Schweizer-onnie gee haar weergawe van gebeure

Die foto waaroor die herrie woed en waarop gesien kan word hoe gr. 1’s blykbaar volgens hul ras geskei is. Foto: Twitter

Die vakbond Solidariteit het ʼn dringende aansoek in die arbeidshof in Johannesburg gebring om die juffrou van Laerskool Schweizer-Reneke wat geskors is oor ʼn foto wat glo wys hoe wit en swart kinders geskei word, se skorsing as onwettig te verklaar en ter syde te stel.

Die hofdokumente is reeds op die tersaaklike partye beteken en die saak kan moontlik reeds teen volgende week aangehoor word.

In die hofdokumente gee Barkhuizen meer besonderhede oor die gebeure op die eerste skooldag van die jaar wat tot haar skorsing gelei het. Sy voer aan sy het net voor 11:00 op 10 Januarie ʼn oproep van Alwyn Henning, hoof van die Laerskool Schweizer-Reneke, ontvang waarin sy meegedeel is dat sy met onmiddellike inwerkingtreding en met volle betalings geskors is.

Volgens Barkhuizen is sy nie enigsins voor dit ingelig van die voorneme om haar te skors nie en is daar nie redes gegee oor hoekom sy geskors word nie. Sy beweer sy is ook nie die geleentheid gegee om redes aan te voer hoekom sy nie geskors moet word nie. Sello Lehari, Noordwes se LUR vir onderwys, het kort hierna Barkhuizen se skorsing van die skool se verhoog af aangekondig.

In die hofdokumente word verder aangevoer dat Barkhuizen deur die skool se beheerliggaam aangestel is en nie deur die provinsiale onderwysdepartement nie en die LUR dus nie by magte was om haar te skors nie.

‘Alle leerders by laerskool geakkommodeer’

Elana Barkhuizen. Foto: Reint Dykema

Barkhuizen is sedert 2017 ʼn gr. R-onderwyser by die skool en het voor  haar aanstelling haar eie kleuterskool bedryf. Volgens haar het sy uitgebreide kennis oor hoe om voorskoolse kinders te onderrig volgens hul opvoedkundige behoeftes, vermoëns en prestasies.

Barkhuizen verduidelik in die hofstukke dat gr. R-leerders aan die begin van die skooljaar in twee klaskamers verdeel word en dat daar ongeveer 22 leerders in elke klas is. Volgens Barkhuizen het sy en haar mede‑ gr. R-onderwyser, Elsabe Olivier, op 7 en 8 Januarie die ouers en leerders genooi om hulle te kom ontmoet en hulself te vergewis van die klaskamers se opset voor die skooljaar op 9 Januarie begin het.

Barkhuizen sê sy het ook toe van die geleentheid gebruik gemaak om vir ouers haar benadering tot onderrig te verduidelik asook die uitleg van die klaskamer en haar benadering tot sitplekreëlings spesifiek met verwysing tot individuele leerders se behoeftes en vereistes.

“Deur my opleiding en ondervinding het ek geleer dat effektiewe onderrig ʼn sensitiwiteit vereis aan die kant van die onderwyser rakende die behoeftes of uitdagings wat mag inbreuk maak op ʼn leerder se volle leerpotensiaal,” voer Barkhuizen aan.

Sy sê Laerskool Schweizer-Reneke is Afrikaans-medium maar dat daar nog altyd moeite gedoen is om leerders te akkommodeer wat sukkel om in Afrikaans of selfs Engels te kommunikeer en dat van tolke gebruik gemaak word om te help met vertaling en interpretasie.

Volgens Barkhuizen word leerders op die eerste skooldag dikwels rondgeskuif afhangende van hul behoeftes en vereistes. Sitplekke word spesifiek bepaal op grond van wat in die beste belang van elke leerder is, met spesifieke klem op die beste plek om die leerder te laat sit vir die beste geleentheid om daardie kind se onderrig te verbeter en te bevorder.

Barkhuizen het gesê daar is op die eerste skooldag baie emosies en angstigheid onder gr. R-leerders en dit verg moeite van die onderwysers se kant om te verseker dat ouers en leerders gerusgestel word.

‘Dís hoe dit gebeur het’

Die foto wys weer ‘n ander kant van die saak.

