SA’ner spog met wêreldrekord vir meeste koppies tee

Ingar Valentyn (Foto: Guinness-wêreldrekords)

Op 31 Desember 2018, toe mense wêreldwyd hulself gereed gemaak het vir ʼn nuwe jaar, het ʼn groot tragedie die inwoners van Wupperthal in die Wes-Kaap getref.

ʼn Veldbrand het deur die dorpie versprei en verwoesting gesaai. Altesaam 53 huise is verwoes en minstens 200 mense is haweloos gelaat.

Een van die persone wat hul huise verloor het, was Ingar Valentyn. Die brand het die huis, waar sy grootgeword het, en alle gastehuise in Wupperthal – wat Ingar bestuur het as deel van haar werk by die toerismekantoor – verwoes.

Byna vier jaar later het Wupperthal homself herbou, In ʼn poging om toerisme ʼn hupstoot te gee en die weerstandigheid van haar gemeenskap te vier, het Ingar besluit om ʼn rekord op te stel om die meeste koppies tee binne een uur te maak.

Sy het natuurlik op rooibostee besluit, omdat Wupperthal bekend is as die tuiste van rooibostee.

“Almal het alles verloor,” het Ingar oor die brand gesê. “Ek voel die rekord sal baie deure oopmaak vir die gemeenskap, wat betref toerisme en rooibostee, omdat ons so baie rooibosteeboere het.”

Om die rekord te verbeter, moes Ingar minstens 150 koppies tee binne ʼn uur maak. Sy het drie geure gebruik: oorspronklik, vanilla en aarbei.

Sy het ʼn strategie uiteengesit en dit foutloos uitgevoer.

Sy het vier sakkies in elke teepot geplaas, wat elkeen vier koppies tee kon maak. Om seker te maak dit kwalifiseer as ʼn behoorlike rooibostee, moes elke teesakkie vir minstens twee minute lank trek. Om so doeltreffend as moontlik te wees, het sy die eerste drie teepotte vol water gemaak, die sakkies ingesit en dan vinnig na die volgende bondel beweeg.

Elke koppie tee word noukeurig nagegaan (Foto: Guinness-wêreldrekords)

Een van Guinness-wêreldrekords se reëls vir enige kosverwante rekord is dat geen kos vermors mag word nie. Om Ingar met dié vereiste te help, het ʼn groep ywerige teedrinkers – ʼn groep skoliere en lede van die gemeenskap – gereed gestaan om haar te help.

Voor elke koppie tee bedien is, het die amptelike beoordelaar, Sofia Greenacre, die koppie nagegaan om seker te maak dit is ʼn minimum van 142 ml.

Skoliere neem gretig deel (Foto: Guinness-wêreldrekords)

As ʼn kundige teemaker, het Ingar weggespring en vinnig goeie vordering gemaak. Ná slegs 20 minute het sy reeds 92 koppies tee afgemerk.

Daar was egter gou een probleem – sy het byna nie meer skoon koppies gehad nie! Die plaaslike skoliere het weer handjie bygesit en die koppies gewas waaruit hulle gedrink het.

Die minute het verbygetik en toe ʼn uur byna verstreke was, was Ingar vol vertroue dat sy die rekord sou haal. “Ek dink ek het 170 gemaak,” het sy gesê.

Ingar het egter haar eie voorspelling ver oortref. Daar is onthul dat sy altesaam 249 koppies tee gemaak het – dit is meer as vier per minuut! Slegs een koppie is gediskwalifiseer omdat dit nie vol genoeg was nie.

“Ingar het die rekord verpletter, dit was mooi om te sien!” het Greenacre gesê. “Wupperthal is boonop die mooiste agtergrond vir enige rekordpoging. Ek staan verstom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henri ·

Dit is op vele maniere ‘n lekkervoel nuusitem. ‘n Dorp wat in sak en as was het opgestaan, die as afgeskud en herbou. En die kersie op die koek is ‘n wêreldrekord met ‘n “local is lekker” smaak! Welgedaan! Dis inspirerend!

piet ·

Hoeveel teepotte mag jy gebruik? As daar nie ‘n beperking op die teepotte is nie, dink ek ek sal dit kan doen. Maak eers al die teepotte vol en gooi teesakkies in. Vat 2 teepotte gelyk en maak 2 koppies vol op ‘n slag. Kan seker nie so maklik wees nie want anders sou dit nie ‘n wereldrekord gewees het nie. Te min inligting oor wat presies die reels was.

Koos 100 ·

Wel gedaan. Ek glo dat Koning Charles vir jou ‘n joppie kan aanbied!

Elizabeth ·

Baie geluk Ingar Valentyn! Dit wil gedoen wees. Jy het Wupperthal weer terug op die landkaart!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.