Salarisgeskil in staatsdiens stuur op hofstryd af

Argieffoto van ‘n Cosatu-betoging deur lede van Numsa

Die voortslepende salarisgeskil tussen die regering en staatsdiensvakbonde stuur op ʼn hofgeding af wat die hele nasionale begroting in die gedrang kan bring.

Daar is in elk geval ʼn groter wordende aandrang in ekonomiese kringe dat die begroting oorgedoen sal moet word omdat die enorme onvoorsiene uitgawes weens die bevegting van die koronavirus nie in berekening gebring is nie.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het sy begroting daaraan gehaak dat die staatsdiens se salarisrekening miljarde minder sal wees as waarvoor in die mediumtermyn-bestedingsraamwerk begroot is.

Staatsdiensvakbonde maak egter nou die rug styf in onderhandelings met die staat as werkgewer, en die vakbonde blyk die hef in die hand te hê omdat die regering homself skriftelik vir drie jaar tot spesifieke salarisverhogings verbind het.

Hiervan is nog net twee jaar afgeloop, maar die staat se finansiële posisie is nou so benard dat die staat daarvan afgewyk het deur aanvanklik 0% aan te bied.

Minister Tito Mboweni tydens sy toespraak by die begrotingsrede (Foto: South African Government, Twitter)

Toe dit aan die lig kom dat regters, landdroste en amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, wie se salarisse op ʼn ander manier as ander staatsamptenare s’n bereken word, almal ʼn verhoging van 4,1% gekry het, was die gort gaar.

Vakbondbronne het aan Maroela Media bevestig dat staatsdiensvakbonde oor ideologiese verdelingslyne heen verenig is. Die meerderheid vakbonde meen al wat benodig word, is ʼn verklarende bevel of uitvoeringsbevel van die arbeidshof – wat na hulle mening ʼn noodwendigheid is gegewe dat die staat deur die driejarige geskrewe ooreenkoms gebind word.

Die jongste is dat die staat ʼn verhoging van 4,4% aanbied, maar slegs vir posvlakke 1 tot 7, en daar is twee komplikasies wat na die mening van die vakbonde die water vertroebel.

Die eerste komplikasie is dat 3% van die voorgestelde 4,4% as ʼn eenmalige bedrag uitbetaal sal word, en dus glad nie ʼn salarisverhoging is, met die kumulatiewe uitwerking van ʼn ware salarisverhoging nie.

Die tweede komplikasie volgens die vakbonde is dat die volledige bedrag wat vir bogenoemde veranderings aan die betaalvlakke vir posvlakke 1 tot 7 begroot is, kom uit die geld wat eintlik vir kerfverhogings bedoel is, sodat geen kerfverhogings vanjaar sal plaasvind nie.

Dit sou beteken dat Mboweni se stelling dat die staatsdiens se salarisrekening dieselfde sal bly as verlede jaar korrek is, al het die minister van staatsdiens en administrasie, Senzo Mchunu, hierdie week gesê die staat hou hom aan ooreenkomste, maar weet nie tans hoe om dit reg te kry nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JC Venter ·

Nou ja toe, so gaan Korona Covid vir nog baie waarhede sorg, dat die mens gedwing word om die realiteit in die oë te kyk, herbesin hoe hy dinge doen, prioriteite herrangskik, ook as gevolg van die ekonomie wat gaan krimp en daar nie geld gaan wees wat die ANC-regering kwistig mee kan handel nie, as daar enigsins sal wees, mag Korona Covid ook vir die einde van die ANC se ideologie verantwoordelik wees.

Die vet is in die vuur.

JC Venter ·

Maar ongeag hierdie gevaartekens sal die ANC sy hart verhard en nie van sy kommunistiese Sosialistiese ideologie afstand doen nie.

Wilma ·

Ek is seker indien die vet katte ook geen verhoging gekry het nie, Soos gesê, sou daar nie so groot ho ha gewees het nie. 4% om 2500.00 per maand en 60 000.00 maak ‘n groot verskil. Dalk moes hulle die vet katte 1% gegee het en die laer groepe die 3.5%.

JC Venter ·

Aardklop maak bekend dat hulle voorlopig, gedurende die September-vakansie, met die kunstefees voortgaan, en die kommentare onderaan die berig gaan mal van negatiewe reaksie dat die mense in dié tyd van krisis nog daaraan kan dink.

Die vakbonde van die regeringsamptenare, sien mens, veg in dié tyd om salarisverhogings vir hul lede omdat die regering aangekondig het dat daar nie gaan wees nie, in teenstelling daarvan dat regters, landdroste en amptenare van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, wie se salarisse op ʼn ander manier as ander staatsamptenare s’n bereken word, almal ʼn verhoging van 4,1% gekry het.

Nou waarom gaan die mense insgelyks nie mal daaroor nie dat daar mense in die tyd van Korona Covid dit enigsins kan waag om aan die materiële te dink.

(Per die betoger, voor sý pyn nie gehoor word nie, sal niémand met sy lewe aangaan nie.)

Stefan ·

Dank 10% af, ons sal dit nie eers agterkom nie, hulle kan somer self bepaal wie moet waai.
Tog te gek om te dink ons moet almal finansieel krepeer as gevolg van Corona en hulle vereis verhogings, waar moet dit vandaan kom.

Tino ·

Roer daai potjie vakbonde roer hom. Dis al waarvoor julle goed is, julle gaan julleself uit ‘n bestaan uit roer. Hoe gouer hoe beter sodat die ekonomie van die land kan herstel en al die vuilgoed uitdun.

Ek kry solank my springmielies, hierdie gaan ‘n goeie fliek/geveg wees

Mieke ·

En intussen is ons ook nog na rommel status afgegradeer….

Okmardom ·

Vir my werkers beteken afgradering nie veel nie, of sê liewer hulle verstaan dit nie. Die persoon wat die salaris betaal sal net meer moet betaal, en hy verstaan die probleem en moet sy besigheid red met meer produksie, en dit verstaan die werkers nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.