Seaborne-moord: Ma wag steeds ‘vir hom om terug te kom’

Donovan Troskie (29) en Gerhard van der Merwe (27) het Woensdag vir die derde keer in die Pretoria-landdroshof verskyn waar hulle tereg staan vir die moord op die 21-jarige Celvin Seaborne.

(Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Seaborne is in die vroeë oggendure van 9 September – by ʼn vulstasie oorkant die Langarm-nagklub in Mountain View in Pretoria – dood.

Elzabé Brink, die Seaborne-gesin se regsverteenwoordiger, sê die nadoodse ondersoek is nog nie afgehandel nie en beeldmateriaal sowel as ʼn fotoalbum van die toneel is nog uitstaande.

Die saak is dus tot Februarie volgende jaar vir verdere ondersoek uitgestel. Troskie en Van der Merwe is vroeër al op borgtog van onderskeidelik R2 000 en R5 000 vrygelaat.

“Dit is nie noodwendig ʼn slegte ding dat die saak uitgestel is nie. Dit is belangrik dat die nadoodse ondersoek nou eers afgehandel word sodat die oorsaak van dood behoorlik beskryf kan word en die beeldmateriaal deeglik ondersoek word,” sê sy.

Brink sê die saak kan egter nog baie lank neem omdat die verslag oor die nadoodse ondersoek tot nege maande en selfs langer kan duur.

(Foto: Facebook/Charlotte Seaborne)

Charlotte Seaborne, Celvin se ma, het Woensdag aan Maroela Media gesê sy kan nie eet of slaap nie.

“Dit is meer as twee maande sedert my seun uit my lewe geruk is, maar ek wag soms steeds vir hom om terug te kom.

“Die haat in my vir die twee mans wat my seun [na bewering] van my af weggeruk het, word elke dag net meer – en hulle is op vrye voet,” sê sy.

“Hulle kan nog naweke saam met vriende en familie kuier, hulle kan ʼn boodskap vir hul ma of meisie stuur, hulle lewe nog… my seun is net weg.

“Al aanvaar ek dit nog nie heeltemal nie, begin ek besef dat hy nooit weer gaan terugkom nie,” het Charlotte emosioneel by die hof gesê.

Lizelle Herbst, ʼn familievriendin van die Seaborne-gesin, het haar teleurstelling met die toestaan van borgtog aan die beskuldigdes te kenne gegee.

“Iemand is dood… die dierbaarste jong man is uit die lewe van mense geruk wat hom regtig so bitter lief gehad het. Hoe is dit regverdig? Hoe kan hulle net met hul lewe aangaan, terwyl die lewens van soveel ander heeltemal verwoes is?”

Maroela Media het vroeër berig beeldmateriaal wat van die vulstasie se kringtelevisiekameras bekom is, wys volgens Charlotte hoe haar seun kort nadat hy stilgehou en uit sy motor geklim het, deur ʼn man bygedam en herhaaldelik geslaan word. Dit lyk dan of iemand hom van die kant af duik en vashou voor ʼn ander man Celvin op die keel slaan.

Charlotte sê sy is teleurgesteld dat die saak vir so lank uitgestel is, maar besef dat die ondersoekbeamptes tyd nodig het om die saak behoorlik te ondersoek en genoeg bewyse teen die beskuldigdes in te samel.

“Ek wil net hê die skuldiges moet kry wat hulle toekom. Ek hoop hulle sit vir die res van hul lewe agter tralies.”

Chanel, Charlotte en Celvin Seaborne (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Truman Burbank ·

Die twee dinge wat niemand ooit heeltemal oorleef. Om n kind te verloor en om jou ma te verloor. Maak nie saak wat die omstandoghede. ‘n Gedeelte van jou sterf saam met hulle. En sal nooit weer lewe nie

Danie ·

Dit is so maar ons moet net eenvoudig aangaan die lewe staan nie stil nie.Hoop die skuldiges word swaar gestraf geregtigheid moet seevier.

Kaal Keiser ·

Calvin was ‘n dierbare kind met ‘n goeie hart. Hy sou nie ‘n vlieg skade doen nie.

Bolandse Nooi ·

Dalk ‘n geval van “road rage” … miskien het iets vooraf op die pad gebeur en die twee stommerikke het toe in woede gereageer …. Dit maak nie saak nie, mens slaan nie sommer net aan iemand nie. Drie … nee, výf lewens is verwoes… die arme jong man wat vermoor is, sy suster en ma s’n en ook die twee vermeende moordenaars.

Andre ·

…hoop maar net die speurder doen sy werk!
Praat nie eers van die aanklaer wat die dossier lees en moet instruksies gee aan die speurder oor verdere verklarings of getuienis nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.