Sanral verwelkom beëindiging van e-tol

(Foto: Outa)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het die finale besluit om e-tol tot ʼn einde te bring, verwelkom.

“Ons verwelkom hierdie finale besluit oor e-tol en gee herkenning vir die samewerking van alle partye om die saak op te los,” sê Themba Mhambi, voorsitter van die Sanral-raad. “Vir Sanral verskaf dit ʼn duidelik pad vorentoe wat betref die onderneming om die GFIP-skuld te betaal.”

E-tol is op 3 Desember 2013 ingestel om die skuld van die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) te delg.

Maroela Media het vroeër berig die omstrede e-tolstelsel in Gauteng word op 11 April 2024 om 23:59:59 gekanselleer. Lydia Sindisiwe Chikunga, die minister van vervoer, het ʼn kennisgewing in Donderdag se Staatskoerant gepubliseer. Die infrastruktuur sal egter vir misdaadbekamping in plek bly.

Reginald Demana, uitvoerende hoof van Sanral, sê dit bied aan die organisasie ook die geleentheid om sy aansoek, vir verhoogde leningsbeperkings van die nasionale tesourie, af te handel. “Ons hoop dat dit ons ook sal toelaat om finansiering uit die privaat sektor te onsluit.”

Enoch Godongwana, minister van finansies, het reeds in Oktober 2022 aangekondig dat e-tol geskrap sal word.

Sanral, die nasionale departement van vervoer, die nasionale tesourie en die Gautengse provinsiale regering het intussen ʼn memorandum afgehandel wat die volgende behels:

  • Gauteng sal 30% (R12,93 miljard) van Sanral se skuld aan die nasionale regering betaal;
  • Gauteng sal bydra tot agterstallige instandhouding (R4,1 miljard);
  • Die nasionale tesourie sal 100% van Sanral se skuld dek; en
  • Die verklaring van GFIP as ʼn tolpad word teruggetrek.

Motoriste sal vanaf 12 April 2024 nie meer hoef te betaal om die e-tolnetwerk te gebruik nie.

“Dit is ʼn groot mylpaal vir padgebruikers in Gauteng,” het Chikunga gesê. “As ʼn regering het ons ʼn mandaat om uitstekende paaie te verskaf en ons sal dit steeds bly doen. Ons sal met alle belanghebbendes saamwerk om seker te maak ons hou die uitstekende paaie in stand.”

Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, sê e-tol het al sedert dit in 2013 ingestel is, teenkanting ontvang. “As die provinsiale regering het ons dit altyd duidelik gemaak dat, alhoewel daar ʼn algemene aanvaarding is van die beginsel dat die gebruiker betaal en bereidwilligheid om vir die huidige en toekomstige opgradering van paaie en openbarevervoer-infrastruktuur te betaal, was die e-tolstelsel onbekostigbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.