SAL staak alle plaaslike vlugte buiten Jhb-Kaapstad

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens staak vanaf 1 Maart 2020 alle plaaslike vlugte vir Durban, Oos-Londen en Port Elizabeth, het die maatskappy se sakereddingspraktisyns Donderdag gesê.

Die lugdiens is sedert Desember in vrywillige sakeredding geplaas.

Les Matuson en Siviwe Dongwana het gesê kragtens die SAL se verbintenis om dringende stappe te doen om kontant te spaar en ʼn lewensvatbare platform te skep vir ʼn suksesvolle toekoms, moet sleutelmaatreëls “nou” ingestel word.

Dié maatreëls sluit in veranderinge aan sy vlugnetwerk, die ontplooiing van meer brandstofdoeltreffende vliegtuie, optimalisering van organisasiestrukture en dat daar weer met verskaffers onderhandel word oor sleutelkontrakte.

“Die inisiatiewe wat ons nou instel, sal SAL se onderneming versterk. Ons glo dit behoort versekering te bied aan al ons lojale passasiers dat die SAL in die regte rigting beweeg. Ons is gefokus op ons mandaat om die SAL se kommersiële gesondheid te herstel en ʼn lugdiens te skep waarop Suid-Afrikaners trots kan wees.”

Die sakereddingspraktisyns het gesê SAL sal steeds voortgaan met sy internasionale dienste tussen Johannesburg en Frankfurt, Londen (Heathrow), New York, Perth en Washington via Accra.

Streekdienste wat behou word, sluit in vlugte van Johannesburg na Blantyre, Dar es Salaam, Harare, Kinshasa, Lagos, Lilongwe, Lusaka, Maputo, Mauritius, Nairobi, Victoria Falls en Windhoek.

Internasionale en streekvlugte van SAL wat vanaf 1 Maart opgeskort word, is Johannesburg na Abidjan via Accra, Entebbe, Guangzhou, Hongkong, Livingston, Luanda, München, Ndola en São Paulo.

SAL sal steeds Kaapstad “op ʼn verminderde basis” bedien.

Alle ander plaaslike bestemmings, insluitend Durban, Oos-Londen en Port Elizabeth, sal vanaf 29 Februarie 2020 beëindig word.

Plaaslike roetes deur Mango Airlines word nie deur die veranderinge geraak nie.

“Alle passasiers wat op enige gekanselleerde internasionale of streekroetes bespreek is, sal ʼn volle terugbetaling ontvang. Passasiers wat op gekanselleerde plaaslike roetes bespreek is, sal deur Mango geakkommodeer word.”

Geen ander “beduidende” roeteveranderings word verwag nie, aldus die sakereddingspraktisyns en die vlugskedule vir Februarie bly dieselfde.

“Alles moontlik word gedoen” om werkverliese by SAL en sy filiale te beperk en herstrukturering sal gedoen word met die oog daarop om poste te behou. “ʼn Vermindering in die getal werknemers sal ongelukkig nodig wees,” het die sakereddingspraktisyns bygevoeg. Hulle sal met vakbonde in gesprek tree “om ʼn oplossing te vind vir ʼn volhoubare lugdiens”.

Hulle verwelkom ook en ondersteun die president se opdrag dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek sal instel na die lugdiens se kontrakte. “Hierdie maatreël sal dit moontlik maak om lewensvatbare kontrakte te assesseer en die SAL se kostebasis te verminder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kiepie ·

Die eerste ding wat die sakereddingskonsultante moes gedoen het is om die salarisrekening te verminder. Volgens (onbevestigde) berigte is SAL se werknemers-tot-vliegtuig verhouding die hoogste van enige internasionale redery. Maar hulle doen eerder “alles in hulle vermoeë om werksverliese te voorkom”.

Peetjie ·

En wie moet ons bedank? Die liewe Unies wat n staking veroorsaak het wat 50 milj n dag gekos het… Wat bring dit hulle nou in die sak

Zombie ·

Wat is die gemene deler in al hierdie mislukte staats- en semistaatsinstellings wonder ek.

123 ·

Natuurlik sal hulle nog tussen Johannesburg en Kaapstad vlieg, anders sal LP’s soos gewone mense behandel word op ander lugrederye.

Stefan ·

Daar sal baie poste tot niet moet gaan.
944 was oorbodig terwyl SAA nog al die roetes gevlieg het, dus nou met aansienlik minder vlugte sal baie meer poste tot niet moet gaan.
Na die laatste staking vir ‘n hoër as inflasie verhoging kry ek hulle ook nie eers jammer nie.

Andries ·

Ek wonder nou net of SAL, di Eskom ‘roete’ begin volg: gebruik asb minder elektrisiteit – vlieg minder om meer geld te maak EN spaar…

henndrik ·

Om werknemers te verminder is politieke selfmoord so hulle sal liewer die hele SAL vernietig. Die regering se oplossing vir alle swak diens en swak groei was nog die hele tyd om nog mense aan te stel en meer te betaal, niemand dink daaraan om net te kyk dat die wat daar is hulle werk doen nie (produktief wees) en as hulle nie kan nie, vervang met iemand wat wek kan

charmaine ·

Begin van bo af skoon maak soos Kiepie se kyk na salarisse, die top struktuur did hulle, soos in enige werksplek wat die meeste skep.

Misky ·

Maak net die deure toe en kry klaar!!!!! Dis n sinkende skip en onvermydelik

Namib ·

Dit is absoluut SKOKKEND dat ‘n eens vooruitstrewende land soos SA se nasionale lugdiens besig is om ineen te stort.

Kallie Kraamkettie ·

Ek sal my beste probeer om nie met SAL te vlieg nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.