Sassa: DA wil minister by MRK verkla

sassa-kaart

Ter illustrasie (Foto: Sassa News/Facebook)

Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Wes-Kaap gaan die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) verklaar. Die DA meen Zulu het nalatig opgetree en versuim om te verseker dat die sosio-ekonomiese regte van Sassa-begunstigdes in die Wes-Kaap gehandhaaf word. Daar is nie maatskaplike sekuriteit aan hulle verskaf nie.

“Die DA in die Wes-Kaap is oorval deur klagtes van desperate Sassa-begunstigdes reg oor die provinsie wat sukkel om hul fondse by kitsbanke en kleinhandelaars te onttrek weens tegniese foute van die Posbank,” sê Wendy Kaizer-Philander, die DA se hoofsweep in die Wes-Kaapse parlement.

“Die foute raak begunstigdes met Sassa- goue kaarte. Die Posbank het egter aan dié kaarthouers gesê dat hulle steeds toegang tot hul toelaes kan kry via Suid-Afrikaanse Poskantore. Die probleem is egter dat baie Poskantoor-takke in die Wes-Kaap gesluit het. Die paar Poskantoor-takke wat nog oop is, is gevolglik oorlaai en begunstigdes is gedwing om lang afstande na hul naaste Poskantoor-takke te reis.”

Kaizer-Philander voeg by terwyl die Wes-Kaapse regering voortdurend probeer om maatskaplike en ekonomiese druk op sy inwoners te verlig, word pogings deurgaans deur die onbevoegdheid op die nasionale regeringsvlak verhinder.

“Die Demokratiese Alliansie in die Wes-Kaap sal hierdie kwessie takel totdat minister Zulu verantwoordelik gehou word vir die versuim om die inwoners van die Wes-Kaap te help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.