‘SA’ners sal ANC-bewind in 2024 beëindig’ – DA-kongres

Ivan Meyer, federale voorsitter, by die DA se federale kongres. (Foto: DA/Twitter)

Die DA se federale kongres het Saterdagoggend in Midrand afgeskop.

Ivan Meyer, federale voorsitter, het die kongres geopen deur te sê dat Suid-Afrikaners volgende jaar na die stembusse sal gaan om ʼn einde aan die ANC se bewind te bring.

“Hierdie kongres stel Suid-Afrikaners dus in kennis dat die ANC die uittredende regering in Suid-Afrika is,” sê hy.

“ʼn Regering wat deur data en feite gelei word, sal in 2024 die Uniegebou betree en die bestuur van Suid-Afrika heeltemal herontwerp.”

Die DA het in die nasionale verkiesing in 2019 net meer as 20% van stemme op hom verenig en in die plaaslike verkiesing van 2021 het die party 22% van kiesers se stemme gekry.

Werner Horn, kongreswoordvoerder van die DA, het vroeër aan Maroela Media gesê die party hoop dat sterk beleidsresolusies nog kiesers gaan oorreed om hul kruisies agter die DA se naam te trek.

Meyer het Saterdagoggend aan sowat 2 000 DA-afgevaardigdes gesê dat die huidige regering ʼn “korrupte en misdadige” een is waaronder talle Suid-Afrikaners swaar trek.

“Maar ons is vandag hier om te sê dat dit moontlik is om Suid-Afrika te red en herbou.”

Volgens Meyer sal die kongres, wat tot Sondag duur wanneer die afgevaardigdes vir nuwe partyleiers stem, in die twee dae uitstippel wat die DA reeds doen om onder andere die kragkrisis in die land op te los.

Dit beoog om boonop ook praktiese oplossings voor te stel om Suid-Afrika weer op die been te bring. Hierdie oplossings is gegrond op “data-analise, wetenskap, navorsing en gesonde verstand”.

Die DA se burgemeesters en ander DA-leiers sal ook verslag doen oor wat hulle bereik het “om ʼn beter toekoms vir hulle gemeenskappe te skep”.

“Hierdie is ons land en dit is waar ons harte lê. Kom ons verenig en begin om Suid-Afrika te herbou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.