Barkhuizen het in November besluit om ʼn WhatsApp-groep vir al die gr. R-ouers te begin om hulle op hoogte te hou van hul kinders se welstand. Sy het gedink só ʼn groep sal meer prakties wees om al die ouers daar op hoogte te hou as om almal individueel te antwoord. Talle ouers het op die eerste skooldag boodskappe gestuur om te hoor hoe dit met hul kinders gaan.

Volgens Barkhuizen wou ʼn ouer op dié dag vir Olivier spreek en moes sy toesig hou oor albei gr. R-klasse wat langs mekaar geleë is. Sy het besluit om foto’s te neem vir die ouers en dit op die WhatsApp-groep te deel om vir hulle te wys die kinders is rustig en op hul gemak.

Barkhuizen het vier foto’s geneem – twee van haar klas en twee van Olivier se klas. Die foto wat tot die herrie op sosiale media gelei het, is in Olivier se klas geneem. Sy het gesê daar is tydens haar skorsing geensins na die ander drie foto’s verwys nie.

Volgens Barkhuizen is die foto wat die herrie veroorsaak het vir politieke opportunisme gebruik en om haar as ʼn rassis uit te beeld. “Ek verag rassisme en beslis in enige onderwysomgewing en is trots op my toewyding om alle leerders te onderrig, ongeag ras en geslag, met gelyke passie en energie.” Barkhuizen sê sy het met nederigheid kennis geneem van die ondersteuning van swart leerders se ouers ná haar skorsing.

Barkhuizen voer in die hofstukke aan dat een van die leerders se pa, ʼn mnr. Modise, haar begin Januarie gekontak het oor afslag op skoolgeld wat sekere leerders histories ontvang het. Sy het onderneem om die inligting te kry en terug te kom na hom toe. Sy het Modise later laat weet die reëling geld nie meer nie waarna hy sy ontevredenheid daaroor uitgespreek het en sy hom aangeraai het om dit verder met die skool op te neem.

Volgens Barkhuizen het Modise haar gebel kort nadat sy die foto op die WhatsApp-groep gedeel het en sy irritasie te kenne gegee oor wat hy na verwys het as die “segregasie” van sy en ander swart kinders en die wit leerders.

Barkhuizen het aan hom verduidelik die kinders word nie op grond van ras geskei nie maar dat hulle wel dikwels op die eerste dag rondgeskuif word om hul individuele behoeftes in ag te neem en dat die klaskamer op ʼn spesifieke wyse uitgelê is om verskillende daaglikse aktiwiteite te akkommodeer. “Ek het ook vir hom verduidelik die foto is nie in my klas geneem nie en dat ek nie insae het rakende die sitplekreëlings in dié klas nie.”

Modise was glo steeds ongelukkig en Barkhuizen het hom aangeraai om die skoolhoof te kontak. Henning het Barkhuizen later die dag laat weet ʼn ouer van een van die swart leerders het gekla oor sy ʼn foto gestuur het van ʼn klaskamer wat op grond van ras geskei is.

Barkhuizen is deur die hoof versoek om ná skool met hom, die voorsitter van die beheerliggaam en Olivier te vergader sodat hulle die klag kon bespreek en ʼn antwoord daarop kon voorberei. Barkhuizen en Olivier het tydens die vergadering die gebeure wat tot die klag gelei het, verduidelik en die hoof en die voorsitter het glo gesê hulle ondersteun die onderwysers ten volle en dat hulle met die betrokke partye in verbinding sal tree om te verseker die klagte word behoorlik opgelos.

Volgens Barkhuizen het die voorsitter haar later ingelig dat als in orde is en dat hulle die volgende dag kan terugkeer werk toe.

Rasseherrie bars los

elana-barkhuizen-saam-connie-en-dirk

Elana Barkhuizen lees haar verklaring op ‘n mediakonferensie voor aan die media. Saam met haar is (links) Connie Mulder van die Solidariteit Navorsinginstituut en dr. Dirk Hermann (regs) bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema.

Die foto is egter op sosiale media versprei en verteenwoordigers van verskeie politieke partye is die volgende dag na die skool. Ondersteuners van politieke partye het ook voor die skool betoog. Volgens Barkhuizen het dit gewelddadig geraak en het leerders en onderwysers naderhand die skool ontruim.

Barkhuizen het gesê van haar leerders se ouers het hulle nie kom haal nie en dat sy by hulle gebly het tot reëlings vir hulle getref is. Van die personeel was in die raadsaal vasgekeer terwyl die ander na ʼn koffiewinkel wat langs die skool geleë is, gegaan het.

