Seun wéér verlam: ‘Hy het dit altyd gevrees’

Giovanni Hendriks in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Nadat ʼn tienerseun van Pretoria agt jaar gelede wonderbaarlik van ʼn sindroom genees is wat hom heeltemal verlam gelaat het, het die gesin se grootste nagmerrie verlede maand waar geword toe hy teenoor sy ma opmerk: “Dit is weer terug. ”

Giovanni Hendriks, ʼn matriekleerder aan Hoërskool Tuine, het Woensdag, ʼn week voor sy 18-jarige verjaardag, bewegingloos in ʼn hospitaalbed gelê nadat hy verlede maand skielik verlam gelaat is.

Giovanni het op 25 Februarie in trane by sy ouerhuis in Danville aangekom en vir sy ma gesê sy Guillain-Barré-sindroom het teruggekeer nadat hy ʼn krapperigheid in sy keel gevoel het.

Agt jaar gelede is hy ten volle van dié sindroom genees nadat hy slegs 11 dae lank in die hospitaal daarvoor behandel is. “Dit was destyds eintlik ʼn amazing storie. Sy hande en voete het ineengetrek en hy kon nie loop nie. Giovanni het egter net een aand gesê hy gaan weer die volgende dag loop en toe hét hy. Hy het fisioterapie gekry en [die sindroom] was toe vir jare weg,” het Elize Hendriks, Giovanni se ma, aan Maroela Media vertel.

Giovanni Hendriks (Foto: Verskaf)

“Hy het wel altyd gevrees dit gaan terugkom. As hy gewone maagpyn gekry het, het hy gedink dis weer dit,” sê sy.

Die angs het die tiener verlede maand wéér beetgepak. Elize het egter hierdie keer ook angstig gevoel toe haar seun skielik oor ʼn seer keel begin kla.

“Hy het gesê hy het nie krag nie. ʼn Uur later kon hy nie praat nie,” vertel sy.

Volgens Elize het sy dadelik met Giovanni hospitaal toe gejaag. Daar gekom het die dokter gesê dis net ʼn griep en hom met pynpille huis toe gestuur. “My gees het net gesê die dokter se diagnose is verkeerd. Die volgende oggend was hy verlam. Hy kon nie ʼn vinger verroer nie.”

Elize vertel sy het Giovanni aangetrek en weer hospitaal toe gehaas. Die hospitaal het haar aangesê om hom eerder na die Kalafong-hospitaal te neem. Giovanni het gedurende die wag vir ʼn ambulans om hom na dié hospitaal te neem ophou reageer.

Sedertdien word hy die afgelope 23 dae in die hoësorgeenheid van Kalafong behandel. Dokters het vandag bevestig dat hy inderdaad weer Guillain-Barré-sindroom opgedoen het.

Giovanni Hendriks is ‘n kranige sportman. (Foto: Verskaf)

Alle mediese toetse en skanderings kon aanvanklik nie ʼn verklaring vir sy toestand bied nie, maar ʼn onlangse breinskandering het uiteindelik die gevreesde diagnose bevestig.

Elize vertel dat Giovanni ʼn kranige sportman is wat voorheen aan atletiek, sagtebal en rugby deelgeneem het. “Hy was by alles betrokke,” sê sy.

Sy jonger boetie Elandré kry juis hieroor baie swaar aangesien hulle alles saam gedoen het, onder meer sagtebal speel.

Elize spook ook om tussendeur haar werk betyds te wees vir besoektyd en moet elke dag ʼn taxi en bus neem om by haar seun se siekbed te kan waak. Haar man, Giani, se werk laat hom gelukkig toe om met elke besoektyd daar te wees.

Elize is vasbeslote om nie op te hou glo dat haar seun weer sal herstel nie. “Hier is ʼn wonderwerk op pad,” sê sy ferm. “Ek het gister gejubel want hier is ʼn wonderwerk op pad en dit is naby.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

leser ·

jongman, die tyd van wonderwerke is nog nie verby nie, ek het dit onlangs self ondervind
sterk staan vir jou en jou ouers, ek bid vir Jesus om hom ook weer te genees
bly getrou aan Hom

Marietjie ·

Julle moet net moed hou al voel dit partykeer moeilik. In die dorp waar ek woon is n persoon wat dit nie lank terug weer gekry het na jare wat hy daarvan verlos was. Hy het dit hierdie keer baie erg gehad en het so herstel dat hy weer sy werk kon hervat. Sterkte.

Wielspore ·

Ek het gaan oplees oor die mediese toestand en wat goed is, is dat indien dieselfde persoon ‘n tweede keer die siekte opdoen, herstel hy gouer.
Sterkte vir die seun en ouers.

Landie ·

Hou ons asseblief op hoogte met sy herstel. Ons glo saam met julle

Vryheid ·

Ek bid alle sterkte toe aan die gesin, die bloed van Jesus oor hulle.

Jaco Fick ·

Ek het dit gekry toe ek 11 was en toe weer verlede jaar op 36 jarige ouderdom. Ek was 3 maande in ICU op n ventelator. Ek was n totaal van 6 maande in hospitaal. n Jaar later herstel ek nog. Ek kan met n loopraam loop. Hou hoop jong man, jy sal sterker anderkant uitkom.

Thomas ·

Dankie vir jou positiewe en intieme bydrae Jaco! Die res van ons kan ons net indink en probeer moed inpraat.

Philip ·

Daar is krag in gebed en kan ons hom net op ons gebedslys sit. Die familie moet vashou aan die Here. Wonderwerke gebeur. Sterkte aan hom en familie wat deur die moeilike fase gaan.

Anelle ·

Amen Elize! N wonderwerk inderdaad! vra en glo God vir daardie wonderwerk Dank Hom dat Hy reeds dit vir julle gegee het!!

