SA’ners in gedwonge kwarantyn sonder skoon toilette, water

Die rondawels is vervalle (Foto: Verskaf)

’n Groep van byna 60 Suid-Afrikaners wat onlangs van Mosambiek teruggekeer het, sit tans in haglike omstandighede in kwarantyngeriewe in Mpumalanga vasgekeer. Hulle pleit by die departement van gesondheid om hulle vir Covid-19 te toets sodat hulle so gou as moontlik huis toe kan gaan.

Dié groep wat tans onder vuil en onveilige toestande by die Zithabiseni-konferensiesentrum digby Groblersdal gebuk gaan, moet daar vertoef totdat hulle negatief vir Covid-19 getoets het. Hulle is drie dae ná hul aankoms by dié geriewe steeds nie getoets nie. Die groep het glo nie skoon water, behoorlike badkamergeriewe of warm klere nie.

Daarom het AfriForum ʼn regsbrief aan verskeie ministers gestuur waarin die burgerregtegroep eis dat dié groep so gou moontlik getoets kan word sodat hulle huis toe kan gaan en hulle self kan isoleer.

“Ons vrees dat ons of ons kinders siek gaan word as ons nog langer hier moet bly.”

Die rondawels is vervalle (Foto: Verskaf)

Só vertel Leon en Melanie Nel van Midrand, ’n egpaar wat Maandag saam met die res van die groep Suid-Afrikaners van Mosambiek teruggekeer het. Hulle het ’n driejarige dogtertjie en ʼn eenjarige seuntjie wat saam met hulle in dié geriewe moet bly.

Leon is ’n veearts en is goed ingelig oor higiëne, oordraagbare siektes en risiko’s wat verband hou met onvoldoende maatreëls om virus- en bakteriële infeksies te bekamp. Volgens hom is die geriewe nie op mediese standaard soos wat kwarantyngeriewe behoort te wees nie.

Willie Spies, AfriForum se prokureur wat die Nel-familie bystaan, het Woensdag ’n prokureursbrief tot die effek aan die minister van gesondheid, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking (dirco) en die minister van polisie gerig om hulle aandag te vestig op die onaanvaarbare toestande van dié kwarantyngeriewe.

Spies noem in die brief dat die fasiliteit se rondawels “vervalle puinhope” is en dat die rondawels wat vir dié groep beskikbaar is, byna onbewoonbaar is.

“Die geriewe se badkamers is walglik. Meeste toilette beskik nie meer oor toiletdeksels nie. In meeste badkamers is die krane, teëls, baddens en storte baie vuil of stukkend. Die kaste is oral vrot van kakkerlakke,” vertel die Nel-egpaar.

Spies dui in die brief aan dat die fasiliteit nie voorbereid was op die groep Suid-Afrikaners se koms nie. Geen lys met die groep se name is opgestel en geen reëls is op die eerste dag neergelê nie.

Daar is glo ook ’n stortplek vir vullis op die perseel (Foto: Verskaf)

Volgens die Nel-egpaar het die kamers op die eerste dag geen handdoeke of toiletpapier gehad nie. Daar is ook geen wasgeriewe vir klere nie. “Ons is eers ’n dag nadat ons daar aangekom het in kennis gestel dat die water ondrinkbaar is. Daarna het ons een bottel water per dag gekry.”

Die egpaar vertel daar is glo ook ’n stortplek vir vullis op die perseel, wat volgens hulle ’n kuil vir allerhande bakterieë en siektes is. “Wilde diere soos bobbejane loop op die perseel rond en hou ’n ernstige gevaar vir ons en veral ons kinders in.”

Die groep Suid-Afrikaners kla ook oor die kos wat hulle kry en sê daar word nie voorsiening gemaak vir diabete se dieetvoorkeur nie.

“Ons gee maar van ons beperkte kosvoorrade wat ons uit Mosambiek saamgebring het vir ons kinders.”

Volgens die Nel-egpaar word kos ook sonder handskoene of gesigsmaskers voorberei en bedien.

Spies sê in die brief dat die Nel-gesin geen warm klere ingepak het toe hulle voor die instel van algehele afsondering na ’n warm Mosambiek gereis het nie. “Die kinders kry koud en het nie warm skoene om aan te trek,” lui die brief.

Die geriewe is nie goed ingerig nie (Foto: Verskaf)

“Ons loop ’n groter risiko om onder hierdie omstandighede die virus op te doen as by ons huise in selfisolasie,” meen die egpaar.

Die egpaar het ook aan Spies gesê dat niemand daar tot dusver enige simptome van die virus getoon het nie.

Die ministers word versoek om teen Woensdagmiddag op Spies se brief te antwoord.

Maroela Media het die departement van gesondheid en Dirco gekontak vir kommentaar, maar het nog geen reaksie ontvang nie. Dumisani Malamule, woordvoerder van die departement van gesondheid in Mpumalanga, het gesê hy sal vrae oor die kwessie beantwoord, maar het tot dusver versuim om dit te doen.

Maroela Media kon ook nie die Zithabiseni-konferensiesentrum in die hande kry nie en hulle webwerf is buite werking.