Barkhuizen het terwyl sy by die koffiewinkel was ʼn oproep van die hoof ontvang waarin hy haar meegedeel het dat daar ná konsultasie met die LUR besluit is om haar te skors. Die LUR het kort daarna op die skool se verhoog haar skorsing aan lede van die publiek en die media aangekondig. Die hoof het Barkhuizen die volgende dag gebel en versoek om skool toe te kom om dokumente rakende haar skorsing te onderteken maar sy het op advies van Solidariteit en hul regsverteenwoordigers geweier om dit te doen.

Barkhuizen het haar skorsingskennisgewing per e-pos ontvang. “Hiermee word u in kennis gestel deur die beheerliggaam van Laerskool Schweizer-Reneke dat u tot verdere kennisgewing tydelik geskors word met vergoeding, hangende ʼn ondersoek. U sal op hoogte gehou word van die ondersoek en wanneer u benodig word,” lui die kennisgewing.

Solidariteit voer aan die LUR het buite sy magte opgetree en dat die besluit om Barkhuizen te skors gesamentlik deur die respondente geneem is onder leiding van die provinsiale onderwysdepartement en nie volgens die beheerliggaam se eie diskresie nie.

Volgens Solidariteit was daar ook nie ʼn verhoor gehou voor Barkhuizen geskors is nie en het sy nie die geleentheid gekry om voorleggings te doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

76 Kommentare

wilma ·

Wat gaan met juffrou Olivier gebeur aangesien die foto van haar klas-indeling was?

Felix ·

Maroela, ek lees elders vandag dat Solidariteit het aan Netwerk24 bevestig dat hulle kennisgewing ontvang het dat die departement van onderwys en die LUR van noordwes hul hofaansoek gaan teenstaan. In dieselfde asem word op News24 berig dat die LUR se segsman sê die LUR kan nie die juffrou se skorsing terugtrek nie, aangesien die skool se beheerraad haar geskors het (maar hy het darem die skorsing aangekondig).

Wat ‘n deurmekaarspul, kan julle dalk met ‘n berig of ‘n artikel meer klarigheid gee?

Baie dankie, ek waardeer.

Marius ·

Nou waar kruip Juffrou.Olivier nou weg hoekom maak sy nie haar mond oop en se iets dat dit haar klas se foto is?

AmandaD ·

Ek wil dit ook weet. Klink of sy en die Skoolhoof maatjies is en ‘n onskuldige juffrou laat betaal vir iets waarvoor sy verantwoordellik is.

GP ·

Kry eers julle feite reg voor julle hulle sleg se. Hul help waarskynlik waar hul kan

Vra net ·

Juffrou ek dink deurgans aan jou!

Hierdie inligting (overload), is die saak nie sub-judice nie?

Oujongvrou ·

Ek is nou al tot naarwordens toe siek vir die hele ras herrie. En wat leer die grootmense nou vir die kinders. Kyk kinders, kyk hoe kinderagtig tree ons voor julle op. Het skaamte nou ook die wyk geneem in hierdie land. Sies!!!

waarheid1 ·

Kla Modise aan en ook alle ander wat so onverantwordelik opgetree het.
Wys dan ook sommer ‘n foto van Modise – die juffrou se gesig wys orals maar waar is sy gesig? Waarom dit wegsteek? hy is dan die kwaadstoker?
Olivier is dalk nie so sterk soos Barkhuizen nie . Barkhuizen – jy doen uitstekend!!!!

Paul ·

Met die ingesteldheid van sulke mense, soos die persoon wat die “fluitjie” geblaas het, wat toe blyk dat hy ‘n ander agenda gehad het, omdat hy oor die skoolgeld knorrig was en toe haal hy dit op die juffrou uit wat niks daarmee te doen gehad het nie, wat is die kans dat ons ooit eendag in hierdie land van rassisme, daardie mense met die agendas wat op konflik van rassespanning floreer, sekere politieke partye, die regering, met inbegrip van sekere rubriekskrywers wat sulke geleenthede uitbuit, ontslae sal wees.

As gevolg van hierdie katastrofe wat hierdie man op die juffrou losgelaat het, is daar baie mense, veral jong kinders, in effek die hele laerskool, wat ras nooit raakgesien het nie, wat nou daarmee gekonfronteer word en staan dit soos ‘n olifant in die vertrek wat hulle moet verteer.

