Salaristrekkers rasend oor fout by Standard Bank

Argieffoto. (Foto: Nico Strydom/Maroela Media)

Duisende salaristrekkers wie se werkgewers kliënte van Standard Bank bank, is rasend nadat ʼn skynbare fout daartoe gelei het dat hulle salarisse nie Vrydag, die 25ste van die maand, in hul rekeninge inbetaal is nie.

Moedelose werknemers het hulle tot Facebook gewend om stoom af te blaas nadat hulle nie gister salarisse gekry het nie en talle debietorders nie kon afgaan nie. Teen vroeg Saterdagoggend was van die salarisse oorbetaal, maar sommige werkers het steeds gewag vir hul geld, aangesien die geld nie onmiddellik in werkers se rekeninge gewys het nie.

Volgens ʼn plasing op Capitec se Facebook-blad, het dié bank teen Vrydagaand nog nie salarisse ontvang wat van Standard Bank na werknemers wat by Capitec bank, betaal moes word nie. “Dit is weens tegniese probleme aan Standard Bank se kant. Ons onderneem om dit te betaal so gou as wat ons die geld onvang. Werknemers word aangeraai om hul werkgewers te kontak om met hul bank te gesels,” lui die plasing.

Woedende werkers het hul misnoeë op Standard Bank se Facebookblad te kenne gegee:’ “Ek het nie eers geld om by die werk uit te kom nie, my kinders het niks om te eet nie,” het een werknemer vroeg Saterdagoggend geskryf.

“Maandag gaan ek reguit na my vakbond om te vra dat my maatskappy van bank verander. Ons het begrotings en planne in die lewe en alles het nou gaan stilstaan weens hierdie nuttelose bank,” het Vhonani Makharamedzha geskryf.

Zelda Lombaard, nog ʼn woedende werknemer, het antwoorde by die bank gesoek. “Ons wil weet wat gebeur het, hoe dit gebeur het en wat julle gaan doen om seker te maak dit gebeur nie weer nie,” het sy op Facebook geskryf.

Standard Bank het op sommige van dié skrywes gereageer. “Ons kan verseker dat ons bewus is van die probleem en besig is om aandag te gee aan die saak. Die geld sal binnekort in jou rekening wees. Ons vra opreg om verskoning vir enige ongerief wat deur hierdie vertraging veroorsaak is,” lui een só ʼn antwoord.

Nog ʼn antwoord lui, “Ons verstaan jou frustrasie heeltemal. Dit is ons hoogste prioriteit om hierdie probleem op te los.”

Die oorsaak van die probleem is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Janice ·

Moenie net verskoning maak nie Standard Bank. Bied aan om die kostes te dra vir mense wie se debiet orders nie kon afgaan nie. Nou dit sal wys julle heg waarde aan julle woorde.

Jannie van Niekerk ·

Gaan Standard Bank die boete ook terug betaal vir die debietorders wat onbetaald terug gestuur is? Ek sal nogal grrag ‘n antwoord op hierdie forum wil sien, maar ek twyfel sterk of daar een gaan wees.

Racheltjie Debeer ·

Standard Bank se diens word almeer pateties. Mens kan amper nie van diens praat nie. Hulle is eenvoudig onopgelei en het nie die vaagste benul wat hul doen nie. Hul werk dan nogsteeds van die huis af al is die Covid regulasies opgehef!

Lillian ·

Ag asseblief, dis nie die eerste keer nie, dit het al voorheen gebeur. SBSA moet maar die kostes dra van die debiet orders wat nie betaal kon word agv van hul nalatigheid.

Annamarie ·

Jare gelede self by Standard Bank gewerk, hulle doen gewoonlik nie wat hul se. “Jy werk elke tweede Saterdag” Dan ewe skielik skop die realiteit in, en werk jy sommer vir sewe Saterdae, agter een volgend!! Dankie, vir al die verlore gesinstyd wat ek nooit sal kan inhaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.