Sersant, nog vyf vas oor gesteelde bakkie en trok

(Foto: SAPD)

Ses verdagtes, onder wie ʼn polisiesersant, sal na verwagting vandag in die eMalahleni-landdroshof verskyn op aanklagte van kaping en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Die 43-jarige sersant en nog vyf verdagtes, tussen 24 en 50 jaar oud, is Maandag in Clewer in hegtenis geneem nadat ʼn vermoedelik gesteelde voertuig en twee gekaapte vragmotorwaens in hul besit gevind is.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, het lede van Middelburg se blitspatrollie inligting ontvang oor die vragmotor wat in Januarie in Elsburg, Gauteng, gekaap is. Dit het hulle na ʼn kleinhoewe in Clewer gelei.

“Met die polisie se aankoms is op ’n Toyota-bakkie en die twee sleepwaens afgekom. Ses mense op die toneel het in verskillende rigtings laat spaander toe hulle die polisiebeamptes sien, maar die beamptes kon daarin slaag om hulle voor te keer.”

Kookolie ter waarde van R1,3 miljoen is in die waens gevind en die vragmotor is ʼn paar kilometer verder verlate gevind. Daar is ook vasgestel dat die bakkie in September 2017 in Garsfontein, Pretoria, gesteel is.

Die polisiesersant is aan die Vosman-polisiestasie verbonde. Twee van die verdagtes is Zimbabwiese burgers.

“Die polisie ondersoek tans die moontlikheid of die verdagtes by ander soortgelyke aktiwiteite betrokke was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.