Semigrasie, eerder as emigrasie, kan verkiesingsuitslag swaai

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Andrew Neel/Unsplash)

Die meer as 29 000 Suid-Afrikaners in die buiteland op die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se kiesersrol sal waarskynlik later vanjaar hul kruisie langs enige ander naam as dié van die ANC trek.

Maroela Media het die afgelope weke berig oor verskeie uitdagings wat buitelandse kiesers ervaar om te kan registreer en uiteindelik in die 2024 nasionale verkiesing te kan stem.

Kenners wys egter daarop dat, sou elkeen van dié Suid-Afrikaners wel op verkiesingsdag by ʼn Suid-Afrikaanse stempunt in die vreemde aanmeld, en vir dieselfde party stem, hul stemme steeds nie genoeg sal wees om een setel in die parlement te verseker nie.

Prof. Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, het vandeesweek aan Maroela Media verduidelik dat ʼn politieke party sowat 50 000 stemme vir een setel in die parlement nodig het.

“In daardie opsig is dié stemme vanuit die buiteland statisties weglaatbaar klein. Dit gaan nie vir één party ʼn setel bybring nie.”

Venter glo tog dié se stemme is “simbolies belangrik” aangesien elke Suid-Afrikaner die demokratiese reg het om te stem.

“Die syfer is nie wesenlik, nee. Maar dit is nie waaroor die geveg gaan nie,” beaam Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI). “Hulle bly Suid-Afrikaanse burgers wat steeds moet kán stem. Dit gaan oor die beginsel van die saak.”

Venter en Mulder sê albei ʼn klein proporsie van die Suid-Afrikaners in die buiteland wat geregistreer is om te stem, sal eindelik op die dag hul kruisies trek.

ʼn Kwart (25%) van lesers in die buiteland wat onlangs aan ʼn peiling van Maroela Media deelgeneem het, het aangedui dat hulle beplan om te stem, omdat hulle graag eendag na Suid-Afrika sal wil terugkeer en hoop dat die situasie op tuisbodem voor dán verbeter.

Sowat 32% het aangedui hulle sal stem ter wille van die land en dié wat nog in Suid-Afrika woon.

Altesaam 17% het egter aangedui dat hulle nie meer omgee wat met die Suid-Afrikaanse politiek gebeur nie en daarom nie gaan stem nie. Sowat 13% gaan wegbly omdat hul stem volgens hulle geen verskil gaan maak nie.

(Argieffoto)

Fokus eerder op semigrasie as emigrasie

Venter én Mulder glo semigrasie gaan veel meer betekenisvol as emigrasie in die komende nasionale en provinsiale verkiesing wees, veral wat die provinsiale verkiesing betref. Dit is omdat die hoeveelheid mense in die provinsie eindelik die hoeveelheid wyke en takke in ʼn provinsiale regering bepaal.

Semigrasie verwys spesifiek na die toestroming die afgelope paar jaar van mense van KwaZulu-Natal na Gauteng en mense van die Oos-Kaap en Gauteng na die Wes-Kaap.

Venter sê semigrasie is tot ʼn groot mate ʼn verskynsel van verstedeliking.

“Ongeveer 67% van die Suid-Afrikaanse bevolking woon nou in groot dorpe en stede. Dit is ook polities belangrik, want die ANC het hom altyd daarop geroem dat ʼn groot deel van sy permanente steun uit die landelike gebiede kom.

“Maar diegene in die landelike gebiede word al minder.”

ʼn Onlangse peiling het gewys 50% van kiesers op die platteland beplan om vanjaar vir die ANC te stem, teenoor 38% van kiesers in die stad en 33% van kiesers in metro-gebiede.

Mulder wys op sy beurt daarop dat 1,3 miljoen tot 1,4 miljoen van diegene wat tans in die Wes-Kaap woon, in die Oos-Kaap gebore is  – ʼn provinsie waar die ANC sterk steun geniet.

“Hierdie mense is gewoonlik ANC-kiesers en bring vir die ANC so ʼn bietjie relevansie in die Wes-Kaap. ʼn Mens kan dieselfde sê van die instroming van mense vanuit die landelike gebiede na Gauteng. Dit is ʼn pluspunt vir die ANC [wat semigrasie betref],” verduidelik Mulder.

“Maar wat ons óók sien is dat die ANC ʼn soort Zanu PF-karakter kry wat steun betref. Die party is baie sterk in die landelike gebiede. Maar dit lyk of die kiesers wat na stedelike gebiede verhuis, ontnugter word en nie weer vir die ANC stem nie óf net wegbly van die stembus.”

Mulder verwag daarom dat die ANC in die komende verkiesing goed sal vaar in die landelike gebiede maar slegter in die metro’s.

Argieffoto van ANC-ondersteuners. (Foto: GCIS)

Venter maak dieselfde voorspelling.

“Stedelinge se politieke belewenis is heeltemal anders as dié op die platteland. Indien jy in die landelike gebiede woon en ʼn maatskaplike toelaag ontvang en onderhewig is aan ʼn tradisionele leier, het jy min ander keuses as om vir die ANC te stem.

“Dit is ʼn eenvoudige ontwerp. Dit maak die landelike gebiede vir die ANC so vrugbaar.

“KwaZulu-Natal was nog altyd die provinsie waar ANC-steun gemanifesteer het. Maar oor die laaste tien jaar het dit Gauteng geword,” sê Venter.

“Indien jy na die ANC se interne prosesse gaan kyk, is ongeveer 20% van alle ANC-takke in KwaZulu-Natal gevestig, terwyl Gauteng oor omtrent dieselfde hoeveelheid takke as Mpumalanga en Limpopo beskik.

“Die hoeveelheid takke in Gauteng is dus heeltemal uit balans met die verteenwoordiging wat ANC in Gauteng het.”

Venter sê dis te midde van emigrasie en semigrasie dus belangrik dat politieke partye aanpas by die veranderende omstandighede en hul steun uitbrei.

Hy sê die ANC was veral stadig om aan te pas.

“Gauteng beskik tans oor meer mense as KwaZulu-Natal, wat beteken dat Gauteng al meer belangrik word – nie omdat dit 35% van die land se ekonomie teenwoordig nie, maar omdat dit tans die getalrykste provinsie in die land is.

“Die ANC het in gebreke gebly om aan Gauteng die erkenning te gee wat hom eintlik binne die ANC toekom, in terme van takgrootte en -verteenwoordiging.”

Venter meen die situasie het homself egter in ʼn sekere sin self “uitgesorteer”, aangesien KwaZulu-Natalse verteenwoordigers nie hond haaraf gemaak het in die laaste twee interne ANC-leierskapsverkiesings nie.

“Soveel so dat daar op die oomblik nie ʼn enkele Zoeloe in die topsewe is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.