Sitrusbedryf gons oor dié skip in Durbanse hawe

‘n Afvaardiging van die Sitruskwekersvereniging van Suidelike Afrika voor die MV Cool Eagle by die Durbanse hawe. (Foto: Verskaf)

Een van die wêreld se grootste gespesialiseerde skepe met verkoelde vraghouers het verlede week in Suid-Afrika aangekom om ’n rekord hoeveelheid sitrusprodukte na die buiteland te vervoer.

Die MV Cool Eagle het verlede week in die Durbanse hawe vasgemeer om in die land se toenemende vraag na sitrusuitvoere te voorsien.

Dié vaartuig is een van die vyf grootste gespesialiseerde skepe met verkoelde vraghouers ter wêreld.

Mitchell Brooke van die Sitruskwekersvereniging van Suidelike Afrika (SKVSA), sê dit is die eerste keer dat een van dié generasie skepe Suid-Afrika aandoen. Hy beskryf dit as ’n historiese oomblik vir die sitrusbedryf en die land as geheel.

Die indrukwekkende MV Cool Eagle is in staat om bodek ongeveer 6 000 palette vrugte in 342 verkoelde vraghouers en onderdek 7 200 palette te stoor. Dít kom neer op 1,2 miljoen houers vol sitrus.

Dié sitrusprodukte word dan na ander uitvoermarkte in Rotterdam in Nederland en St. Petersburg in Rusland vervoer.

Brooke verduidelik dat die MV Cool Eagle oor geïsoleerde ruimtes beskik wat spesiaal aangepas kan word volgens die soort vrag wat vervoer word. Dié eienskap maak die skip anders as ander vragskepe wat individuele koelhouers vervoer.

Die Wêreldbank het onlangs ʼn verslag bekend gemaak waarin daar bevind is dat Suid-Afrika se vragterminale in hawens die ondoeltreffendste is in vergelyking met die byna 400 terminale ter wêreld.

Dié ondoeltreffendheid het daartoe gelei dat vragskepe twee derdes langer neem as gespesialiseerde skepe met verkoelde vraghouers om uit Suid-Afrika se hawens te beweeg. Dié gespesialiseerde skepe kom glo gewoonlik ʼn week of twee voor die vraghouerskepe by uitvoermarkte in Europa aan.

“Hierdie skepe waarborg dus vrugte van beter gehalte wat belangrike markte bereik en wat Suid-Afrikaanse produsente sal help om in die toekoms groter marktoegang vir hul sitrus te verkry,” sê Brooke.

Sitrus in SA

Suid-Afrikaanse sitruskwekers sal tydens vanjaar se uitvoerseisoen na verwagting ʼn rekordgetal van 163 miljoen houers sitrus uitvoer.

Volgens Brooke sal dit nie net meer werkgeleenthede en buitelandse valuta- inkomste tot gevolg hê nie maar bydra tot die regering se doelwit om landbou-uitvoere oor die volgende paar jaar te verhoog.

Die uitvoer van sitrus sal na verwagting boonop in die volgende drie tot vyf jaar met nog 500 000 ton groei. Dit is uiteraard van kritieke belang dat logistieke prosesse dié groei kan hanteer. Brooke sê gespesialiseerde skepe met verkoelde vraghouers soos die MV Cool Eagle sal ʼn kardinale rol hierin speel.

MV Cool Eagle se susterskip MV Cool Spirit sal glo ook mettertyd in Suid-Afrika aankom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Ai, al weer minder soet lemoene vir ons plaaslike mark. Lyk my ek sal hierdie winter weer duur ingevoerde lemoene by Woolies moet gaan koop as ek lekker soet lemoene wil eet.

Kokerboom ·

Moenie eers praat van golfbalgrootte appels wat supermarkte verkoop. Dis eintlik dierevoer en ‘n skande dat plaaslike verbruiker so afgeskeep word!

marius ·

Die vrag terminale die ondoeltreffendste ter wereld . Wonder mense regtig waarom ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.