Soos vroeër berig het Philip van Staden, VF Plus-parlementslid, bevestig dat die VF Plus sedert die begin van die maand talle klagtes oor kwarantyngeriewe in verskillende dele van die land ontvang het. Klagtes het gewissel van water en kos wat nie beskikbaar was nie tot plekke wat vuil is en kos wat oneetbaar is. Die VF Plus het die klagtes deurgegee aan die departement van gesondheid en het goeie terugvoer gekry. Daar is telkens vinnig opgetree om die probleme op te los, aldus Van Staden.

Die VF Plus het ook ʼn beroep op Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, gedoen om daadwerklik aandag aan die probleme rondom die kwarantyngeriewe te skenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Anel ·

Dis mos nie our people nie. Our people word in 10 ster geriewe gehuisves, VERNIET!! Hierdie is belaglik, en diskrimenerend! As ek die mens is klim ek in my kar en ry huis toe!!! Sterkte!!!

Frederik ·

Dit is regtig ongevraag, hoekom geld daar sekere reels vir die span wat van China af gekom het en n ander stel reels vir die mense wat van Mosambiek af kom? Die span van China is met n helde ontvangs in die land verwelkom en toe in vyfster behandeling moes hulle in kwarantyn bly. Wat verskil van die een groep teenoor die ander groep? Seker niks anderste as vel kleur? Net nuuskierig. Kan iemand dalk antwoord?

Pieter ·

Dalk ook politieke konneksies. Politieke leiers se kinders mag in China studeer, nogal eksklusief.

Johann ·

Maar toe die ANC regering kon “shine” vang met hulle vliegtuig vol WUHANERS…toe.is die beste en luukste gebruik? Dis AL wat die ANC uit hierdie krises wil hê…om n totale afhanklikheids staat te skep onder die ongeskoolde massas, wereldwyd NET dit wat goeie punte vra te pupliseer, die WGO se komolimente holrug te ry en die magsbasis polisisie/weermag realiteit af te speel… O ja en natuurlik om ALS wat die vergrypers oor JARE laat verval het op n VIRUS te blameer.

Corne123 ·

Dit is uiter skokkend al wat ek wonder is hoefeel kos dit ons belasting betaler per dag wat hulle daar is seker n 5ster hotel prys per dag

marius ·

Dis niks anders as ‘n straf maatreel nie . Hierdie mense se agendas word elke dag duideliker .

capie ·

Die “konferensie sentrum” is seker in bbbbeeee besit en die regering betaal deur hul nek daarvoor

Anel ·

Wat hierdie regering nou doen is amper net so erg as wat die Engelse met ons gedoen het tydens die Boere oorlog.

TRP ·

Kan iemand asb aan my verduidelik hoekom het die klomp vanaf China in ‘n 5 ster oord gebly en hierdie mense moet tuis gaan in ‘n -3 ster? Watter kriteria word gebruik? Ek sterf eerder voor ek in sulke haglike omstandighede tuis gaan.

Pieter J ·

Miskien laat hierdie voorvalle nou ń hele klompie mense se oĕ oopgaan wat nog gedink het die land en die kovid-19 word wonderlik bestuur. Die hele besigheid is walglik en vervul ń mens met wrewel.

Johann ·

Sit die ANC se kommunistiese Kubaanse dokters daar, DAN sien jy hoe vinnig gebeur dinge. Ek sidder om te dink hoeveel geld word gepocket in hierdie proses van miljarde uitgee?

Tino ·

Eks seker daarvan dat iemand hier geld maak uit die owerheid, vra seker dieselfde pryse as 5ster geriewe maar lewer minder as die minimum.

Indien daar nie ‘n lys is nie, hoekom is julle daar en hoekom het julle nie gegly nie? Julle kan dus sekerlik nou ook gly.

Pieter ·

Gedink hulle het geleer na die verdrinkingsepisode by Nyati Lodge vroeër vanjaar by Brits. Lyste is uitgewys as ‘n belangrike faktor. Skoolhoof geskors.

Pieter ·

So ver my kennis strek is dit ‘n ou warmwaterbronoord uit KwaNdebele, natuurlik in swart besit. Die plek is tussen Verena en Dennilton, area van die Ndlovu jeugkoor. Nie ‘n veilige area nie (Moutse area is onstuimig).

Skandalig dat ons mense so in kwarantyn geplaas word. Duidelik dat geen geld aan die regering se Solidarity Fund geskenk moet word nie, versorg jouself en jou eie mense vir nou en in die toekoms. Die reënboognasie is besig om op te droog.

netekalleen ·

Kan iemand nie die buiteland bewus maak van dit nie. Die wgo prys onse president maar sien nie wat met mense wie nie our people is gebeur nie

daniel ·

Hou moed , drastiese verandering kom skielik, op onmoontlike maniere.

Koos ·

Mense Mense onthou hulle moet die Kubane eerste stel met 5 ster geriewe.

Deon ·

Ek wonder aan watter regerings amptenaar die stuk grond behoort? In Kemptonpark staan daar blykbaar ‘n hele hospitaal leeg maar ons verryk mense (as ons hulle mense kan noem) soos die.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.