Klagtes, onduidelikheid oor kwarantyngeriewe

(Foto: flysaa.com)

Daar is onduidelikheid oor die kwarantyngeriewe waar alle Suid-Afrikaners wat van die buiteland terugkeer eers 14 dae in kwarantyn geplaas word.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het verlede week aangekondig dat Suid-Afrikaners wat terugkeer vir 14 dae gekwarantyn moet word, maar daar is nooit meer duidelikheid gegee oor die kwarantyngeriewe wat beskikbaar gestel gaan word nie.

Philip van Staden, VF Plus-parlementslid, het gesê sy party het Maandag versoek dat die geïdentifiseerde kwarantyngeriewe se besonderhede aan lede van die parlement, provinsiale wetgewers en munisipale raadslede bekend gemaak moet word. Dit is om te verseker dat die betrokke departemente hul werksaamhede effektief kan uitvoer en die nodige voorsorgmaatreëls kan tref om ook nie self deur die virus besmet te raak nie.

Daar is verlede maand tussen 37 en 52 persele as kwarantyngeriewe geïdentifiseer wat staatsgeboue, hotelle, vakansie-oorde en hospitale insluit. Van Staden sê dit is egter nog nie eers bekend waar al hierdie geriewe geleë is nie.

Volgens Van Staden lyk dit of van dié geriewe nog nie ten volle toegerus is om hul doel volledig dien nie. Hy meen daar het baie kommunikasieprobleme ontstaan tussen die nasionale departemente, provinsiale departemente asook munisipaliteite sover dit die inrig en bestuur van die geriewe betref.

Intussen het Maroela Media ook talle klagtes van bekommerde ouers ontvang oor hul kinders wat in ongerieflike kwarantyngeriewe in Johannesburg moet vertoef nadat hulle verlede week teruggekeer het van Miami in die VSA.

Die SAL het Woensdag die eerste keer in meer as 20 jaar weer na Miami gevlieg (Foto: SouthAfricanAirways, Twitter)

SAL in samewerking met Workaway International, ʼn maatskappy wat werkgeleenthede vir jong mense by gholfklubs in die VSA reël, het dié groep van 300 jong Suid-Afrikaners verlede Woensdag met ʼn huurvlug van Miami na Suid-Afrika teruggebring.

Die jong mense is in drie groepe na Johannesburg, Kaapstad en Durban teruggebring. Charlotte Quénet-Meintjes, Suid-Afrikaanse bestuurder van Workaway International, sê die regering het aanvanklik aangedui dat dié drie groepe onderskeidelik in die Birchwood-hotel in Johannesburg, die City Lodge-hotel in Kaapstad en die City Lodge in Umhlanga sou tuisgaan vir die 14 dae van kwarantyn.

“Die Johannesburg-groep is egter toe na Eskom se opleidingsentrum in Midrand geneem in plaas van die Birchwood-hotel. Ons was nie bewus daarvan nie,” sê Quénet-Meintjes.

Twee van die ouers, wat graag anoniem wil bly, vertel hul kinders het sedert hul vertrek uit Miami tot en met hul aankoms in Johannesburg slegs een keer kos gekry. Hulle het vir die eerste twee dae slegs een bottel water gekry.

Een van die Suid-Afrikaners wat van Miami teruggebring is (Foto: Lynne Sladky, AP)

“Daar is glad nie met hulle gekommunikeer oor waar hulle gaan woon nie. Hulle het die oggend omstreeks 00:30 by die geriewe aangekom en glad nie geweet wat aangaan nie. Hulle is daar in kamers ingedruk. Van die [beddens in die] kamers het nie eers almal beddegoed opgehad nie. Die kamers was ook nie skoon nie,” vertel een van die ouers. “My kind het daardie aand sonder kos en water gaan slaap,” vertel nog ʼn ouer.

Die ouers kla dat die kos wat hul kinders die eerste paar dae gekry het, koud was. Die kinders was ook beperk tot hul kamers en het geen toegang tot internet, leesmateriaal of televisie nie.

Quénet-Meintjes sê hulle het dié probleme onder die aandag van Eskom se owerhede gebring. Sy vertel hulle het van WorkAway se kant alles in hul vermoë gedoen om die geriewe vir die groep jong mense draagliker te maak.