Elna ·

Baie baie sterkte jong man ons almal bid jou n spoedige herstel toe en wonderwerke gebeur nog. Moenie moed opgee nie. Sterkte aan die ouers en familie wat hierby betrokke is as ook al die dokters . Dit maak my hart so so so bitter seer om te lees van al hierdie snaakse siektes en sindroom ens wat deesdae aan die lig kom. Dit maak mens eintlik bang veral in hierdie toestand wat hierdie land in is. Ons moet net bid dat ons hemelse vader ons almal sal genees en dat daar n doel is waarom al hierdie dinge gebeur en ons moet SY Wil respekteer en aanvaar en altyd altyd vertrou en nooit Sy hand laat los nie. Ek hoop van harte dat hierdie ouers se werkgewers hulle regtig genadig sal wees en hulle tyd gun om by hul seun te wees in hierdie tyd. Wat as dit jou kind was meneer of mevrou? Sterkte aan almal

Lizelle ·

Sjoe Jaco – jy is ‘n inspirasie! Baie sterkte vir jou, dankie dat jy jou storie gedeel het – dit dra by tot hoop en geloof . Giovanni -Jy is in ons as gemeenskap se gebede! GLO!!!

Dr ·

Ai toggie, nee, daar steek absoluut geen waarheid in hierdie stelling. Daar is geen moontlikheid dat griep entstof hierdie kon veroorsaak nie. En wat betref die detox , dit laat my koud…

Popsa ·

Hy sal gesond word. Vasbyt en opkyk, liewe ouers en boetie.

Rudi ·

Byt vas en wees net positief. Ek het dit self ook in 2013 twee keer agter mekaar gekry en om lang storie kort te maak omtrent 4 maande later na ek in die rehabilitasie senrum was en weer alles moes leer van vooraf doen is ek vandag n gesonde man so wat ek vir jou wil se is bly glo en wees positief jy sal weer gesond word.

Elsabie ·

Baie sterkte Seuna! Ek hou jul in my gebede. Ons God is groot en by Hom is niks onmoontlik nie. Ek bid vir jou vir ‘n spoedige en volkome herstel.

Fanie ·

Ek wil net vir die seun baie sterkte toewens maar ook wil ek die ouers se werkgewers loof vir hulle menslikheid dat hulle so tegemoetkomend is teenoor hulle werknemers mag julle besighede floreer

Hanna ·

Sterkte aan die jongman en sy familie. My dogter het twee jaar gelede Miller Fischer sindroom gehad. Haar verlamming het by haar oe en ore begin. Na drie maande in ICU en 6 weke rehabilitasie en baie baie gebede is sy gesond. Moeilike tyd vir hom en sy familie bly op jul kniee gaan beter word

Andre ·

Nee-wat Dr, daar het ook blykbaar geen waarheid gesteek in die stelling dat Roundup kankergewind is nie. Ten spyte van Amerikaanse hofsake word dit steeds afgemaak as absoluut geen waarheid nie. Wat is nou eintlik waar?

Jollie ·

My skoonpa het dit 2 keer gehad. Elke keer het hy volkome herstel binne die eerste 6 maande. Hou moed seuna jy is sterk en God dra jou as jy nie kan loop nie.

Wilhelmina ·

Hierdie Tannie,hou jou in Gebede pragtige jongman en aan julle die Ouers wens ek sterkte toe en by God is niks onmoontlik nie asook will ek dankie se aan die Werkgewers dat hul Geseend sal wees.Ek het dit ook 32jr terug ondervind,toe my Seuna in die swembad amper omgekom het en my Werkgewer my bygestaan het.Sterkte vorentoe xxx.

Hannelie ·

Geloof is baie magtig hou aan bid ons bid saam julle. God is groot en Hy sal voorsien aan jul behoeftes. Hy sal weer loop. Hou net aan bid onthou geloof hoop en liefde…..Amen!!!

Ester ·

By God is niks onmoontlik. Hou vas aan Jesus se hand ons bid vir julle.

Jan ·

Die Here is GROOT en wonderbaarlik GOED hy sal jou nooit in steek laat nie en soms gaan ons deer hierdie toetse so dat hy verheerlik kan word staan vas in geloof
Dankie Here vir u genade dankie dat u vir Giovanni teen volle gaan genees dankie dat u in beheer is en ons weet dat daar nGroot getynis gaan kom van hoe u hom genees het Dankie Here
Amen

Vanessa ·

Ek is nounet daardeur. Hy sal herstel. Dit vat net tyd en geduld. Net n lumber puncture kan Guillain Barre bevestig.

JAN ·

Botulinum uit ingelegte kos word laankal verdink. Wanneer sterilisasie in stoompot nie gedoen word nie. Googeloer.

mc ·

Ek het dit in 1999 gekry na die griep inspuiting. Ja, eienaardig genoeg, dit is soveel jare en die vrees bly dat dit weer kan terugkom met die geringste simptome van verkoue of iets wat jy kry. Ek voel so verskriklik jammer vir julle – maar hou net moed, dit sal weer regkom. Ja, asseblief hou ons op hoogte van Goivanni se vordering.

Onbekend ·

Vandat ek gehoor het Giovanni le in die hospitaal staan ek bank vas agter sy familie. sy niggie is my beste vriendin en bid elke dag saam met hulle vir die geneesing van hom. Ek ken hom nie maar ek word elke dag op hoogte gehou wat gaan vir wat. Ek kan net dankie se vir almal wat saam bid en vir almal wat help om die woord te versprei. Die Hemelse Vader gaan Giovanni daar uit kry ons moet net aanhou bid en vertrou.

Leser ·

My hart…ek bid genesing oor hom…in die naam van Jesus Christus. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.