Seun red ma van buffel met enkele skoot

Die trotse ma, Janka, en haar seun, Joshua (Foto: Verskaf)

Janka Strauss is ʼn trotse – en uiters dankbare – ma, want was dit nie vir haar 13-jarige seun, Joshua, nie, was sy dalk nie vandag hier om dié jagstorie der jagstories te vertel nie.

Joshua het Janka (40) se lewe gered nadat ʼn beseerde en uiters befoeterde buffel verlede week tydens ʼn jaguitstappie skielik uit ʼn bos op ʼn wildsplaas tussen Phalaborwa en Hoedspruit op haar afgestorm het.

Die heldhaftige Joshua het egter koelkop gebly en met een enkele skoot die stormende buffel, in daardie stadium net sowat vier meter van sy ma, met ʼn kolskoot bokant die regteroog neergevel.

Die Timbila Game Lodge, waar die voorval plaasgevind het, behoort aan Janka se pa, Pieter, en is naby aan die Krugerwildtuin geleë.

“My pa is al vir 26 jaar ʼn beroepsjagter. Ek is ook al vir agt jaar ʼn gekwalifiseerde jagter, maar dit is nie my enigste passie nie. En Joshua jag al van sesjarige ouderdom.”

Joshua en sy oupa, Pieter (Foto: Verskaf)

Sy sê hulle het Donderdag omtrent 17:00 saam met kuiergaste van ʼn teenstroping-eenheid by ʼn kamp op die wildplaas gebraai, toe hulle skielik ʼn buffel sonder ophou hoor snork.

“Ons het dadelik besef dat die dier in die nood is. Ek en Joshua het saam met my pa in die bakkie gespring om te gaan ondersoek instel.”

Haar pa het egter nie ʼn wapen by hom gehad nie. “Ek het ʼn 458-Winchester-jaggeweer saam met my geneem en Joshua het ʼn veel kleiner jaggeweer, ʼn 7×64, by hom gehad.”

Janka sê hulle het aanvanklik gedink die buffel het in ʼn strik beland. Hulle het dadelik stilgehou toe hulle naby die snorkgeluide ʼn geroer in die bos sien.

“Ek en my pa het uit die bakkie geklim, onwetend hoe naby die buffel aan ons was. Joshua het agterop die bakkie gaan staan.

“Ons het kort daarna leeus hoor brul, maar dit was reeds te laat. Alles het binne sekondes gebeur; toe ek weer sien kom die buffel, duidelik beseer en befoeterd, reguit op my afgepyl.”

Janka sê dit was ʼn kwessie van lewe en dood. Die buffel was minder as 15 m weg en al waaraan sy kon dink was dat sy nie vandag mis mag skiet nie.

Rondloperleeus was vermoedelik op die buffel se spoor. Die dier was beseer met talle bytmerke aan sy lyf.

“En ongelooflik kwaad,” vertel Janka.

“Ek het die aanstormende dier tussen sy oor en nek geskiet.

“Hoewel ek hom kon raakskiet en hy vir ʼn oomblik weens die skoot gesteier het en van balans af was, was die buffel steeds lewend en selfs meer befoeterd as voorheen.

“Ek het probeer om my geweer te herlaai, maar dit het vasgehaak en ek kon nie die slot toekry nie.”

Dit is toe dat Pieter vir sy kleinseun skree om die reusedier te skiet en Joshua vir die buffel se kop aangelê het.

“Die buffel was in dié stadium reg voor my. Joshua het egter kalm gebly en die buffel wat sowat 700 kg weeg, net bokant sy regteroog geskiet. Die koeël is deur sy brein.

“Ek kon intussen my geweer herlaai en kon nog twee finale skote inkry. Die buffel het ongeveer twee meter voor my inmekaargesak.”

Janka, Joshua en Pieter met die buffel (Foto: Verskaf)

Janka sê sy het “in die bos” saam met haar pa, en sy eindelose liefde vir jag, grootgeword.

“Dit was egter die eerste keer dat so iets met my gebeur het. Dit gebeur so vinnig. Daar was nie tyd om te huiwer nie, ʼn mens gaan dadelik in ʼn veg-of-vlug-modus in.

“Ek kon ná die tyd vir ʼn baie lang ruk nie ophou bewe nie, dit was vreesaanjaend. Joshua het dadelik ná die voorval na my toe gehardloop en my vasgehou.”

Eers veel later het hulle besef Joshua het boonop net ʼn enkele koeël in sy geweer gehad.

“Ek is so trots op hierdie seun van my.

“Dit voel byna onwerklik.

“Wanneer ek dié voorval aan ander probeer verduidelik, klink dit selfs vir my amper te goed om waar te wees. Die Here was ons ongelooflik genadig.”

Joshua (Foto: Verskaf)

Janka en Joshua (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Zandra ·

Kinders = engele
dis awesome en dit is ‘n bewys dag God orals is
gr8 job boeta! ♥

TRP ·

Wonderlik. Kan met reg trots wees op jou seun. Bly dit het ten goede uitegwerk.

Casper ·

Welgedaan jong man.Jy sal jou pa se skoene beslis kan vol staan.Trots op jou.Die skootplasing spreek boekdele van jou skietvernuf.

Niklaas ·

Dit kon sleg afgeloop het , maar hierdie seun is ‘n yster , om so koelkop te bly en dan nog dodelik te skiet. Sy familie se trots !

Tanya ·

Sjoe omtrent ‘n pragtige storie…. met ‘n wonderlike einde! Mooi so Joshua, jy het goed gedoen en Mamma jy kan beslis trots wees op hom…

Olive ·

Dit is baie oulik en ek is bly almal is ok. Maar ek huil ook sommer oor die buffel en waardeur die arme dier moes gaan.

Melanie ·

Salute vir jou as ma en ook vir oupa!! Jul maak hom groot om groot besluite in kort tydperkte te kan maak.. en dit is besonders. Well done seun, jy is n hero!!

ES ·

Kopskoot! Wonderlik en so ongelooflike lekker storie om te vertel vir sy kinders eendag!

Hendrik ·

Olive, dat die buffel doodgeskiet is, is baie genadiger as om deur leeus opgevreet te word.

Richard ·

Boerseun… Dit is hoekom kinders moet kan skiet! Verantwoordelike vuurwapengebruik. Ek wonder of die belaglike vuurwapenwet oortree is. Dalk is hulle nou ook in die moeilikheid soos die arme mense wat hulself verdedig.

Cassie Carstens ·

Lewensbedreigende storie wat sprokiesmooi geeindig het. Geluk Jongman.

Peach ·

Nou wel nie die “Twee Buffels Met Een Skoot”, soos deur Thys Die Bosveld Klông gesing nie maar, deksels naby. Wel gedaan ou seun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.