Sentrum vir begaafde leerders in Swartland beplan

Deur Johan Viljoen

Hjalmar Rall by ‘n plakaat van een van die studies waarby hy tans betrokke is. (Foto: Verskaf)

Hjalmar Rall het pas 21 geword en het die eerste jaar van sy doktorsgraadstudie in kwantumfisika in Duitsland agter die rug.

Hy het sy eerste graad in fisika reeds op 14 by die Universiteit van Pretoria aangepak en sedertdien sy BSc-, honneurs- en meestersgraad met lof afgehandel. Hy is tans in Freising verbonde aan die Duitse TUM-universiteit se Skool vir Lewenswetenskappe.

Terwyl Rall besig is met sy doktorsgraad, beoog sy ouers nou om ʼn nie-winsgewende sentrum vir die ondersteuning van intellektueel begaafde kinders in die Swartland op die been te bring.

Hjalmar se pa, Heinrich Rall van Riebeek-Kasteel, sê ná jare se blootstelling en werk met begaafde kinders besef hy meer en meer hoe min ondersteuning daar is en dat dié kinders dikwels sukkel omdat die stelsels hulle in die steek laat.

Hy sê die sentrum sal die Swartland, omliggende plattelandse dorpe sowel as Kaapstad kan bedien. “Dit sal ook uitreik na onderwysers sodat hulle hierdie kinders kan identifiseer en kan help om die kinders te laat assesseer vir begaafdheid sodat hulle gehelp kan word.”

Riana de Villiers, ʼn sielkundige van Pretoria wat reeds vir jare kinders toets vir intellektuele begaafdheid, beaam die groot behoefte aan ʼn sentrum vir begaafde kinders.

Sy sê hulle kan kinders reeds van die ouderdom van drie jaar met individuele interaktiewe evaluasiesessies toets.

De Villiers, wat ook al sedert die 1990’s mense en kinders vir Mensa evalueer, verduidelik dat kinders met ʼn IK van 130 en meer as intellektueel begaafd beskou word en van 145 af hoogs begaafd.

Mensa is ʼn wêreldwye vereniging vir mense wat intellektueel in die top 2% van die samelewing val. Daar is ook ʼn tak van Mensa in Suid-Afrika.

De Villiers sê dit is belangrik om ouers te help in die identifisering van begaafde kinders. “Om ʼn begaafde kind groot te maak kan baie uitdagend wees en daarom is ouerleiding belangrik.

“Wat ons doen is om die kinders te belyn om hul potensiaal te bereik, wat dit ook al is.”

Heinrich Rall sê die idee is om hierdie kinders en ook hul ouers, wat dikwels nie die nodige ondersteuning kry nie, te help met interaksie en blootstelling aan hulpbronne.

In die eerste plek moet die leerders getoets word en die idee is om die toetse so bekostigbaar moontlik binne meer mense se bereik te plaas.

Hierdie kinders is gewoonlik baie wakker, nuuskierig, perfeksionisties, sensitief of leer vinnig. Hulle redeneer ook goed, het interessante idees of raak maklik verveeld by die skool.

Riana de Villiers, ʼn sielkundige van Pretoria wat kinders vir begaafdheid toets. (Foto: Veskaf)

De Villiers sê dié kinders se sielkundige en emosionele samestelling lyk ʼn bietjie anders as ander kinders s’n.

“Sommige van hulle is dubbeluitsonderlik omdat hulle boonop ʼn leergeremdheid of leeruitdaging het.

“Omdat hulle so slim is, kan hulle nogal kompenseer vir die uitdagings en val hulle dan baie keer deur die krake.

Sy sê daar is ʼn geweldige behoefte vir sentrums vir hierdie kinders, maar weet nie of dit oral logisties haalbaar is nie.

“Afhangend van hul temperament pas van dié kinders goed aan op skool. Almal is egter nie ewe goed sosiaal aangepas nie.

“Van die kinders se eienskappe soos sensitiwiteit, intensiteit en interne strewe na perfeksie maak dit vir hulle baie moeilik om in te pas en van hulle ontwikkel dan depressie en angs. Hulle is geweldig hard op hulself en ervaar mislukking eerder as om net na hul heel beste poging en uitnemendheid te streef.”

De Villiers sê statistieke deur dr. Linda Silverman se sentrum vir begaafdes in die VSA het getoon dat die sibbe van begaafde kinders meesal ook binne ʼn radius van vyf tot 13 skaalpunte van mekaar toets.

In Suid-Afrika se skoolstelsel, sê De Villiers, lyk dit nie of daar genoeg hulpbronne is vir die begaafde kinders nie. “Daar is nie ʼn fokus om hulle vroeg genoeg te identifiseer of skoolwerk te differensieer nie.”

“Begaafdheid is ʼn geskenk wat aan ʼn persoon gegee word tot voordeel van die gemeenskap,” voeg De Villiers by.

Een van die kenners op die gebied van begaafde kinders in Suid-Afrika, dr. Shirley Kokot, meen begaafdheid word dikwels verkeerd gediagnoseer of oor die hoof gesien omdat die eienskappe soortgelyk is aan dié van die gelyste kriteria vir ADHD (aandagafleibaarheid-en-hiperkatiwiteit-sindroom).

Roya Klingner, stigter en hoof van onder meer die internasionale sentrum vir begaafde en talentvolle kinders in München, Duitsland, beaam dit. “Skoolstelsels regoor die wêreld het gebreke en baie probleme wat begaafde kinders betref.”

Klingner, wat reeds verskeie boeke en artikels oor begaafde kinders die lig laat sien het, meen ouers moet soos mentors vir begaafde kinders kan wees en hulle inspireer in plaas daarvan om hulle te leer. “Hulle moet kinders se belangstelling en passie raaksien en ondersteun. Daar is baie maniere om potensiaal en talente te ontwikkel. Dit moet pret wees en nie prestasiegeoriënteerd nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.