Europese menseregtehof gaan beslis oor Semenya

Caster Semenya (Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein)

ʼn Sitting van al 17 lede van die Europese hof vir menseregte het vandeesweek ingestem om uitspraak te lewer oor die regulasies wat die Suid-Afrikaanse atleet Caster Semenya verhoed om aan internasionale atletiekbyeenkomste deel te neem. Semenya mag nie aan die byeenkomste deelneem nie omdat sy weier om medikasie te neem om haar testosteroonvlak te verlaag.

Die Olimpiese 800 m-kampioen het in Julie vanjaar ʼn lang regstryd in die internasionale hof in Straatsburg gewen, wat beslis het dat sy die slagoffer van diskriminasie is.

Switserse owerhede, gesteun deur Wêreldatletiek, het egter sy voorneme aangekondig om die saak na die Europese hof vir menseregte te neem. Dié hof se uitsprake is bindend.

Die uitspraak van vroeër is met ʼn skrale meerderheid van vier regters teenoor drie gelewer.

“Op 6 November is die saak op versoek van die Switserse regering na die volle bank van 17 regters van die Europese hof vir menseregte verwys,” het dié hof gesê. Dit is egter nie duidelik wanneer die saak weer ondersoek sal word nie.

Die driemalige wêreldkampioen in middelafstand-wedlope word as ʼn DSD-atleet, dus ʼn atleet met “verskille in seksuele ontwikkeling”, geklassifiseer. Sy het nog altyd wetlik as vrou geïdentifiseer.

Sedert Wêreldatletiek se beheerliggaam in 2018 reëls ingestel het dat vroue met hoë testosteroonvlakke verplig word om dié vlakke met die gebruik van medikasie te verlaag, het Semenya geweier om dit te doen.

As gevolg hiervan is sy verbied om aan die 800 m-item deel te neem.

In haar lang regstryd het Semenya ʼn appèl in die sportarbitrasiehof verloor en drie jaar gelede het Switserland se hooggeregshof die beslissing bekragtig.

Semenya het daarna haar saak teen Switserland na die Europese hof vir menseregte geneem.

“Switserland het die noue ruimte van waardering wat aan hom toegestaan is oorskry. Die saak het gehandel oor diskriminasie op grond van geslag en seksuele eienskappe wat ‘baie gewigtige redes’ vereis by wyse van regverdiging,” het die Europese hof vir menseregte destyds gesê.

“Die groot belang van die saak vir die applikant en die noue ruimte van waardering wat aan die respondentstaat verleen is, moes gelei het tot ʼn deeglike institusionele en prosedurele hersiening, maar die applikant kon nie so ʼn hersiening kry nie.”

Die Europese hof vir menseregte se beslissing was grotendeels simbolies, aangesien dit nie Wêreldatletiek se uitspraak bevraagteken het nie en nie die weg baan vir Semenya om terug te keer na kompetisies sonder om die medikasie te neem nie.

In Semenya se nuwe boek, The Race to Be Myself, het sy erken dat haar loopbaan as die beste atleet verby is.

“Ek sal nie die medikasie neem nie. Dit beteken dat ek nie meer in enige Wêreldatletiekkompetisie sal kan hardloop nie,” het sy gesê.

Semenya het goud gewen op die 2012-Olimpiese Spele in Londen en weer in Rio in 2016. Sy het ook wêreldtitels in 2009, 2011 en 2017 opgeraap.

Wêreldatletiek het die DSD-regulasies ingestel om ʼn gelyke speelveld te skep in vroue-items wat wissel van 400 m tot een myl. Semenya moes noodgedwonge oorskakel na die 5 000 m-item, wat ʼn afstand is waarin sy nie die eindstryd in verlede jaar se wêreldkampioenskap in Eugene, Oregon, in die VSA kon haal nie.

In Maart vanjaar het die federasie die reëls gewysig. DSD-atlete moet nou hul testosteroonvlakke verminder tot minder 2,5 nanomol/ℓ, wat laer is as die vorige vlak van 5 nanomol/ℓ. Die atlete moet ook vir twee jaar lank onder hierdie drempel bly.

Wêreldatletiek het ook intussen die reël verwyder dat DSD-atlete aan beperkte items kan deelneem, wat beteken dat regulasies nou alle afstande dek, eerder as dié wat voorheen gemonitor is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ore ·

Almal soek geregtiheid en alamal soek gelykheid. Almal kan mos nie gelyk wees nie want almal is nie dieselfde nie. Daarom ding mans teen mans mee en vroue teen vroue. Waarom nie byeenkomste reel waar mense soos Caster teen mekaar kan meeding nie? Gaan ons in die toekoms rugbyspanne sien wat uit mans en dames bestaan?

Nici ·

Dis die gevaar ja. Dat vrouesport sal verdwyn. Daar was ‘n internasionale oop katagorie vir swem en niemand wou inskryf daarvoor nie.

richard ·

Wat ek nie verstaan nie is hoekom hy nie die middle will gebruik nie.
Dit lyk vir my of hy weet hy sal dan nerens kom nie

Gaitsigubib ·

Daar is nog mense soos hy, in die VSA veral. Dis nie net in SA nie.

Anel ·

Kyk, die een is nie ‘n vrou nie. Dit het dan 2 kinders by ‘n vrou verwek!! Wat het dan nou van “vroueregte” geword, as mans teen vrouens deel neem? Lyk my ook die een is net ‘n vrou wanneer dit hom pas. Ek hoop die hof neem die regte besluit, vir vroue!! In die VSA is dit al so erg dat as ‘n man ‘n pruik opsit en besluit hy is nou ‘n vrou, dan is dit maar reg so. En kyk bietjie watter bevolkingsgroep gaan so te kere!!! Mans mag nie meet mans wees nie en vrouens nie meer vrouens nie. Ek stel voir dat die wat nie weet wat hulle is nie, dan maar teen mekaar deelneem. Dit sal mos nou regverdig wees.

electricmango ·

Maar hoekom n Europese hof? Hoekom kan Lesotho of Kenia nie die besluit maak nie. Sal Caster die uitspraak van n Europese hof aanvaar, n wit hof wat wil kom voorskryf wat sy mag en nie mag doen nie – gaan nie werk nie.

Cherokee ·

So jy wil dus dat ‘n Afrika-land die Europese Sportbewegings voorsê oor wat in Europa en elders moet gebeur.

Carolina ·

Sy raak nou regtig vervelig en ek weet nie watter liberale borg al die hofsake nie!! As jy nie regverdig wil meeding teen regte vrouens nie en jou pil drink nie bly dan by die huis of hardloop teen die mans ok!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.