Seksdaad met kind by Skukuza ondersoek

Die Skukuza ruskamp. (Foto: Kruger National Park)

Die polisie in Mpumalanga ondersoek ʼn klag van seksuele aanranding nadat ʼn minderjarige glo in die woonkwartiere van die Skukuza-kamp in die wildtuin seksueel mishandel is.

Die kind se ma het die saak op 27 Augustus by die polisie in Skukuza aanhangig gemaak.

“Dit is met diepe hartseer en spyt dat SANParke bevestig dat die saak onder ons aandag gebring is,” het die nasionale parkeraad Saterdag in ʼn verklaring gesê.

“ʼn Dokter het die minderjarige meisie ondersoek en die bevindings aan die polisie verskaf. SANParke het nie insae in die mediese verslag nie en vra lede van die publiek om die beweerde slagoffer en haar familie se regte en privaatheid in hierdie verband te respekteer.”

SANParke sê hy is “ontsettend bekommerd” oor hoe so ʼn voorval op sy gebied kon plaasvind. “Ons verdoem hierdie afskuwelike daad ten sterkste en ondersoek die presiese omstandighede waaronder dit plaasgevind het. Dit is ʼn baie sensitiewe saak,” het Gareth Coleman, uitvoerende bestuurder van die Kruger Nasionale Park, gesê.

Die kind en haar ma ontvang tans berading wat deur die park aan hulle beskikbaar gestel is.

SANParke se vroueforum het Donderdag ʼn memorandum aan SANParke se bestuur oorhandig, waarin hulle eis dat verskeie stappe gedoen word om geslagsgebaseerde geweld binne die organisasie te bestry.

“Hierdie memorandum is met SANParke se raad gedeel,” het Coleman afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nie Verbaas ·

Ons is al so gewoond daaraan om van sulke gevalle van sekeres te hoor dat dit nie eers skokkend is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.