Showmax trek nuwe baadjie aan

Showmax. (Foto: Verskaf)

Agt jaar nadat Showmax die Suid-Afrikaanse mark betree het, beplan dié stromingsplatform om 2024 sy grootste jaar nóg te maak deur al sy dienste op te knap.

Die platform word in Februarie weer bekend gestel met ʼn heel nuwe vooraansig, ʼn app en ʼn rits nuwe plaaslike en internasionale flieks en TV-reekse.

Showmax trek ʼn splinternuwe baadjie aan nadat MultiChoice ʼn vennootskap met die internasionale mediamaatskappye NBCUniversal en Sky Sports onderteken het.

“Ons het ʼn ongelooflike nuwe tegnologie-platform, ʼn gewaagde handelsmerk wat werklik ons ​​dryfkrag verteenwoordig en ʼn inhoudsblad wat ongeëwenaard is,” sê Marc Jury, uitvoerende hoof van Showmax.

“Geen ander stromingsdiens in Afrika kan bied wat Showmax vanjaar na die tafel bring nie.”

Die ooreenkoms met internasionale mediamaatskappye verseker dat Showmax na ʼn nuwe stromingsplatform migreer wat wêreldwyd aanklank sal vind.

“Die migrasie na Peacock-stroming beteken dat Showmax reg is om sy aanbod te verbreed, en vinnig,” sê Jury.

“Die robuuste platform word wêreldwyd gebruik en is bekend vir sy stroming van sport, veral nadat hy die Amerikaanse Super Bowl regstreeks na meer as ses miljoen gebruikers gelyktydig gestroom het.”

Showmax-intekenare sal nou bederf word met ʼn “ongeëwenaarde internasionale aanbod” deur vermaakhandelsmerke soos Universal Pictures, DreamWorks Animation, HBO, Warner Bros. Discovery, Paramount en Sony.

Die internasionale aanbiedinge sluit in Mission Impossible: Dead Reckoning, asook Spider-Man: Across the Spider-Verse, die tweede seisoen van Halo en Lawman: Bass Reeves.

Komediereekse soos The Office en Parks and Recreation gaan ook voorts op Showmax beskikbaar wees, asook HBO se reekse House of the Dragon en die tweede seisoen van The Last of Us.

Showmax sal boonop sy plaaslike aanbod uitbrei deur in Februarie altesame 21 Showmax Orginal-TV-reekse te stroom. Dit beteken dat intekenare daagliks gemiddeld meer as 3,5 uur lank nuwe plaaslike inhoud kan geniet.

Die uiteenlopende reekse sluit in die verwerking van ʼn plaaslike topverkoper, Catch Me A Killer, gegrond op die memoires van Micki Pistorius, Suid-Afrika se eerste reeksmoordenaar-profileerder.

Showmax sal ook ʼn aantal plaaslike flieks vir Valentynsdag bekend stel, waaronder Matilda en Matthys.

Die nuwe Showmax sal drie opsies behels, naamlik Showmax Entertainment, Showmax Entertainment Mobile en Showmax Premier League Mobile.

Dié planne is pasgemaak vir diegene wat vermaak soek, of eerder net al 380 sokkerwedstryde op een plek wil kyk.

“Ons het al die bestanddele om die nommereen-stromingsdiens vir Afrika te word,” sê Jury.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daniel Johannes ·

DSTV beter sy diens opskerp tov stroming. Dit is die duurste, maar beslis die swakste stromings diens. Sukkel om te laai en hak gereeld, selfs as ander soos Showmax en Netflix perfek loop. Kan geen voorskou gee van programme of flieks. Jy kan nie kanale wat uitsaai vir lank ‘pause’ nie en kan nie kyk weer doen nie. Flieks is stokoud – jy kry alles wat maande gelede reeds op bv. Netflix was eers later op DSTV. Met ‘n groot gesin en verskeie tv’s kan net een op ‘n slag kyk, so wanneer ek bv. rugby wil kyk en my kinders of vrou ‘n ander fliek moet iemand wag. Reekse se indeks is verkeerdom – nuutste is heel onder, so jy kan nooit met oog opslag kyk of episode al beskikbaar is nie. DSTV ‘onthou’ nie waar ek is nie – terwyl Netflix/Showmax wat ek stop om later aan te gaan of om op ander TV te gaan kyk, onmiddelik die opsie reg het om aan te gaan waar ek gestop het. Baie swak vir ‘n diens wat tot 5 keer duurder as ander reekse is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.