ES ·

Nou maar gee vir ons Mnr. Modise se volle name en besonderhede aangesien dit blyk dat hy die een is wat van die begin af al die moeilikheidmaker was deur met die onderwyseres die skoolfonds bespreek wat hy eintlik met die skoolhoof of administrasie personeel moes doen. Daar is die probleem nou. Daar is geen twyfel in my dat hierdie man die oorsaak is van hierdie rasse-herrie nie! Hy was van die begin af dan vyandig gewees!

Anoniem ·

ES Waarheid is waarheid, dit sal uitkom wie is die rêrige skuldiges ?

waarheid1 ·

Dis jammer dat die hoof so oorhaastig opgetree het – dalk om homself te beskerm neem ek aan.

Jo ·

Die beheerliggaam, nie die hoof nie, hy maak nie self sulke besluite nie.

Chris ·

Jo, hy het haar die eens teenoor die LUR probeer verdedig nie. Sal jy gelukkig wees as jou skoolhoof jou, na hy jou die vorige dag nog ondersteun het ewe skielik die boodskapper van die nie so ‘n goeie tyding is, sonder dat hy vir jou in die bres probeer tree het?

koos ·

Is die hoof dalk gedreig deur die LUR, aangesien hy ‘n staatsdiens amptenaar is?
Die hoof en ander onderwyser moet so gou moontlik ook hulp by Solidariteit en andere vra, anders gaan die ANC regering hulle ook verwoes!

J van Rustenburg ·

Die beheerliggaam het haar onwettig geskors Geen verhoor en geen kans om haar saak te stel nie Die beheerliggaam moet gesamentlik en afsondrlik pa staan vir besluite wat hulle neem Dit beteken enige eies en regskoste sal deur die Bl betaal moet word

Chris ·

J van Rustenburg, wil jy dus sê dat die LUR het druk op die beheerraad uitgeoefen om die dame te skors? Want ek lees nou weer en sien die brig beduie dat die beheerraad het nie uit eie diskresie nie die dame geskors het.

Chris ·

Kom ek raai verder, as die LUR druk uitgeoefen het, beteken dit dan dat die skoolhoof was ‘n gepartementele aanstelling en dat dié se pos in gevaar sou wees as hy en die beheerliggaam nie uitvoering aan die LUR se wens gee nie?

GP ·

Chrs hoe weet jy die skoolhoof het haar nie probeer verdedig nie. Was jy daar in die vertrek gewees? Klink of jy storie opmaak. Hoekom draai julle die storie nou teen die hoof en ander onderwyseres?

Paul ·

Dus het die skoolhoof haar onregmatig geskors! Hy het haar dan ook nie eens teenoor die LUR, Lehari probeer verdedig nie, terwyl hy daarvan bewus moes gewees het dat dié ook onregmatig opgetree het!

Piet Uys ·

As haar weergawe waar is (en as ek dit so lees is dit waarskynlik) gaan die departement, mnr modise en heelwat onder mense n afgeranselde loesing op die hals haal by die arbeidshof.

Anni ·

En watter wonderlike ondersteunende hoof is dit ni.?????
Plaas foto vd een wat di nonsens begin het. En hy moes naam skending vergoeding betaal.

Anoniem ·

Ek weet net God is in BEHEER en hierdie is ‘n TOETS ???

regtig ·

Ek wonder maar net as daar nou 4 wit kinders een kant speel en 4 swart kinders eenkant speel is dit ook rasisties wonder maar net

Lea ·

Martie van Sweizer reneke is seker baie dankbaar vir die insident op haar tuisdorp.

Bosluis ·

@ Lea – jy bedoel Margarat van Wyk :) Die dorp en Whatsapp foto’s het nou al n paar keer die media gehaal

Marga ·

My skok is hoe dit so maklik is vir die skoolhoof om so op te tree teen ‘n onderwyser wat al so lank skoolgee en nie eens haar kant uithoor…whoa…Alwyn Henning, is jy omgepraat?

Paul ·

Hy het die hele agterkant van die deur volgestaan en hy het haar nie eens teenoor die LUR probeer verdedig nie, was net te gretig om haar die tyding mee te deel. Swak Piketberg, swak.

Helen ·

Soos die spreekwoord sê: “benoude katte maak benoude spronge”. Hy het net aan sy eie pos gedink.

