SA’ner kom tweede in Antarktika-marathon

Mauritz Jansen van Rensburg in Antartika. (Foto: Verskaf)

’n Suid-Afrikaner van George in die Wes-Kaap het die afgelope naweek die tweede plek in ’n marathon in Antarktika behaal.

Mauritz Jansen van Rensburg (48) het Vrydag die jaarlikse Antarctic Ice Marathon van 42,2 km te midde van bibberweerstoestande in drie uur, 43 minute en 12 sekondes voltooi.

Jansen van Rensburg vertel Woensdag aan Maroela Media dat hy vanjaar die Boston-marathon, Chicago-marathon en New York-marathon in Amerika voltooi het. Dit was egter letterlik volksvreemde terrein toe hy verlede week ’n marathon in die Arktiese sirkel van Antarktika aangepak het.

Jansen van Rensburg kom oorspronklik van Bloemfontein in die Vrystaat en hardloop reeds meer as 40 jaar. Hy is die afgelope tien jaar ’n heeltydse aanlyn afrigter en rig onder meer ’n groep Amerikaanse atlete af. Dit is danksy dié groep dat hy hom in Antarktika bevind het.

Jansen van Rensburg vertel dat die groep hom ’n paar maande gelede genooi het om saam met hulle die marathon aan te pak. Aangesien hy sy vorige internasionale wedlope onder drie uur voltooi het, het Jansen van Rensburg verwag om goed te vaar in die Antarctic Ice Marathon en moontlik onder die top-10 te eindig. Nooit het hy gedink dat hy tweede sou kom nie, erken hy.

Jansen van Rensburg het Amerika toe gevlieg om hom by die groep aan te sluit waar hulle via Punta Arenas in Chili na Antarktika gevlieg het. Hiér het hulle met ’n Russiese vliegtuig op ’n ysgletser geland. “Dit is so ’n storie om daar uit te kom. Dit is eintlik vir almal daar ’n nuwe ding.”

Hy verduidelik dat deelnemers aan die Antarctic Ice Marathon ’n vensterperiode van drie dae het om aan die marathon deel te neem aangesien die weer nie altyd saamspeel nie.

Mauritz Jansen van Rensburg in Antartika. (Foto: Verskaf)

Jansen van Rensburg het Vrydag in temperature van -13 grade Celsius weggespring. Toe hy later teen die wind hardloop, het die temperatuur verder gedaal tot -20 grade Celsius.

Hoe berei ’n mens voor vir dié uiterste weerstoestande? Jansen van Rensburg vertel dat deelnemers aanbeveel word om drie lae klere en waterdigte hardloopskoene te dra.

“Jy moet jou voorberei vir ongelyke terrein. Jy hardloop op ys wat amper geploeg is. Dit voel amper soos laagwatersand by die see aangesien jy so ’n sentimeter diep in die grond in trap. Trialrunning is ’n goeie manier om voor te berei.”

Hy vertel dat daar twee punte op die marathon se roete is waar deelnemers lou water en Coke te drinke gekry het, saam met droëvrugte. “Dit is die eerste keer in my lewe dat ek warm water gedrink het tydens ’n marathon,” lag Jansen van Rensburg.

Die skoonheid en stilte van Antarktika het hom verstom. “Die stilte is amper oorverdowend.

“Hulle slaan ’n kamp op vir vier maande van die jaar. Daar is ’n lang tent wat die kombuisgedeelte is waar vrywilligers kos maak. Dan is daar badkamers. Enige vullis of afval word weekliks met vliegtuie teruggeneem Chili toe. Dit wat daar is, wil hulle beskerm. Dit het my verstom hoe hulle daardie plek so ontsettend mooi oppas,” vertel hy.

Jansen van Rensburg vertel ook dat die son nie in Antarktika ondergegaan het terwyl hy daar was nie. “Die son skuif net in die lug. Jy moet ’n sonbril ophê wanneer jy 03:00 in die oggend opstaan om ’n draai te loop.”

Nog twee Suid-Afrikaners, Johan en Molene Scheepers, het vanjaar die Antarctic Ice Marathon voltooi. Dit was die sewende kontinent waarop hulle ’n marathon voltooi het, vertel Jansen van Rensburg.

Sy doelwit is om volgende keer aan ’n marathon onderskeidelik in Australië, Asië en Europa deel te neem. Dan het hy óók ’n marathon op al sewe kontinente voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kosbaar ·

Dit is kosbare herinneringe, baie geluk, dit wil beslis gedoen wees!

Emelia ·

Wow!!! Ek Sal ook eendag so iets Wil doen. Wag net vir geld en guts… Baie geluk.. Dis regtig amazing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.