SA’ners maak ’n (sport)plan in Nederland

Die Elande-sewesrugbyspan. Foto: Verskaf.

Jy kan die entoesiasme in Riekus van der Westhuizen se stem hoor wanneer hy oor die Elande-sewesrugbyspan gesels.

Want wanneer die Elande aan ’n sosiale toernooi in Nederland deelneem, kan hul teenstanders maar hulself staal vir Afrikaans, die reuk van braaivleis en pure Suid-Afrikaanse passie.

Volgens Van der Westhuizen het die Elande-droom aan die begin van 2022 ’n werklikheid geword. Moet ook nie dink dat dit sommer so ’n hierjy span is nie. Aikôna.

Die span is gelaai met Suid-Afrikaners wat in Nederland ’n heenkome gevind het – van ingenieurs tot fisioterapeute.

En vir elke Eland-man (en sy gesin) is die wedstryde eintlik soveel meer as net bloot ’n sosiale uitstappie of ’n lekker fikswordsessie.

As daar na Suid-Afrika verlang word, lê die antwoord dikwels op die sportveld.

“Sport speel ’n baie belangrike rol vir ons want dit bring almal weer bymekaar. Elke speler in die span het iewers in Suid-Afrika rugby gespeel; hetsy vir sy klub, sy koshuis of selfs ’n provinsiale sewesspan. Wanneer ons speel, sorg dit vir heimwee en dit bring as’t ware ’n stukkie van Suid-Afrika terug,” het Van der Westhuizen gesê.

Daar is selfs ’n Suid-Afrikaanse gholfgroepie op WhatsApp wat met amper 300 lede spog.

“’n Mens moet ’n gholflisensie in Europa hê om te mag speel, maar ons Suid-Afrikaners bespreek sommer die hele baan. Dit gebeur so een keer per maand.”

As ’n ingenieur het Van der Westhuizen sy graad by die Pukke verwerf, waarna hy sy bes gedoen het om ’n verskil by Eskom te maak.

Een van die gewilde Suid-Afrikaanse gholfdae in Nederland. Foto: Verskaf.

Nodeloos om te sê, dié pad het in teleurstelling geëindig en ná ’n ruk in die private sektor het hy ’n werksgeleentheid in Nederland met al twee hande aangegryp.

“Hier is vrek baie Suid-Afrikaners. Boonop is Nederlands baie ná aan Afrikaans en hulle waardeer dit as ’n mens hul taal probeer aanleer. Daar is natuurlik ’n stigma dat Europeërs onvriendelike mense is, maar ek het dit nog glad nie so ervaar nie.

“Vir talle spelers gaan daar nie ’n dag verby wat Suid-Afrika nie gemis word nie. Baie van die ouens het hulself egter in ’n doodloopstraat bevind; ek weet byvoorbeeld van iemand wat sy werk ’n paar keer vóór sy 30ste verjaardag verloor het.”

Daarteenoor is die Europese werksmark allesbehalwe versadig, terwyl die Europeërs beïndruk is met die Suid-Afrikaners se werksetiek.

“Net om dinge vinnig in perspektief te plaas. In Suid-Afrika stuur jy argumentsonthalwe jou CV na ’n magdom plekke en jy kry net ’n paar antwoorde terug. Hier stuur jy jou CV na 20 plekke en almal sal daarop reageer.”

Terselfdertyd word daar baie in Nederland op lewensgehalte gefokus en jy kan kies of jy vir 32 of 40 uur per week wil werk.

“Daarteenoor het ’n Suid-Afrikaner geen probleem om 12 of 14 ure per dag te werk nie. Ons is gewoond daaraan.”

Terug op die sportveld vloei die Suid-Afrikaanse bloed nog sterk deur sy are. Hy het byvoorbeeld die eerste toets tussen die Springbokke en die All Blacks in ’n kroeg in Antwerpen gekyk.

“Ek was aanvanklik op my eie, maar binne ’n japtrap was daar tien ander Suid-Afrikaners wat saam met my gekyk het. Afgesien van die slegte dinge wat in die land gebeur, is daar steeds baie goeie mense wat baie goeie dinge doen.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Hierdie is nuwe pioniers wat die weg baan vir hul landgenote.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.