Paul ·

En die dag wat die skoolhoof bewus geraak het van die ongelukkigheid van een van die ouers het hy dit met die twee onderwysers bespreek en toe was hy dan heel tevrede met hul hantering van die saak. Maar na die LUR met hom gesels het kon hy nie gou genoeg die boodskap oordra nie.

GP ·

Waar kom julle aan hierdie snert wat julle kwyt raak? Wie se die skool hoof was tevrede met enigiets? Hy het ook mense aan wie hy raporteer en moes uitvoer wat hy moes. Ek neem aan hy het baie vir haar opgekom. Klink my helfde van julle was daar in die vertrek. Draai so vinnig teen mense wat julle eintlik moet ondersteun.

bosluis ·

Nou hoekom kom die juffrou wie se klas dit was en die kinders so geplaas het, skotvry daarvan af?? Dis nou killing the messenger ! Ek het ook nogal heelwat respek vir die skoolhoof verloor – hy het sy rug op die onderwyserres gedraai en eintlik die kant gekies van die LUR/ politieke partye. Siens vir jou

Lindtjies ·

Elana as ek jy is sal ek daardie skool se stof permanent van my voete afskud. Hulle het jou gefaal. Jy sal nie meer op jou gemak voel daar nie. Gaan na ‘n plek toe waar jy met ope arms verwelkom sal word.

Felix ·

Ek stem! Die skoolhoof was maar te gretig om die boodskapper te wees.

Oudste ·

My persepsie, ‘n ruggraatlose hoof en voorsitter van die beheer liggaam. Hierdie twee was veronderstel om op te kom en te verdedig wat reg en geregtigheid aan die leerkrag sou teweeg bring, instede het hulle ruggraat verdwyn en hulle in ‘n hopelose bondel niks verander. Ek verafsku politieke korrektheid, wat weereens die verguising van ‘n onskuldige veroorsaak het. Skaam julle twee, wat net julle gluteus maximusse beskerm het.

Felix ·

As dit nie terwille is nie, weet ek nie wat terwille is nie. Hulle het die onderwyseres vir die wolwe gegooi.

Marietjie ·

Ek se mos kinders sien nie kleur nie.
Die probleem is by die ouers. Hulle sal fout soek.

Michael ·

Kyk ek het nou al siek stories op maroela gelees, maar hierdie een vat die koek.

Wesley ·

Hierdie klink als na n toesmeer van die skoolhoof se kant asook die LUR. Die skoolhoof wil dalk net juf. Barkhuizen onder die bus gooi omdat die skool in so rasseherrie beland het asook die LUR hom beinvloed op ras gedrewe motiewe. Die beleid van kinders skei baseer op taal mag dalk goed klink op papier, maar is totaal onvanpas eintlik. Dis graad R, om hemels naam! En ook die eerste dag vir die kleintjies, laat hul speel en meng met wieookal en mekaar leer ken, en soos die dag se aktiwiteite verloop met klas en take doen, dan kan die juffrou die help en aandag gee wat dit nodig het met taal of watookal in n geformuleerde sitting. Die skoolhoof en ander juffrou wil juf. Barkhuizen as die swart skaap uitmaak. Skaam hul…

Abe ·

Wesley,
Jy klink na n deurwinterde ekspert op die gebied van voorskoolse opvoedkunde en veral van klaskamerpraktyk. Miskien moet jy jou dienste as raadgewer by die skoolhoof en personeel aanbied.

Judge Dredd ·

Wel stel dit so – as die skoolhoof/LUR nie Barkhuizen onregmatig afgedank het nie – dan sou sy dit nou waarskynlik moeiliker gehad het om haar onskuld te bewys.

Die skoolhoof/LUR se optrede beteken ‘n 100% kans op oorwinning vir Barkhuizen binne ‘n “regverdige” hof.

Thinus Erasmus ·

Ek hoop “Ontstoke” het gelees, en saam met al die klipgooiers nou tot ander insigte gekom het:
Het julle gesien wat was die voorbereiding en insette van beide Juffrouens, verstaan julle dat die laat inskrywings die situasie omgekrap het, (tydelik) en dat jul skoon die verkeerde persoon aangeval het?
Ontstoke waar is jy nou, weg soos die aanvanklike “besorgde ma” wat onmiddelik die rassisme gesien het?
Volgens die aanvanklike berig 7 dae terug (bietjie deurmekaar moet ek se) was daar ‘n ma wat op ‘n ander ma se rassisme beskuldiging veroordeel het, dit was seker nie Modise gewees nie. Maar dit het wel die skietgoed gegee waarmee Modise kon lostrek.
Dit is steeds nie duidelik nie, kan MM dit navors asb.?

