Die soektog na ʼn 13-jarige seun wat Saterdagmiddag in die see by Sheffield, noord van Durban, verdwyn het, is Sondagoggend hervat.
Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, het gesê die voorval het by ʼn strand gebeur waar swem verbode is.
ʼn Verbyganger het opgemerk hoe die seun onder die golwe in die see verdwyn. Die verbyganger het dadelik die seun te hulp gesnel, maar kon hom nie in die water vind nie. Hulp is ontbied en beamptes van IPSS Medical Rescue, Kwadukuza-lewensredders en beamptes van die polisie se soek-en-reddingseenheid het hulle na die toneel gehaas.
Twee waterponies en ʼn hommeltuig is gebruik om na die vermiste seun te soek. Die soektog het ongeveer drie uur lank geduur voordat dit afgelas is weens sterk winde en rowwe seetoestande.
Die soektog is vanoggend met sonsopkoms voortgesit.