SAT-raad se nuwe hoof reeds in omkopery-bewerings gewikkel

Nomasonto Ndlovu (Foto:
SA Travel Trade/Twitter)

Etlike dae nadat ʼn nuwe waarnemende hoof vir die Suid-Afrikaanse Toerismeraad (SAT) aangestel is, word sy reeds by bewerings van omkopery betrek.

’n Fluitjieblaser het die raad se blitslyn geskakel en beweer dat Nomasonto Ndlovu op 6 en 7 Desember verlede jaar omkoopgeld van R100 000 van ’n lugredery ontvang het vir besigheidsklasvlugte, verblyf en kaartjies vir die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi.

Ndlovu is die afgelope naweek as waarnemende hoof aangestel. Sy het by Themba Khumalo oorgeneem wat Vrydag bedank het.

Volgens Manny de Freitas, die DA se woordvoerder oor toerisme, het die SAT se tussentydse raadslede van die bewerings geweet, maar steeds vir Ndlovu in die pos aangestel.

“Dit dui daarop dat die SAT aan skerwe is en dat die SAT-raad onverantwoordelike besluite neem ondanks bewerings wat aan hulle voorgehou is,” sê De Freitas.

Die raad het boonop besluit om aan Khumalo se versoek te voldoen om dadelik die leisels oor te gee, al is hy veronderstel om ʼn kennistydperk van drie maande te werk.

Die jongste vergadering van die toerismeportefeuljekomitee, wat byna ses ure lank geduur het, het meer vrae as antwoorde veroorsaak, sê De Freitas.

“Tans is die meeste van die top‑SAT-leierskap in waarnemende hoedanighede. Ndlovu is waarnemende uitvoerende hoof sowel as hoofbedryfsbeampte, terwyl die hoofgehalteversekeringsbeampte, Bronwen Auret, ook as waarnemende hoofbemarkingsbeampte optree.”

Die DA het aan die minister van toerisme, Patricia de Lille, geskryf oor die bewerings teen Ndlovu en versoek dat sy:

  1. Ndlovu moet skors, hangende die uitkoms van die ondersoek van die bewerings teen haar;
  2. verseker dat SAT ʼn volledige en permanente topbestuur kry;
  3. ʼn behoorlike SAT-raad saamstel wat uit minstens nege lede bestaan; en
  4. instem tot die DA se versoek om inligting oor die Tottenham Hotspur-transaksie bekend te maak.

“Soos sake nou staan, doen SAT baie min om vertroue in die reeds kwesbare toerisme- en reissektor in Suid-Afrika te skep. Hierdie kwessies moet vinnig opgelos word sodat die raad weer op dreef kan kom en sy mandaat kan nakom sodat werk in hierdie sektor geskep kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

WILLEM ·

Dis nie nuus nie – Regstellende aksie spoor mense aan om te vat wat hulle wil hê.

Delia ·

Vader tog..kan niemand net n eerlike lewe lei nie. Is dit so moeilik of is Mammon te belangrik

Anel ·

Ja, nê. Hoe meer dae hoe meer dinge!!! Daar is nêrens ‘n staatsinstelling waar daar nie korrupsie is nie! Wat ‘n skande! Net die feit dat sy aangestel word en hulle weet van die bewerings!!!

Susanna ·

Juis, hoekom sy die pos gekry het, want nou kan almal haar afpers en ook ‘n deeltjie van die koek kry.

Susanna ·

Dis mos nou ou nuus in Suid-Afrika. Hoe meer omkoopgeld en bedrog, hoe beter pos kry jy.

Yvonne ·

Sy het mos uitstekende kwalifikasies dis hoekom sy aangestel is….korrupsie geslaag met onderskeiding!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.