SA’ners van die ongelukkigste ter wêreld

Die Suid-Afrikaanse vlag hang halfmas voor die Uniegeboue (Foto: Phill Magakoe / AFP)

Suid-Afrikaners is skynbaar van die ongelukkigste ter wêreld, met inwoners van sommige lande wat in oorlog gewikkel is selfs gelukkiger as inwoners aan die suidpunt van Afrika.

Dít volgens die mees onlangse data van die World Happiness Report, wat die afgelope week bekendgestel is. Dié indeks meet jaarliks die gelukskoers van 137 lande deur te kyk na faktore soos inwoners se persepsie van korrupsie, BBP per kapita en lewensverwagting. Lande word dan ʼn punt uit 10 toegeken.

Suid-Afrika is 85ste op die lys, met ʼn punt van 5,2. Dit is ʼn skamele 0,01 punte meer as die Republiek van die Kongo en 0,2 punte hoër as Oekraïne, wat tans in ʼn oorlog met Rusland gewikkel is. Rusland self is 70ste op die lys, met ʼn punt van 5,6. Suid-Afrika is ook laer op die ranglys as lande soos Algerië (81ste), Brasilië (49ste) en Meksiko (36ste).

Suid-Afrika se buurlande is almal laer af op die lys geplaas, met Zimbabwe in die 134ste plek (3,2 punte). Afghanistan is volgens die lys die ongelukkigste land ter wêreld, met ʼn punt van 1,8 uit 10.

Finland (7,8 punte), Denemarke (7,5) en Ysland (7,5) se inwoners is skynbaar van die gelukkigste ter wêreld. Dit is die derde jaar agtereenvolgens dat Finland eerste op die indeks geplaas word. Luidens die verslag is dieselfde lande deurlopend in die top 20. Dit sluit in Nieu-Seeland (10de), Australië (12de) en Amerika (15de). Inwoners van dié lande ervaar gewoonlik baie vryheid, min korrupsie en genoegsame maatskaplike ondersteuning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.