SA’ners waag voorspelling oor nuwe jaar

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Kajetan Sumila/Unsplash)

Te midde van beurtkrag, die hoë misdaadsyfer en ʼn sukkelende ekonomie is die meeste Suid-Afrikaners dit eens dat 2023 nie ʼn wesenlik goeie jaar was nie. ʼn Onlangse opname wys dat Suid-Afrikaners nie juis hoopvol is dat dié elemente in 2024 enigsins gaan verbeter nie.  Hulle is wel meer optimisties oor hul persoonlike vooruitsigte.

Die navorsingsmaatskappy infoQuest het byna 3 000 Suid-Afrikaners oor alle demografiese groepe gevra wat hul verwagtinge vir die nuwe jaar is. Dit sluit in hul vooruitsigte vir die politiek, die ekonomie en werksekerheid, die kragkrisis, misdaad, gesondheidsorg, onderrig en allerlei persoonlike kwessies.

Verwagtinge vir politiek

Terwyl Suid-Afrikaners wag op ʼn amptelike datum vir vanjaar se provinsiale en nasionale verkiesing, is die meerderheid burgers se vooruitsigte vir die politiek uiters negatief. Meer as helfte van die respondente is oortuig daarvan dat die politieke situasie net gaan vererger.

Drie uit elke vier Suid-Afrikaners verwag dat korrupsie veel erger gaan word, terwyl slegs 16% hoopvol is dat voorvalle van korrupsie sal verminder.

Die ouer respondente se verwagtinge is boonop meer negatief as die jonger garde sʼn.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Ekonomie en werksekerheid

Die respondente se verwagtinge vir Suid-Afrika se ekonomiese gesondheid en werksekerheid, is ook nie optimisties nie, veral ná die swak ekonomiese groei in 2023.

Volgens infoQuest het 17% van Suid-Afrikaners in 2023 hul werk verloor. Hoewel die werkloosheidsyfer intussen effe verbeter het, is meer as 30% van die bevolking steeds werkloos. Kenners meen dit sal net verbeter met positiewe ekonomiese groei.

Meer as die helfte (56%) van die respondente verwag egter dat die ekonomie net verder in 2024 sal versleg, waarvan die helfte van die 56% hiervan oortuig is.

Altesaam 54% van die respondente glo werksekerheid gaan negatief beïnvloed word deur die verswakte ekonomie. ʼn Skamele 10% van die respondente is nogtans oortuig dat die situasie gaan verbeter.

Krag- en watervoorsiening

Beurtkrag het ʼn woord geword wat oorbenut word in Suid-Afrikaners se woordeskat. Die getal dae wat die land verlede jaar sonder krag gesit het, het byna verdubbel vergeleke met 2022 en respondente reken die stand van sake gaan nie gou verbeter nie.

Meer as ʼn derde van die respondente verwag dat die beskikbaarheid van krag van Eskom af net in die komende jaar gaan versleg.

Slegs 7% van die respondente glo sonder twyfel dat die situasie gaan verbeter, en 15% is hoopvol dat dit sal verbeter.

Baie dele van die land het ook gedurende 2023 wateronderbrekings ervaar, hoofsaaklik as gevolg van infrastruktuur wat swak onderhou of herstel is. Dit het 43% van die respondente tot die gevolgtrekking laat kom dat watertoevoer na huise net al hoe swakker gaan word.

Misdaad

Geweldsmisdaad in Suid-Afrika bly ʼn probleem en groot rede vir kommer vir baie burgers.

In 2023 was een uit elke drie Suid-Afrikaners ʼn slagoffer van ʼn misdaad waar iets waardevols van hulle weggeneem is. Dit was die geval oor alle inkomstegroepe. Wat kontakmisdade betref, het 11% van slagoffers fisieke beserings in 2023 opgedoen.

Dit blyk uit die jongste navorsing dat Suid-Afrikaners nie verwag dat die misdaadsituasie vanjaar sal verbeter nie – trouens, 61% verwag dat dit sal vererger. Slegs 17% is hoopvol dat misdaad gaan verbeter, terwyl 8% oortuig is dat die situasie sal verbeter.

Suid-Afrikaners het duidelik nie veel vertroue in wetstoepassing deur die polisie nie, wat veroorsaak dat 51% van die respondente glo dat polisiëring vanjaar gaan versleg. Slegs 30% glo die polisie gaan homself regruk in die nuwe jaar.

Hoop wink (op sommige gebiede)

Met die instelling van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) wat oor Suid-Afrikaners se koppe hang, is die respondente verdeeld oor die toestand van die gesondheidsorgstelsel vanjaar.

Altesaam 42% van die respondente verwag dat die land se gesondheidsorgstelsel in 2024 sal versleg. Meer ouer as jonger mense handhaaf hierdie siening.

Sowat 40% van respondente glo egter die situasie gaan verbeter, en 18% is onseker wat gaan gebeur.

Suid-Afrikaners het ook gemengde gevoelens oor die stand van die onderwysstelsel in 2024. InfoQuest sê dit is wel bemoedigend dat meer Suid-Afrikaners glo dat die land se onderwysstelsel in 2024 sal verbeter (46%), as diegene wat glo dit sal versleg (37%).

Suid-Afrikaners is redelik optimisties dat hul lewenstyl, huwelike en vrye tyd in 2024 sal verbeter, maar minder so dat hul finansies tred hou met hoë lewenskoste.

(Grafika: Megan Swart/Maroela Media)

Arnold Samuels, navorsingsdirekteur by infoQuest, sê die resultate skets ʼn ontmoedigende prentjie van die land se grootste kwessies.

“Suid-Afrikaners is egter veerkragtig en staar uitdagings met vasberadenheid in die gesig. Hulle laat hulself selde oorweldig en maak altyd die beste van enige situasie,” sê hy.

“Met hierdie grondslag is ek oortuig daarvan dat ​​Suid-Afrikaners gereed staan om die kompleksiteite van die jaar wat voorlê, suksesvol te navigeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.