Scott-Crossley hoor eers dán oor borgtog

EFF-betogers buite die hof. Foto: Twitter

EFF-betogers buite die hof. Foto: Twitter

Mark Scott-Crossley het Dinsdag weer in die Lenyeye-landdroshof naby Tzaneen in Limpopo verskyn.

Brig. Motlafelo Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê dit was die tweede dag van Scott-Crossley se borgaansoek en dat dit sonder voorval verloop het. Scott-Crossley is Maandag in ʼn Njala-voertuig, wat deur swaar gewapende polisielede begelei is, na die hof geneem.

Talle betogers het Maandag en Dinsdag buite die hof saamgedrom en geëis dat Scott-Crossley borgtog geweier word. Die saak is tot 10 Februarie uitgestel wanneer Scott-Crossley sal hoor of sy aansoek suksesvol was. Hy bly in aanhouding.

Scott-Crossley is op 18 Januarie in Pretoria in hegtenis geneem. Maroela Media het vroeër berig ʼn lasbrief is op 21 Desember vir sy inhegtenisneming uitgereik in verband met ʼn voorval op 14 Desember.

Op dié betrokke dag het Silence Mabunda (37) glo iets by ʼn winkel in Hoedspruit gekoop. Mojapelo het vroeër gesê Mabunda het buite die winkel op sy foon staan en praat toe ʼn man die foon uit sy hand gegryp en dit op die grond stukkend gegooi het.

Mabunda het toe glo teruggestap na sy werkplek, ʼn wildrehabilitasiesentrum buite Hoedspruit. Dit is toe dat hy glo deur ʼn voertuig omgestamp is waarna die bestuurder ook met die voertuig oor hom sou gery het. Volgens berigte het Mabunda ernstige beserings aan sy bene opgedoen en loop nou met krukke.

Die polisie het aanvanklik ʼn tref-en-trap-ongeluk ondersoek, maar dit is intussen na ʼn saak van poging tot moord verander.

Scott-Crossley is in 2005 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die moord op een van sy werkers, Nelson Chisale, wat in ʼn hok met drie wit leeus gegooi is. Chisale is glo ook erg aangerand deur twee ander werkers voordat hy in die hok gegooi is.

Scott-Crossley se skuldigbevinding is in 2007 deur die appèlhof ter syde gestel en sy vonnis is na vyf jaar tronkstraf verander vir medepligtigheid aan die daad aangesien daar nie bepaal kon word of die oorledene moontlik al weens die aanranding gesterf het voordat hy in die leeuhok gegooi is nie.

Scott-Crossley is in 2008 op parool vrygelaat en het teen einde 2010 sy vonnis uitgedien. Lees alle vorige berigte oor Mark Scott-Crossley op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

snoefie ·

weet iemand watse vonnisse die medewerkers wat Nelson chisale aangerand het, opgelê was? was silence een van hulle?

Karma ·

Sjoe, dit klink vir my asof dié ou totale disrespek het vir ander se eiendom, gevoelens en lewens. ‘n Goeie prokureur/advokaat of ‘n simpatieke regsbank het hom destyds van ‘n baie lang tronkstraf gered. ‘n Mens sou dink dat hy nou versigtig sou wees met hoe hy met mense omgaan. Maar, regverdigheidshalwe, “let’s not jump te gun” – die berig is vaag hoekom hy in die eerste geval met die sg. “tref-en-trap” insident verbind word, nadat hy die foon uit Mabunda se hand geklap het. Mens weet ook nie wat vooraf gebeur het, voor hy die foon uit die slagoffer se hand geklap het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.