Sifiso Mkhwanazi skuldig aan sekswerkers se moord

Die reeksmoordenaar Sifiso Mkhwanazi. (Foto: X)

Die reeksmoordenaar Sifiso Mkhwanazi (22) is Woensdag skuldig bevind aan verkragting en moord op ses sekswerkers in 2022.

Hy is deur die Suid-Gautengse hooggeregshof in Palm Ridge, Johannesburg, skuldig bevind op ses aanklagte van moord, ses van verkragting, ses van regsverydeling en ook op ’n aanklag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Op die bykomende aanklag van roof met verswarende omstandighede is die 22-jarige Mkhwanazi vrygespreek.

Die moorde is tussen April en Oktober 2022 gepleeg.

Mkhwanazi is in Oktober 2022 in hegtenis geneem nadat polisielede op die liggame van ses vroue in ’n pakkamer by ’n duikklopper in Rosettenville in die Johannesburgse middestad afgekom het.

’n Opsigter het ’n vrou se liggaam by een van die ongebruikte kantore aangetref en die eienaar van die perseel in kennis gestel. Die sake-eienaar, ook Mkhwanazi se pa, het die polisie ontbied.

Die polisie het nóg vyf liggame op verskeie plekke binne die perseel gekry.

Die staat het beweer dat Mkhwanazi die sekswerkers verkrag en vermoor het.

Mkhwanazi het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hom, hoewel hy erken het dat hy die vroue verwurg het. Hy beweer egter dat enige seksuele aktiwiteit met die vroue se toestemming en as onderhandeling plaasgevind het.

Dwarsdeur die verhoor het die aanklaer dwingende bewyse gelewer, waaronder forensiese ontleding wat deur die ondersoekbeampte, sers. Bongani Mbonambi, aangebied is.

Staatsadvokaat Leswikane Mashabela het aan die hof gesê dat Mkhwanazi beplan het om die sekswerkers te vermoor en dat daar geen konsensuele seks tussen die oorledene en die beskuldigde was nie.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het weereens sy verbintenis tot die bekamping van geslagsgebaseerde geweld uitgespreek en gesê hy sal alles in sy vermoë doen om ʼn samelewing te help vestig waar mense vry van vrees en gevaar kan leef.

Hy word op 8 Mei gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nici ·

Prostitusie is nie werk nie, dis misbruik. Daar bestaan nie iets soos ‘sekswerk’ nie. As seks verkoop word is dit nie werk in ruil vir geld nie, dis exploitation.

Milan ·

Stem saam Nici. Dit is nie werk nie, maar hoerery. Dit regverdig egter nie die moorde nie.

minnie muis ·

die vroue het nie so dood verdien nie, dan wonder ek hoe voel sy pa ?

Karoo ·

Dis nou nadat hy sy “genots” oomblik gehaat het. Ek praat dit nie goed nie, maar geen vrou behoort vermoor te word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.