Seldsame lelie blom in Stellenbosch

Die reuse-aronskelk in volle blom. (Foto: Facebook)

Groot opwinding het die afgelope paar dae in die Universiteit Stellenbosch (US) se botaniese tuin geheers waar die reuse-aronskelk, ook bekend as die Titan arum (Amorphophallus titanum), vandeesweek in volle blom was. Dié seldsame lelie blom net elke ses tot 15 jaar en blom dan maar vir 48 uur.

Dié lelie in die US se botaniese tuin is ook maar die tweede van sy soort om in Suider-Afrika te blom.

“Ons wag al 15 jaar vir hierdie oomblik!” het Bruce Esau, personeellid van die botaniese tuin, met die blom van die tuin se reuse-aronskelk gesê. “Ons het die lelie die afgelope twee jaar oorgeplant en ʼn  beduidende groei in knolgrootte opgemerk.”

Dié reuse-aronskelk, ook bekend as die lykplant weens sy slegte reuk, is een van die wêreld se grootste blomstrukture en ruik na verrottende dierevleis sodat dit vlieë kan lok vir bestuiwing. Die lelie kan ʼn interne temperatuur van 36 °C bereik, ʼn meganisme wat help met die verspreiding van die reuk.

Die reuse-aronskelk in volle blom. (Foto: Verskaf)

Die seldsame lelie produseer nie altyd ’n blom nie maar soms net ’n groot blaar sodat die plant energie oor die jare kan absorbeer en opgaar om uiteindelik genoeg krag te hê om weer ʼn blom te kan maak.

“Soos die knol in grootte toeneem, neem die blomstruktuur ook in grootte toe en bereik dit uiteindelik ʼn boogte van ongeveer 3 m in volle blom,” sê Esau.

Die reuse-aronskelk is inheems aan die reënwoude van Sumatra in Indonesië en is ʼn hoogs bedreigde spesie. Daar is tans maar slegs 1 000 van die blomme wat nog in die natuur groei.

Die reuse-aronskelk in volle blom. (Foto: Facebook)

ʼn Verlies aan habitat is grootliks die rede dat die lelie bedreig is. “Grond wat vroeër digte tropiese woude en die reuse-aronskelk se tuiste was, is nou uitgestrekte gebiede van palmolieplantasies,” sê Esau.

Die reuse-aronskelk in die US se Botaniese Tuin het teen Woensdagaand begin verlep en sal na verwagting in die komende week heeltemal verwelk wees.

Die reuse-aronskelk voordat hy Maandag geblom het. (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

annie ·

Baie interessant dat die reuse blom, wat glo ‘n verskriklike onwelriekende reuk afgee… soos iets baie dood… nou skielik na jare sal wil blom in Stellenbosch nogal. Is dit nie te vreemd vir woorde nie; so ‘n toevalligheid? Die ou mense sou nogal ‘n konnotasie daar kon raaksien. Is daar dalk tog meer op aarde aan’t werk, ‘n soort van vibe wat die plant op reageer? Dalk ‘n waarskuwing wil rig? Ek vra net.

Karlahari ·

Laat my dink aan Dennis the Menace…..die buur omie se spesiale blom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.