomie sit.”

Die DA sê hy win ʼn regsmening in oor watter stappe gedoen kan word om te verseker dat Matuson en Dongwana verantwoordelik gehou en gedwing kan word om tersaaklike bepalings in die Maatskappywet te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Die Wolf

Ek ruik iets stink?

Manie

Die bedrae verklaar die versoeke vir uitstel. Die sg sakeredders behoort vervolg te word.

Eerlik

Klink soos opsetlikke uitstel….hoe langer dit vertraag word hoe meer geld in die sakke!!!

Deon

MAAK PLEK TOE!!!!

Danie

Ag asseblief tog. Hier gaan ons alweer. Die SAL se beplande aflegging is natuurlik teleurstellend vanuit beide werkverskaffing oogpunt en nasionale trots. Die skrif is egter lank reeds aan die muur en dit is ons regering se skuld in wese, wat toegelaat het dat die SAL homself bestuur asof dit ‘n staatsdepartement is, in stede van ‘n besigheid. Geensins verbaas dat die DA weereens sy seile na die wind gooi en skielik vir die paweljoene skree nie. Hulle voel seker maar gesamentlik verantwoordelik vir die faling van die SAL en dekades se verkwisting van staatsgeld nê? Van die minister praat… Lees meer »