RC ·

Marco polo ek stem saam, als moet gedoen word om hulle te laat boet, uit ‘n regsoogpunt. Of dit nou die ouer wat dit begin het, die jornalis, die LUR, hoof, politieke partye, ens. is -(sommer almal).

Dan stem ek ook saam: Juffrou moenie teruggaan na die skool, hulle jou klaar in die rug gesteek. Begin jou eie klein skool of gaan sommer uit die dorp uit.

Dankie vir die wat haar bystaan (solidariteit en ander) en nog in haar glo. (ouers en ander). Hierdie is ‘n les en ook moet ons nie terugstaan vir die klippe wat gegooi word nie, maar ons moet opstaan en veg!

Sterkte, ek glo en staan jou, Elana by in my gebede.

Genoeg gehad ·

Julle baklei teen klippe. Dis verkiesingstyd en hulle probeer n punt bewys.

Riaan ·

Ek wonder maar nou so, tong in die kies, mag die kinders op skool dan nou nog skaak geleer word??. Hoekom word kinders in n Afrikaanse Skool wat nie Afrikaans magtig is, ingeneem??,

Rabes ·

Henning dit wil my voorkom asof jy ruggraatloos is en nie vir jou personeel in die bres tree nie. Sies man .

korrelkop ·

Ek dink die kinders is vir die tweede foto geskuif toe die herrie begin losbars.

Anoniem ·

Dit wil voorkom uit hierdie nuwe berigte dat die skoolhoof hierdie onderwyseres gruwelik in die steek gelaat en haar vir die wolwe gegooi het. Om darem per e-pos vir iemand te laat weet dat sy geskors is, is om die minste te se laag en gemeen. Nee wat juffrou Barkhuizen gaan na ‘n skool waar jou ondervinding en liefde vir kinders waardeer sal word.

RHG ·

Dit was baie lelik om so iets vir haar oor die foon te sê. Swak gehanteer. Hy het haar nie eens ingeroep om haar kant aan te hoor nie.
Al my simpatie, Elana. Ek weet net jy het baie seergekry. Daardie skool verdien jou nie. Sterkte.

AmandaD ·

Wat ‘n gemors! Dit wil vir my voorkom of die Skoolhoof en die Beheerliggaam hierdie juffrou onder die bus gegooi het, heel waarskynlik om hulle eie alies te red. Ek wil graag die ander juffrou se kant hoor want sy is tjoepstil en Juf. Elana moet nou almal se pak vat. Dit wil voorkom of Juf. Elana vir die wolwe gegooi is en indien dit waar is, is dit walglik.

AmandaD ·

Juf. Elana
God slaap nie. Die onreg wat aan jou gedoen is, gaan boemerang teen die wat jou versaak het. Byt vas, staan stewig, hierdie mag jou donkerste oomblik wees maar hier gaan iets fantasties vir jou navore kom en NEE ek dink nie jou toekoms is verder by daardie skool saam met ‘n ruggraatlose skoolhoof en Juf. Olivier nie. Jy verdien beter.

AmandaD ·

Ek stem volkome saam met jou. Whatsapp groepe doen meer skade as goed om die waarheid te sê bly wat van ALLE sosiale media groepe.

Johann du Toit ·

Dankie tog ek werk nie saam met daardie skoolhoof nie. Hy is beslis nie in beheer nie, sy kantoor spreek boekdele.

Manie ·

Die inligting is vervat in haar hofstukke. Soos ek dit verstaan dan in openbare domein

JC ·

Ek is seker maar bietjie stadig, maar ek verstaan nou nie so lekker nie. Hoekom is Barkhuizen geskors en woed die bohaai om haar, as dit NIE HAAR KLAS was waar die voorval plaasgevind het nie? Iemand help my verstaan asb…

dinkhardop ·

Dat ‘n meerdereid daagliks so bedreig kan voel vertel my net een ding -die aanwesigheid van oneindige minderwaardigheid

