SA’ner in Oekraïne: ‘Ons hoop vir die beste’

Eben Viktor is ‘n Suid-Afrikaners wat in Dnipro, in Oekraïne, woon. (Foto: Eben Viktor)

Hulle het Donderdag om 05:00 wakker geword met die geluid van ontploffings. Dit was ʼn veraf dreuning, amper soos swaar weer. Maar daar was nie ʼn wolk in die lug nie.

Terwyl miljoene mense die Russiese aanslag op Oekraïne regstreeks op televisie dophou, is die werklikheid vir miljoene ander veel nader. En veel gevaarliker.

“Ek is bang, ja. Bang, maar ook senuweeagtig …” sê Eben Viktor, ʼn Suid-Afrikaner wat al die afgelope sowat 20 jaar in Dnipro, ʼn stad in die ooste van Oekraïne, woon.

“Dan is daar ook ʼn gevoel van vernedering, dit is iemand wat jou wil kom onderdruk. Die meeste Oekraïners het mos lankal hul keuse gemaak. Hulle het in 2014 [tydens Oekraïne se revolusie] besluit hulle wil Westers wees.

“Daar is natuurlik mense wat Russies-georiënteerd is. Die meeste mense hier wil egter vry wees en vooruitgaan in die lewe.”

Oekraïne het ná die 2014-revolusie sy handelsbande met Rusland afgeskaal en al hoe meer sake met onder meer Westerse lande begin doen – tot Poetin se groot frustrasie. “Poetin wil nie ʼn vooruitstrewende Oekraïne hê nie; hy is bang daarvoor,” sê Viktor.

Hy sê die bewering dat lede van die Oekraïense regering handpoppe van die Weste is, is loutere onsin en dat Rusland nie Oekraïne se soewereiniteit erken nie.

“Dit is ʼn drogbeeld. Hy wil ʼn droom vervolmaak om die ou Tsaristiese Rusland onder sy beheer te kry.”

Oekraïne is een van die armste lande in Europa, maar Viktor sê die land se mense werk hard om hul omstandighede te verbeter, veral deur onderrig. Talle Oekraïners is ook hoogs geleerd.

Even Viktor en sy vrou, Ira. (Foto: Verskaf)

Waar hy en sy vrou, Ira woon, praat baie mense Russies, maar die meeste praat Oekraïens. Hy verstaan self Russies, terwyl Ira se moedertaal Russies is, maar sy ook Oekraïens kan praat. “Poetin se storie is as jy Russies praat, behoort jy aan Rusland. Dit is soos om te sê almal wat Engels praat, behoort aan Engeland.”

Viktor sê hulle het verlede week begin navraag doen oor moontlike skuilplekke indien die stad regstreeks aangeval word. “Hier ís, maar niemand weet waar die sleutels is nie. ʼn Mens kan skuil in kelders van geboue en ons sal vandag kyk waar daar vir ons ʼn plek is.”

Talle mense het hulle begin voorberei op ʼn moontlike inval en daar is heelwat paniekaankope gedoen. Daar was ook swaar verkeer waar mense die gebied probeer verlaat het.

“Ons is by die huis vandag. Ek het vanoggend oor die nuus gehoor mense het hulle probeer voorberei, maar jy het altyd daardie bietjie hoop gehad dat die ergste nie gaan gebeur nie.”

Nou lyk die situasie skielik veel anders.

“Vooraf was jy bang ʼn inval gebeur, maar nou is dit ʼn ander vlak van spanning, stres en vrees,” sê hy.

Inwoners sal weerstand bied

Die strate van die stad was vroegoggend verlate en mense hoop vir die beste. (Foto: Eben Viktor)

Talle mense is lid van die burgerlike verdedigingsmag en Viktor sê hy twyfel of hulle gaan terugsit terwyl Rusland aanval.

“Dit beteken dit kan ʼn volskaalse oorlog in die strate word. Poetin wil hê Oekraïne moet kapituleer. Die enigste alternatief hierteen is weerstand – en weerstand kan ʼn lelike ding beteken.

“Ons volg die nuus. Ons hoop vir die beste en kyk wat gebeur. En ons probeer om nie paniekerig te raak nie.”

Die skole in die omgewing van hul huis is gesluit en die strate was vroegoggend grootliks verlate. Diegene wat dit wel buite gewaag het, het met groot inkopiesakke geloop, terwyl hulle voorraad in afwagting van enige toename in geweld gaan aankoop het.