“Toestande het reeds verbeter. Ons het gereël dat mense tussen 13:00 en 14:00 daagliks pakkies vir die kinders in die geriewe mag stuur. Ons het ook nou dit reggekry dat die kinders toegelaat word om hul kamers vir 25 minute per dag te verlaat. Ons het selfs ʼn brief aan die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington gestuur.”

Die jong groep Suid-Afrikaners is verlede week gerepatrieer (Foto: Lynne Sladky, AP)

Volgens Quénet-Meintjes is van die jong mense Maandag reeds huis toe gestuur. Die res van die groep behoort in dié week nog huis toe te gaan.

Maroela Media het die bestuur van die Eskom se opleidingsentrum gekontak, maar het na meer as ʼn dag nog geen reaksie ontvang nie.

Die VF Plus het volgens Van Staden sedert die begin van die maand ook talle klagtes ontvang oor kwarantyngeriewe in verskillende dele van die land.

Klagtes het gewissel van water en kos wat nie beskikbaar was nie tot plekke wat vuil is en kos wat oneetbaar is. Die VF Plus het die klagtes deurgegee aan die departement van gesondheid en het goeie terugvoer gekry. Daar is telkens vinnig opgetree om die probleme op te los, aldus Van Staden.

“Dit wil egter voorkom of die departement van openbare werke en infrastruktuur nie genoeg aandag aan die geriewe geskenk het nadat dit geoormerk is as kwarantyngeriewe nie. Dit is noodsaaklik dat die nodige inspeksies deur die departemente van gesondheid en openbare werke en infrastruktuur uitgevoer moet word om te verseker dat alles wel gereed is by hierdie geriewe.”

Van Staden sê die behoorlike opleiding van personeel wat in hierdie geriewe werksaam is, sal ook dringend aandag moet kry.

Die VF Plus doen ʼn beroep op Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur, om daadwerklike aandag aan die probleme rondom die kwarantyngeriewe te skenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Tanya ·

Daardie mense is nie gevangenes nie. Ook nie een of ander substandaard burger nie. Waarom word hulle so sleg behandel? As die regering hulle nie ordentlike kwarantyn geriewe kan of wil gee nie, behoort hulle toegelaat te word om na hulle eie huise en families te gaan om daar in self kwarantyn te bly. Sies SA regering.

Marthinus Johannes ·

Hoekom word hulle nie na dieselfde plek gestuur word soos met die klomp wat van China af gekom het nie daar buite Polokwane of is daar weer verskuilde agendas.

Anel ·

Dit is nie our people nie. So hoekom moet hulle aandag gee.!

Jaco ·

Dis vir my absurd, vreemd en absoluut onverklaarbaar dat ‘n Suid-Afrikaanse wit mens van Amerika af WIL terugkeer na Suid-Afrika. Bel en email hulle nooit huis toe nie? Lees hulle nie nuus websites nie? Weet hulle regtig nie watse gemors SA is nie? Meeste van hulle is seker juis hier weg omdat hulle velkleur “verkeerd” was om werk hier te kry. Waarom dan terugkom????

netekalleen ·

Nou hoekom is die eerste.spul in weelde na “the ranch” gevat ter mijoene rande?dan moet.dieselfse mos vir alle suid afrikaners wat uit die buiteland terugkeer gedoen word.

Anel ·

Hierdie is nie our people nie. Soos die engelse sê, I rest my case.

Jaco ·

Die eerste groep uit China, wat in weelde in kwarantyn was, was almal our people. Nou wonder ek maar net: waarom was hulle dan in China? Met die “regte” velkleur kan hulle mos maklik werk kry in SA.

Gerhard ·

Auntie Pat is veels te besig met die “grens-heining ondersoek” om nou aan hierdie saak aandag te gee…

Matewis ·

Moet ons nie eerder dankbaar wees dat die mense wel kon terug kom nie? Hulle betaal nie vir hulle verblyf nie en sou die staat hulle net laat gaan sonder kwarentyn sou ons ook iets gehad het om oor te kla. Dit is 2 weke en dan is hul weer in hul eie bed by hul eie mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.