Binnekant van die tronk ‘’n lewende hel’

André Pienaar buite die hof op Senekal. (Foto: Maroela Media)

“’n Lewende hel” en “ʼn heel nuwe realiteit waaraan jy nie sommer gewoond raak nie”.

Dit is hoe André Pienaar, ʼn sakeman van Senekal in die Vrystaat, sy tien maande in die tronk beskryf.

“Jy wag meestal die tyd om onder ʼn vuil kombers en deurgelêde matras in ʼn sel wat jy met omtrent 20 ander mense deel. Die selle stink. Jou medegevangenes praat almal ʼn taal wat jy nie verstaan nie. Dit is dan wanneer ek my na die Bybel gewend het. Net ek, die Vader en ʼn nat kussing, deurweek van trane.”

Pienaar is verlede jaar vir tien maande tronk toe gestuur in verband met die oproer by die Senekal-landdroshof in Oktober 2020. Honderde mense het die betrokke dag voor die hof saamgedrom in afwagting op die verskyning van Brendin Horn se beweerde moordenaars. Pienaar het destyds onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hom en glo tot vandag toe die polisie het ‘n sondebok gesoek om ‘n voorbeeld van te maak.

Hy is op 24 Januarie vrygelaat en het met Maroela Media gesels oor sy ervaring in die gevangenis.

“Ek het eers ná ses maande begin aanvaar ek is in die tronk. Die geworry oor my vrou en kinders en die gevoel dat jy nie hier hoort nie, het nie weggegaan nie. Ek kon nooit gewoond raak aan die harde geluid van tronksleutels en deure wat toeklap nie. Ek dink as ek langer hier moes wees, sou ek dit nie gemaak het nie.”

“Ntate, jy vat lank om gewoond te raak,” het ʼn medegevangene op ʼn dag vir hom gesê.

As gevolg van die swak gehalte van die kos in die tronk het hy in tien maande 29 kg verloor.

ʼn Klag van aanranding is ook tans hangende nadat Pienaar in Julie verlede jaar na bewering deur een van die tronkwagte aangerand is.

Pienaar is ná sy vonnis in Maart verlede jaar na die Bethlehem-gevangenis gestuur. ʼn Maand later is hy na die Senekal-gevangenis oorgeplaas, waar hy die res van sy vonnis uitgedien het.

Hy is aanvanklik in ʼn sel saam met 20 ander gevangenes aangehou. “Hulle het so erg dagga in daardie sel gerook dat ek nie asem kon kry nie. Tronkbewaarders het toe vir my en sewe ander ‘nie-rokers’ na ʼn aparte sel geskuif. Ons was later 18 in die sel.”

Tronkkos is gʼn piekniek

André het 29kg in die tronk verloor (Foto: Facebook)

Gevangenes word soggens 07:00 wakker gemaak met slap pap, hawermout- of Maltabella-pap. “Die pap is gewoonlik koud en vol vlieë. Om 11:00 het ons flou koeldrank en vyf snye brood gekry, sonder botter en as jy ʼn gelukkig is ʼn blerts konfyt. As die staat nie geld het nie, wat dikwels gebeur het, kry ons nie eens ʼn druppel koeldrank nie.”

As aandete om 15:00 kry gevangenes gewoonlik vleis met pap, stampmielies of kool. “Ek kon baie keer ruik die vleis is af, dan sit ek nie my mond daaraan nie. Dit was duidelik dat die vleis elke keer in dieselfde olie gebak word.”

Pienaar vertel hy is een keer gevra om te help om die vleis te saag en het met sy eie oë gesien die vleis is vrot. “Die vleis was wit van die wurms en het ʼn groen kleur gehad. Skuim het uit die vleis gekom. Ek het vir die beamptes gesê die vleis is vrot, maar hulle het my opdrag gegee om aan te hou saag.”

Tussen maaltye het Pienaar tyd in die selle deurgebring deur in te kleur of te verf. Een van sy medegevangenes het hom geleer om modeltrokke en motors uit bokse te maak.

Hy het ook begin om ʼn boek te skryf.

“Jy moet iets kry om te doen, want jy wag jou lewe om.”

In Bethlehem kon Pienaar by geleentheid televisie kyk, maar in Senekal was daar nie ʼn televisie nie.

Om 15:30 word gevangenes in hul selle tot 07:00 die volgende oggend toegesluit. Die meeste van die gevangenes in sy sel was van Nigerië, Mosambiek of Botswana afkomstig.

“My medegevangenes het in die aande gelê en gesels of speletjies gespeel. Ek kon nie hulle taal verstaan nie en hulle het my ook nie betrek nie.”

Pienaar vertel koue, oop storte was sy voorland. “Ek het lakens van die beddens gebruik om gordyne vir die storte te maak.”

Tydens beurtkrag het Pienaar die koplig gedra wat sy vrou vir hom gebring het, want die tronkselle was donker. Sy is ook toegelaat om vir hom ʼn skootrekenaar te bring waarop flieks gelaai is.

Die vier mure van die tronk het Pienaar egter baie depressief gemaak. “As ʼn boer wou ek buite wees.”

Ná ses maande in aanhouding is Pienaar toegelaat om tussen 09:00 en 14:00 buite in die groentetuin te werk, indien daar genoeg wagte was.

“Lede van die Senekal-gemeenskap het vir my saad gebring om te plant en een boer het ʼn trekker gestuur sodat ek die grond kan bewerk.

“Ons het later van ons eie groentetuin se groente geëet.”

Smokkelaars floreer

Volgens Pienaar het hy homself eenkant probeer hou omdat hy nie by enige sindikaat betrokke wou raak of in die moeilikheid “met die verkeerde persone” beland nie.

“Ek was bewus van ʼn dwelm- en goudsindikaat wat in die gevangenis bedryf word. Dwelms was volop in die tronk. Meestal word dit met behulp van die tronkwagte ingesmokkel.

“In die gevangenis op Bethlehem het ek self gesien hoe dagga in Checkers-sakke oor die tronk se heining gegooi word. Dit gebeur gewoonlik rondom 12:00 wanneer die wagte skofte ruil.”

Pienaar vertel dat gevangenes ook met beamptes gekonkel het om selfone in die hande te kry. “Só is baie van die sindikate vanuit die tronk bedryf. Een van die gevangenes van Botswana het vanuit die tronk deur middel van ʼn selfoon (wat hy by ʼn tronkwag gekry het) sy boerdery bestuur.”

Pienaar het ook die tronk met zama-zamas (onwettige myners) gedeel wat in Ficksburg sonder paspoorte gevang is. Hulle was glo deel van ʼn goudsindikaat, vertel Pienaar.

“Almal in die tronk was bang vir die zama-zamas omdat hulle soveel mag het.”

Sy nuutgevonde vriend Johannes, wat ses jaar tronkstraf vir veediefstal uitdien, het vir Pienaar uitgewys wie gevaarlike gevangenes is.

“Snaaks genoeg het die gevangenes my uitgelos omdat hulle oor my in die koerant gelees het en onder die indruk was dat ek ʼn boeremag agter my het.”

Tog was daar wel ligpunte en Pienaar meen hy het sterker uit die tronk gekom as wat hy daar ingegaan het. Lees Sondag op Maroela Media wat Pienaar hoop gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.