“Gewoonlik loop hier baie ouers met hul kindertjies, vandag is alles stil. Hier is baie min mense op straat.”

Oekraïnse burgers in Libanon betoog teen die aanval op die land. (Foto: Joseph Eid/AFP)

Oekraïne se president, Wladimir Zelenski, het vroeër krygswet ingestel en Viktor sê hoewel Poetin sê burgerlikes word nie geteiken nie, vermoed hulle enigiemand wat weerstand bied, kan wel ʼn teiken word.

“My voorspelling is egter dat Oekraïners hierdie inval nie sonder slag of stoot gaan aanvaar nie.”

Viktor het vantevore in Suid-Afrika skoolgehou. Die hoof van ʼn nuwe internasionale skool in Dnipro was ʼn Suid-Afrikaner en het in Suid-Afrika kom onderwysers werf. Vir Viktor was dit die kans op ʼn nuwe avontuur en die betaling was goed, en hy het hom dus in 2001 in Oekraïne gevestig.

Hy is drie jaar later met Ira, ʼn Oekraïense vrou, getroud wat hy by die skool ontmoet het. Ira se ouers woon ook in dié gebied. “Hulle is bejaard en kan nêrens anders heen gaan nie,” sê Viktor.

“Ons moet nou vasbyt. Dit is senutergend en jy vind jy is heeltyd op jou hoede. Jy luister vir ontploffings.

“ʼn Mens raak gewoond aan die lewe hier. Dit word jou plek en hierdie gebeure laat ʼn mens nie onaangeraak nie. Dit is nie net ʼn kwessie van jou tassies pak en hardloop nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Althes ·

In die Naam van Jesus Christus, wees Oekraine en sy burgers genadig en verlos hul van die diktatorskap van Rusland. In Jesus Naam. Amen.

Marthinus W ·

Met alle respek vir jou gebed: Eben wil nie vertel hoe Christene en Jode vermoor en aangeval word nie. Daar is verregse groepe wat die Nazi-saluut maak en soortgelyke uniforms dra; dit is die Azof-bataljon (wie se logo die wolfsangel is), en Swoboda (wat deur die EU as onwettig verklaar is). Hulle verf bv die woorde SMIERT DJUDEN (dood aan die Jode) op sinagoges.
Althes, ons moet bid, maar, dat geregtigheid sal seevier.

Martin ·

Hierdie is ‘n baie moeilike en delikate situasie. Stel jouself voor ‘n ander land se weermag besluit om Suid Afrika binne te val…! Baie siviele mense sal natuurlik veg vir ons land en daar sal baie lewensvelies wees van onskuldige mense. In die geval in Oekraïne, indien jy as ‘n siviele persoon teenstand bied teen Rusland stel jy dadelik jou en jou familie se lewens in gevaar. Op ‘n meer ernstige noot, vir die siviele mense in Oekraïne wat besluit om “‘n stand te maak” baie sterkte vir julle.

Charl ·

“………is ‘n Suid-AfrikanerS wat……”???? Berig defnitief nie geredigeer voor plasing.

Maggies ·

Is dit regtig nodig om ‘n drukfout uit te soek in hierdie omstandighede? Is jou spelling en woordeskat áltyd foutloos?

Susan ·

Een ‘s’ per ongeluk. Beslis nie defnitief nie maar definitief as ons nou in hierdie hartseer omstandighede spel-of drukfoute wil uitwys.

Susan ·

Dries, hoe weet jy daardie twee mense, my familie, bid nie heeldag nie? In die woord ‘hoop’ lê ook baie meer opgesluit as wat mens dink.

Susan ·

In die woord ‘hoop’ lê baie meer opgesluit as wat mens dink. Hierdie twee mense, my familie, bid beslis in hierdie haglike omstandighede.

Anton ·

Hoekom word my kommentaar verwyder? Email my asb. Ek sal graag wil weet hoekom as my mening verskil my stem stil gemaak word?
Is dit omdat ek Putin spel en nie Poetin nie?

Janice ·

Ek hoop regtig Sud-Afrikaners wat so gedurig oorlog oorlog skree, lees die artikel en neem dit ernstig op

Waarnemer ·

En hier begin die 3de wereld oorlog….Rusland teen die Ukraine en Brittanje,Frankryk en wie weet watter lande nog wat die “:guts” het om teen die magtige Russiese weermag op te staan…behalwe slapgat Joe Biden en sy Amerikaanse weermag….(Die wereld se sterkste weermag!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.