Semenya soek geld vir regstryd

Caster Semenya. (Foto: PhillipMagakoe/AFP)

Die dubbele Olimpiese kampioen Caster Semenya het Vrydag vir finansiële hulp gevra vir haar regstryd teen regulasies wat vereis dat vroueatlete met hoë testosteroonvlakke medikasie moet neem.

Semenya berei tans voor vir ʼn verhoor wat in Mei in die Europese menseregtehof in Straatsburg, Frankryk, sal dien.

Die 33-jarige Suid-Afrikaanse atleet het verlede Julie ʼn lang regstryd in Switserland se hooggeregshof gewen toe dié hof beslis het dat Semenya die slagoffer van diskriminasie is.

Semenya het die kwessie betwis of haar regte geskend is wat betref ʼn vereiste dat vroue met hoë testosteroonvlakke verplig word om dié vlakke met die gebruik van medikasie te verlaag.

Die driemalige wêreldkampioen in middelafstand-wedlope word as ʼn DSD-atleet, dus ʼn atleet met “verskille in seksuele ontwikkeling”, geklassifiseer.

Sedert Wêreldatletiek se beheerliggaam in 2018 reëls ingestel het dat vroue met hoë testosteroonvlakke verplig word om dié vlakke met die gebruik van medikasie te verlaag, het Semenya geweier om dit te doen. As gevolg hiervan is sy verbied om aan die 800 m-item deel te neem.

In haar lang regstryd het Semenya ʼn appèl in die sportarbitrasiehof verloor en drie jaar gelede het Switserland se hooggeregshof die beslissing bekragtig. Semenya het daarna haar saak teen Switserland se hooggeregshof na die Europese hof vir menseregte geneem, en die appélsaak gewen.

Die Julie-uitspraak deur die menseregtehof was grootliks simbolies aangesien dit nie die Wêreldatletiek-uitspraak bevraagteken nie en nie die weg baan vir Semenya (of enige ander persoon in haar posisie) om terug te keer na kompetisie sonder om die medikasie te neem nie.

Switserse owerhede, gesteun deur Wêreldatletiek, het ná die uitspraak aangekondig dat hulle hul saak na dieselfde menseregtehof sal neem. Dié hof se uitsprake is bindend.

Verhore sal na verwagting op 15 Mei begin.

“Ons kort geld. Ons het baie kundiges wat inkom wat ons moet betaal,” het Semenya vandeesweek op ʼn nuuskonferensie in Johannesburg gesê.

“Enigiets wat jy kan bydra, maak ʼn groot verskil.”

Semenya het onder meer Olimpiese goud by die 2012 Londen Spele en weer in Rio in 2016 gewen.

Wêreldatletiek het die DSD-regulasies ingestel om ʼn gelyke speelveld in vroue-byeenkomste te skep.

Semenya was gedwing om aan die 5 000 m-item deel te neem, ʼn afstand waarin sy nie die eindstryd van die 2022 Wêreldkampioenskap in Eugene kon haal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.