Sitruskwekers glo beter dae wag op Transnet

Durban hawe (Argieffoto)

Transnet se toekoms hang in die weegskaal, maar die Sitruskwekersvereniging (SKV), wat swaar steun op spoorvervoer om hul vrugte by die hawens te kry, glo daar is ʼn uitkoms.

“Deesdae lees ons gereeld van die onsekere situasie waarin Transnet verkeer,” sê Justin Chadwick, uitvoerende hoof van SKV. “Wat ons tans beleef is ʼn ernstige afname in Transnet se operasionele vermoëns, veral in die hawe- en spoorafdelings.

“Die spoorafdeling is onderhewig aan ernstige vandalisme en diefstal van spoorinfrastruktuur, tesame met ʼn verswakkende treinvloot wat daartoe gelei het dat hierdie staatsonderneming op strategiese roetes uiters swak presteer het. Dit is nadelig vir die mynbousektor en het chaotiese vragmotoropeenhopings by grense en hawens veroorsaak. Die belangrike spoorlyn tussen Durban en Gauteng het dit ook nie vrygespring nie en eweneens kon ons nie die beplande kwota sitrus van die noordelike streek na hawens vir uitvoer vervoer nie.”

Hoewel Transnet se nasionale hawe-owerheid (TNPA) en Transnet se hawe-terminale (TPT) die afgelope finansiële jaar ʼn wins getoon het, is doeltreffendheid by hawens ingeboet deur verouderde masjinerie en toerusting wat nie die behoueringskratte na wense kon hanteer en skuif nie. Dit het meestal die terminale in Durban en Kaapstad geraak.

Chadwick sê Transnet is nou in ʼn moeilike situasie, want om die entiteit om te keer, moet drie dinge gelyktydig gebeur:

  • Die operasionele vermoëns en netwerkkapasiteit moet by die aanvraag aangepas word.
  • Om dit te bereik, sal die spoor- en hawenetwerke op ʼn enorme skaal uitgebrei moet word, wat ʼn ontsaglike kapitaaluitleg vir instandhouding en verkryging sal verg.
  • Daar moet na die basiese beginsels teruggekeer word.

“Om na die basiese beginsels terug te keer moet die fondament weer reggestel word,” stel hy voor. “Die mees bekwame mense moet in diens geneem word en na die beste van hul vermoë funksioneer, sodat die verlangde resultate en uitsetdoelwitte behaal kan word.

“Die moeilike situasie waarna ek verwys beteken dat ʼn organisasie wat verliese rapporteer, sal sukkel om kapitaal in te samel vir die instandhouding van sy vloot en nuwe verkrygings, waarsonder Transnet, met sy enorme behoeftes, nie omgedraai kan word en sy balansstaat weer gesond sal wees nie.”

“Gelukkig is daar hervorming op die tafel en indien dit suksesvol is, sal daar ʼn ommekeer plaasvind. ʼn Nuwe beleid is nodig wat dit moontlik sal maak om die spoornetwerk en -dienste te skei en om vennootskappe op strategiese roetes toe te laat.

“Dit beteken dat privaatspooroperateurs binnekort treine op die nasionale spoornetwerke sal kan bedryf. Dit sal ʼn baie belangrike verbetering vir die sitrusbedryf wees, aangesien ʼn verhoging in spoorvervoer broodnodig is,” sê Chadwick.

“Nog ʼn belangrike verwikkeling is die lank verwagte vennootskap tussen TPT en International Container Terminal Services (ICTSI) uit die Filippyne, om Landingshoof 2 by die vraghouer-terminaal in Durban te bestuur. Die vennootskapsooreenkoms sal na verwagting teen April volgende jaar gesluit wees en dié maatskappy se prestasierekord dui daarop dat ʼn verbetering beslis op pad is.

Daar is ook vordering gemaak met ʼn vennootskap om die Ngqura-skeepsvragterminaal (NCT) by die Coega-hawe te bestuur.

Daarbenewens het TNPA ʼn aansoek aan die hawereguleerder gerig om kapitaal op groot skaal in mariene toerusting te belê.

TPT het ook sy instandhoudingsplan en verkrygingskedules uiteengesit vir die nodige treinvloot om Landingshoof 1 by die Coega-hawe en die terminale in Kaapstad-hawe te diens. Die skedule toon dat die vloot voor volgende jaar se pieksitrusseisoen aangevul sal wees. Volgens Chadwick behoort die terminale ook teen daardie tyd in alle opsigte dramatiese verbetering te toon.

Om sake verder volgens plan te laat verloop is ʼn nasionale logistieke krisiskomitee (NLCC) gestig wat ook die presidensie betrek het om te verseker dat hierdie noodsaaklike hervormings geïmplementeer word. Die SKV skakel met Agbiz wat op die NLCC verteenwoordig is en tweeweekliks vergader.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanR ·

Maters julle gaan ‘n lang lang lang tyd wag. Daar is ‘n paar kaders op die ANC lys wat eers by Transnet moet aangestel word, en eers vreet. Dan sal hulle waai met R14 miljoen bonus, en dan sal die volgende lot kom om te vreet.

Bolandse Nooi ·

“Die mees bekwame mense moet in diens geneem word” … en ons weet wie die bekwames en wie die onbekwames is. Glo my vry, dit sal níé die bekwames wees wat aangestel word, indien daar wel enige aanstellings sal volg, nie. Ons weet mos wie kry deesdae al die lekker “jobs” en wie se handpalms DIK met die olie gesalf word …

Karoo ·

Ja nee, die sitrus produsente sal baie hard en vuurig na Transnet moet vry….. anders, hoe gaan hulle hulle sitrus uitvoer en Biljoene andersins verdien. In Addo het die sitrus produsente met hulle reuse swaar trokke die paaie al sat gery… amper onmoontlik met ‘n stads kar begaanbaar. Maar dit word ook nie herstel nie. Spoorlyne het tot 30 jaar terug baie bekostigbare diens gelewer reg oor die land, nou is al die paaie toe onder trokke en spoorweg stasies spook dorpies.

Andrew ·

Tyd om n privaat hawe aan die weskus te begin bou. Koop al die ou spoorlyne na die nuwe hawe op en restoreer.

Jakes ·

Die sogenaamde regruk retoriek is n spul snert. Transnet is lankal oor die spreekwoordelike muur gestoot. Swak bestuur, swak opleiding, geen stelsels in plek om infrastruktuur te beskerm is maar enkele redes waarom die entiteit gefaal het. Voeg n swak president en swak minister daarby en jy het n resep wat chaos beklemtoon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.