Seldsame siekte ná dekades van pyn gediagnoseer

Peter Erasmus ervaar al vir die grootste deel van sy leeftyd erge buikpyn. (Foto: Verskaf)

ʼn 49-jarige man is onlangs van erge pyn verlos wat dekades lank aan sy gesondheid geteer het. Hy is in die proses met ʼn seldsame siekte gediagnoseer wat slegs twee uit elke 100 000 mense raak.

Peter Erasmus is destyds, terwyl sy ma net vyf en ʼn half maande swanger was met hom, op Kersdag gebore. Hy het met geboorte slegs 500 g geweeg en met dié dat hy met van sy organe buite sy lyf gebore is, is sy gesondheidsuitdagings al ʼn lewenslange stryd.

Erasmus is onlangs gediagnoseer met die seldsame Dunbar-sindroom, ook bekend as die mediaanboogligament-sindroom, wat veroorsaak het dat hy vir die grootste deel van sy leeftyd erge buikpyn ervaar.

“Ek het nog altyd talle toestande gehad, maar my maag het veral in my 20’s ʼn groot bekommernis geraak. Ná ʼn aantal toetse het ek steeds nie ʼn duidelike antwoord gehad oor wat die probleem kan wees nie,” vertel Erasmus.

Die pyn het vir ʼn geruime tyd verbeter, maar met sy ouers se onlangse afsterwe, wat baie stresvol was, het die pyn erg teruggekeer.

“Hierdie keer was die pyn so erg dat dit sou voel asof ek besig was om dood te gaan nadat ek geëet het.”

Dr. Keona Lakey, ʼn chirurg aan die Netcare Sunward Park-hospitaal in Boksburg aan die Oos-Rand, het eindelik die siekte gediagnoseer nadat ʼn reeks ander siektes uitgeskakel is.

“Dit is eerlikwaar net ʼn verligting dat hierdie toestand eindelik gediagnoseer en behandel is. Dit is die grootste las van my skouers af,” sê Erasmus.

Dunbar-sindroom is ʼn toestand wat sedert geboorte voorkom. Volgens Lakey is dit egter uniek vir ʼn pasiënt om so laat in hul lewe gediagnoseer te word, aangesien dit al vroeër geïdentifiseer kon word deur ʼn proses van uitsluiting.

Lakey gee toe dat Erasmus egter in ʼn tyd grootgeword het waar die mediese landskap heelwat anders gelyk het, en met sy rits ander gesondheidskwessies was dit moeilik om dié sindroom by hom te diagnoseer.

“Hierdie sindroom is ʼn uitdagende siekte om te diagnoseer omdat dit so skaars is en die diagnose deur uitsluiting gedoen moet word. Daar is boonop baie ander toestande wat simptomatiese ooreenkomste deel, soos gastritis, galstene, reflukssiekte, pankreatitis en ander siektes. Dit is dus nodig om enige ander moontlikhede uit te sluit voordat met chirurgiese behandeling voortgegaan word en dit is presies wat ons gedoen het.”

Dunbar-sindroom raak die boonste deel van die buik waar die hoofslagaar, die coeliakie-arterie, normaalweg die bloedtoevoer deur die gebied voed. Weens die sindroom word dit egter deur die diafragma saamgedruk. Dit kan langtermyn- chroniese maagpyn en algemene ongemak veroorsaak.

Erasmus het eindelik die operasie gekry wat hom van sy pyn verlos het. (Foto: Verskaf)

Die hantering van dié soort pyn was egter deel van Erasmus se alledaagse lewe.

“Ek het ʼn moeilike begin tot die lewe gehad omdat ek so ondergewig was met geboorte en my interne organe wat aan die buitekant van my lyf was. Ek het die eerste drie jaar van my lewe in die hospitaal deurgebring en was sedertdien in en uit mediese fasiliteite,” sê hy.

Lakey kon Erasmus relatief maklik diagnoseer nadat dit aan die lig gekom het dat die pyn direk met kos verband hou. ʼn CT-skandeerbeeld het die diagnose amptelik bevestig.

“Die enigste manier om hierdie toestand te behandel is deur ʼn operasie. Gelukkig kon ons dit deur middel van ʼn laparoskopiese operasie doen wat ons in staat gestel het om die slagaar veel makliker te sien. Dié soort operasie is minder indringend as ʼn tradisionele operasie en baie veiliger met ʼn korter hersteltyd.”

Lakey en sy kollega en mentor, dr. Imraan Sardiwalla aan die Dr George Mukhari- akademiese hospitaal aan die noorde van Pretoria, het saam die operasie aangepak juis omdat dié sindroom so seldsaam is en hulle onseker was oor wat om te verwag.

“Ons kon gelukkig ʼn duidelike pad na die slagaar kry. Omdat daar tot nou toe nog nie aan die toestand aandag gegee is nie, was die vernouing van die aar erg en moes ons agteruit werk om geleidelik die senuweevesels vry te stel van die coeliakie-pleksus (ʼn ingewikkelde netwerk van senuwees) wat vergroot het. Ons het toe al die senuweeweefsel en die diafragmatiese vesels rondom die slagaar vrygelaat.”

Erasmus het onmiddellik verligting van die pyn ervaar ná die operasie. Hy moes boonop net ʼn paar dae in die hospitaal deurbring.

“Ek voel glad nie meer pyn of ongemak in my maag nie. Ek kan ook my diabetes beter bestuur omdat ek nou ʼn behoorlike, gesonde dieet kan volg sonder om kroniese pyn daarvan te kry,” sê hy.

“Ek is so verlig dat die pyn weg is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Delia ·

Baie goeie nuus vir jou. Alle dank aan die wonderlike dokters. En aan God wat mense die kennis gee

Ovelia ·

Ek sit blykbaar mt selfde prognose.al verskil is di suur in my maag ht al my longe en slukderm verwoes. Ek ht 60% longkappasiteit vdrgrote hart, agv longe wt sukkel. My liggaam is te swak vir enige operasie. Die cherrie op di koek nog parkinsons

Delia ·

Ovelia, ek is regtig so jammer. Dit moet baie moeilik wees om elke dag so te lewe

Di ·

Sjoe kan dink dat dit ‘n groot verligting moet wees na soveel jare van pyn en lyding! So bly hulle kon uiteindelik agterkom wat die probleem eintlik was.

Annette ·

Lekker om ‘n goeie nuus storie te lees. Bly vir jou, Peter Erasmus. Eer aan ons Skepper wat hierdie dokters geseën het met wysheid en insig om die diagnose en operasie te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.