Selfs effektebeurs deur Wêreldbeker geraak

 (Argieffoto: Odd Andersen/AFP)

Die Wêreldbekerrugbytoernooi het ʼn veel groter impak as blote toeskouerwaarde en ʼn span se vertoning kan selfs ʼn invloed op ʼn land se effektebeurs hê. Dan praat ons nie eens van die enorme finansiële inspuiting wat dit aan die gasheerland bied nie.

Prof. Waldo Krugell, ekonomiese kenner verbonde aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se fakulteit vir ekonomiese en bestuurswetenskappe, sê baie navorsing is al internasionaal gedoen oor die uitwerking wat ʼn span se prestasie in ʼn internasionale toernooi op die betrokke land se ekonomiese aktiwiteite het.

“Die ekonomiese impak is divers. Dis ʼn lang toernooi en ontleders het reeds gewaarsku oor die gevolg wat dit op werkers se produktiwiteit kan hê, veral met die dat die meeste van Suid-Afrika se wedstryde op ʼn Sondag gespeel word. ʼn Wen of verloor kan daartoe lei dat mense die Maandag ná die wedstryd afwesig is by die werk.

Hy noem egter die bierbedryf is nie heeltemal oortuig dat dit wel die geval sal wees nie, aangesien verbruikers finansieel swaar kry en beurtkrag beteken dat kroeë nie altyd die bier kan koud hou nie.

Krugell sê ʼn wen of verloor kan ook ʼn impak op die land se effektebeurs hê. “Wanneer die nasionale span verloor, is beleggers ietwat depressief en die volgende dag is gewoonlik ʼn slegte een vir die plaaslike effektebeurs. Navorsing het hierdie tendens tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi, sowel as internasionale rugby‑ en krieketwedstryde waargeneem.”

Ander navorsing het in die verlede gekyk na wat met borge van groot internasionale toernooie se aandeleprys gebeur. “In die geval van die PGA-gholftoernooi en die Amerikaanse Nascar-wedrenne, vaar borge se aandele beter vir die duur van die kompetisie.”

Japanese spelers sing die volkslied voor hul wedstryd teen Suid-Afrika, tydens die 2019 Wêreldbeker-rugbytoernooi. (Foto: Shuji Kajiyama/ AFP))

ʼn Wêreldbekerrugbytoernooi hou ook groot ekonomiese voordele vir die gasheerland in. Wêreldrugby sê in ʼn inskrywing op hul webblad dat ʼn Wêreldbekertoernooi gewoonlik ongeveer £2 miljard (R46 miljard) vir die gasheerland genereer. Luidens ʼn verslag deur Ernst en Young in 2020, het die Wêreldbekertoernooi in 2019 die grootste ekonomiese impak gehad, met £3,4 miljard (amper R80 miljard) wat vir Japan gegenereer is.

“Die finansiële sukses van die mans se Wêreldbeker, maak dit ook moontlik vir Wêreldrugby om groot bedrae in die ontwikkeling en groei van die sport te belê en te verseker dat die sport so toeganklik en genotvol vir soveel moontlik mense is.”

Wêreldrugby het in 2020 gesê hulle hoop om tussen 2022 en 2023 meer as £565 miljoen (ongeveer R13 miljard) in die sport te belê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.