Senekal-boer kyk ‘met nuwe oë’ ná vrylating

André het 29 kg in die tronk verloor (Foto: Facebook)

Vir André Pienaar, ʼn boer en sakeman van Senekal in die Vrystaat, is alles aan die buitekant van die tronk nou “ekstra mooi” en “ekstra lekker”. Hy is op 24 Januarie uit die Senekal-gevangenis vrygelaat ná “tien maande van lewende hel”.

“Dit voel asof ek vir tien maande ʼn katarak op die oë gehad het, maar dit is nou verwyder en ek kan alles weer duidelik sien,” vertel Pienaar.

Pienaar is in Maart verlede jaar tien maande tronk toe gestuur ná ʼn oproer buite die hof op Senekal in Oktober 2020. Lede van die gemeenskap het saamgetrek tydens die verskyning van twee mans in verband met die moord op Brendin Horner.

Pienaar het op verskeie aanklagte, waaronder brandstigting, poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, tereggestaan, maar is uiteindelik net op aanklag van openbare geweld skuldig bevind.

Vryheid

Pienaar is op parool vrygelaat en volgens hom moet hy nou vir vier jaar elke tree reg gee om nie weer terug te gaan tronk toe nie.

Volgens sy paroolvoorwaardes mag hy nie buite die Senekal-distrik beweeg sonder om toestemming by sy paroolbeampte te kry nie. Omdat die polisie se stelsel die dag van sy vrylating van lyn af was, is al sy paroolvoorwaardes nog nie aan hom deurgegee nie. Hy het ʼn week gelede weer ʼn draai by sy paroolbeampte gemaak om oor die voorwaardes op te volg, maar die stelsel was toe steeds af, vertel Pienaar.

Pienaar werk tans vir ʼn boer op ʼn plaas in die Winburg-omgewing. Hy woon saam met sy vrou, Talitha, en twee dogters, onderskeidelik 18 en 15 jaar oud, op Senekal.

Vir Pienaar is dit ʼn aanpassing om weer in die “normale lewe” te funksioneer, maar hy het inderdaad vry gevoel die dag toe hy sy voete buite die tronk gesit het.

“Dit voel lekker om nie vir alles toestemming hoef te vra nie.”

Dit is vir hom vreemd om ander kos as tronkkos te eet en weer langs sy vrou in die aande te kan slaap, vertel hy.

‘My gesin en God het my gedra’

André Pienaar buite die hof op Senekal. (Foto: Maroela Media)

Pienaar se 15-jarige dogter is op Senekal op skool en sy 18-jarige dogter gaan vanjaar ʼn oorbruggingsjaar aan die Universiteit Pretoria doen. Sy beoog om tandheelkunde te studeer en wil graag eendag as ortodontis spesialiseer.

Vir Pienaar voel dit of hy reeds so baie van sy dogters se lewe gemis het terwyl hy in die gevangenis was.

“Ek het my dogter se matriekafskeid gemis en haar 18de verjaardag, wat groot mylpale in jou kind se lewe is.”

Sy hoogtepunt in die gevangenis was sy gesin se besoeke aan hom oor naweke tussen 09:00 en 12:00. Sy dogters het dan ook vir hom briefies gegee wat hulle vir “hul pappa” geskryf het.

“My vrou sou soms ook vir my iets lekker bring om te eet, soos ʼn klein pizza of oorskiet potjiekos. Dit het soos manna gesmaak in vergelyking met die tronkkos. Ek sou soms ná dié bederfies maagpyn ontwikkel omdat my liggaam nie aan sulke kos gewoond was nie.”

Dit was Pienaar se gesin en die Here wat hom hoop gegee het om deur die tien maande te kom.

“Ek het erg depressief en emosioneel in die tronk gevoel. Een dag het omtrent soos tien maande gevoel. Psalm 91 het my beslis deurgehelp. Vandag kan ek bevestig dat Hy jou volkome sal bewaar en nie toelaat dat enige mens jou leed aandoen nie.”

Pienaar het ook ʼn goeie vriend, Johannes, in die tronk gemaak en dié het die tyd in die tronk ook vir hom meer draaglik gemaak. Johannes dien tans ses jaar tronkstraf uit vir veediefstal.

“Ons het soos broers geword. Hy het uitgekyk vir my.”

Soos vroeër berig was Pienaar ná ses maande toegelaat om tussen 09:00 en 14:00 buite in die groentetuin te werk, indien daar genoeg wagte was. Dit het ook sy gemoed goed gedoen.

“Naas die tuinwerk was dit die hoogtepunt van my dag om ʼn strepie deur die dag se datum te trek en te weet ek is ʼn dag nader aan vryheid.”

Pienaar het ook ʼn boek in die tronk begin skryf om sy ervaring neer te pen. Hy wil so met ander mense die lesse wat hy in die tronk geleer het deel.

“In die tronk het jy baie tyd wat jy kan gebruik om jouself te ontdek en jou verhouding met die Here te versterk. Dit is wat ek gedoen het. Ek het baie met die Here gepraat. Ek het Hom baie gevra hoekom hierdie ding oor my pad gekom het. Ek het geworstel met die feit dat ek tronk toe gestuur is hoewel ek niks verkeerd gedoen het nie. Hy het my gehelp om vrede daarmee te maak.”

Oor die vraag hoe ʼn mens die stukke optel en aangaan, sê Pienaar hy sal bloot sy kop optel en aangaan met sy lewe.

“Dit help aansienlik dat ek soveel ondersteuning van die gemeenskap en ander boere kry. Dit was ook hierdie mense wat my gesin in die tien maande emosioneel en finansieel bygestaan het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

TRP ·

Ek dink nie hy het hierdie verdien maar so dankbaar sy familie het hom bygestaan.

Kiewiet8 ·

Ons is 110% agter jou Andrè. Dis n bittere onreg wat aan jou gedoen is. Ek het al uit die perde se eie bekke gehoor hoe hulle met gevangenis maak, oor die goor kos, oor mishandeling, ek is sò bly jy bring dit in die ope dat mense hul oogklappe kan verloor en besef wàt presies in die liberales se krale aangaan. Dis maklik vir sommige om blind te gaan oor wat hulle nie met eie lyf sien en voel nie. Kan nie wag om meer te lees nie! Alle seën en sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.