Sithole-moord: Twee beskuldigdes vra vir pleitooreenkoms

Die vier beskuldigdes. Foto: SAPD

Die vier beskuldigdes in die Emmanuel Sithole-moord. Foto: SAPD

Die verhoor van die vier mans wat beskuldig word van die moord op die Mosambiekse straatverkoper Emmanuel Sithole is Maandag in die Alexandra-landdroshof uitgestel.

Mthinto Bhengu, Sizwe Mngomezulu, Ayanda Sibiya en Sifundi Mzimela het na bewering Sithole verlede maand in ʼn straat in Alexandra, noord van Johannesburg, met ʼn mes doodgesteek. Hulle staan tereg op aanklagte van moord en roof.

Foto’s van Sithole wat aangeval word en bloeiend langs die straat lê, het op die voorblad van Sunday Times verskyn en ʼn opskudding op sosiale media veroorsaak.

Bhengu en Sibiya het aan die hof gesê hulle wil ʼn pleitooreenkoms met die staat aangaan. Hul medebeskuldigdes, Mngomezulu en Mzimela, het aangedui dat hulle skuld sal ontken. Daar was geen betogers buite die hof soos met die eerste keer toe die vier verskyn het nie.

Thando Sithole, Sithole se suster, het buite die hof gesê haar broer se volle name is Emmanuel Josias Sithole. Pres. Jacob Zuma het vroeër aangekondig dat Sithole se regte van Josias is en dat hy ʼn onwettige immigrant was.

Die saak is tot 13 Mei uitgestel vir ʼn moontlike pleitooreenkoms met Bhengu en Sibiya.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.