SR MA ·

Ek is ń ma van Schweizer … ń baie hartseer ma … hartseer as ek sien hoe mense ons arme skooltjie se hoof en onderwysers sleg sê … sonder om die feite te ken … ek ken ook nie al die feite nie, maar ek ken ons Hoof, ek ken Juf Olivier en Juf Barkhuizer … en NEE, die hoof kruip nie weg nie, NEE hy is nie slapgat nie … hy is die BESTE hoof wat die skool nog gehad het … Juf Olivier is netso wonderlike, liefdevolle onderwyseres soos Juf Barkhuizen. Jul wat die Hoof so sleg sê moet hoop dat jul nooit sy skoene hoef vol te staan in ń soortgelyke situasie nie … jul is netsoos sosiale media skuldig aan al die hartseer wat veroorsaak word vir die 3 mense en hul families. Jul negatiewe kommentaar is deel van die vuur wat onskuldige mense se lewens verwoes! Hoop jul sal gaan dink daaroor voor jul weer negatiewe kommentaar lewer … oor mense wat jul nie eens ken nie.

Felix ·

SR MA, alle simpatie (empatie), sterkte, mens se hart bloei oor die onnodige wat plaasgevind het. Ek lees weer die kommentare en sien die mense kry die inligting uit die artikel hier bo, so dit lyk nie vir my hulle las stertjies by nie.

GP ·

SR MA. Ek stem saam met jou. Die berig lees dat die hoof die nuus aan haar moes oordra. Wie anders moes? Sy kon ook nie haar saak stel nie maar sy is geskors met betaling. Nie afgedank nie so daar sal n ondersoek wees waar haar kant gestel kan word. Ek lees niks wat die mense se kommentaar regverdie nie.

ilse ·

Dankie SR MA! Almal (ook die hoof en ander onderwyseres) is geregtig om regverdig behandel te word met alle feite geopenbaar. In enige werk voer jy die opdragte van jou werkgewer uit….. in hierdie geval die onderwysdepartement. Ek hoop die slegsê-kritici (wat hierdie persone nie ken nie en nie weet wat van hoër gesag gekom het nie) kan hulle self in die skoene van al drie hierdie persone plaas, wat slagoffers van politiek en nou ook van julle, die klippe-gooiers, geword het.

Anoniem ·

SR MA – Nee Mamma ons hier in die Wes-Kaap se harte is ook seer want hierdie is ‘n heksejag teen onskuldige goeie mense ! WANT SLEGTE GOED GEBEUR MET GOEIE MENSE MAAR Elke verleentheid word ‘n geleentheid ! Sterkte BID vir JULLE ????

Chris ·

SR MA, ek is een van die wat my afleidings uit die artikel maak soos hierbo geskryf. Dit sal wonderlik wees om ook die Skoolhoof se relaas van die gebeure te verneem.

GP ·

Hoe kan mense nou die hoof en ander onderwyseres sleg se. Net oor die media nie oor hulle verslag gee nie beteken nie dat hul nie ook moeilike tyd deur gaan en ook baie spanning het nie. Seker haar hoof en ander personeel doen wat hul kan om haar te help.

GP ·

Hou op teen die hoof en ander onderwyseres te draai. Jul weet nie wat in die vertrek gese was waar besprekings plaasgevind het nie. Hierdie skool moet oppas. N rasse herrie bestaan oor n klein sakie. Blanke ouers haal hul kinders uit die skool vir watter rede ook al en 2 jaar later amper geen plek vir n blanke kind nie. Ek het dit self sien gebeur.

Chris ·

Niemand ‘draai’ teen die hoof en ander onderwysers nie, ons herhaal net wat in die artikel staan.

nico lodewyks ·

Suid-Afrika moet nie vergeet dat die DA JEUGLEIER die oorsaak was van die verpolitisering van hierdie voorval! Straf ASSEBLIEF die DA by die stembus!!!!!!!

M ·

Stop met spekulasie. Julle is regtig niks anders as Modise nie. Hy het gespekuleer oor die foto, voordat hy enige feite gehad het. Julle is presies dieselfde. Ek haat facebook en al hierdie groepies. Dit veroorsaak net moeilikheid.

Anoniem ·

Ja Chris hoekom is die hoof so stil oor al die gebeure by sy skool? Dit is jammer dat Juffrou Barkhuizen al die crap moet vat. Ek kan maar net hoop dat geregtigheid sal seevier in hierdie saak.

Anoniem ·

Nee M dit is nie facebook of die groepies wat die probleem is nie, dit is die mense wat hierdie platforms misbruik wat die probleme versoorsaak.

Chris ·

Dienkie, ek sien Beeld het vandag ‘n artikel wat handel oor die dure les wat met hierdie sage oor persepsies geleer is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.