‘Skaakmat’ tussen Rusland en Oekraïne

So lyk Oekraïne deesdae. (Foto: Anastasiia Smolienko / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

Terwyl die wêreld se oë op die oomblik op die konflik tussen Israel en Hamas gerig is, breek die tweede herdenking van die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne aan.

Die situasie op die grond blyk tans staties te wees aangesien nóg die Russe nóg die Oekraïners in hierdie stadium wil besgee.

Prof. Theo Neethling, verbonde aan die Departement Politieke Studies en Regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, beskryf die situasie op die grond as “skaakmat”.

“Die Russe het gedeeltes grondgebied in die suidoostelike gedeelte van Oekraïne beset en hulle byt vas daar. Oekraïne het egter die afgelope twee jaar gewys dat hulle nie sommer gaan toelaat dat Rusland Oekraïne vat nie.

Die Oekraïners voer die afgelope ses maande ʼn redelike teen-offensief en kon selfs klein gedeeltes grondgebied terugwen. Hulle kan egter nie die Russe uitdryf nie.

“Dinge beweeg dus nie in hierdie stadium regtig vorentoe of agtertoe nie.”

Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, stem hiermee saam. Kleynhans glo tog Rusland is tans effens op die voorvoet.

Hy verduidelik dat Rusland sy aanvanklike uitdagings met onder meer wapens kon oorkom en is nou in ʼn baie beter posisie as 18 maande gelede om wapens aan sy soldate te verskaf.

“Die Russiese ekonomie kon ook verlede jaar groei. Jy sal sien Rusland se ekonomie het in ʼn oorlogsekonomie ontaard. Groot fabrieke wat eens ander produkte vervaardig het, vervaardig nou wapens.

Intussen is Rusland besig om Oekraïne ekonomies én militêr uit te put, sê Kleynhans.

Die Oekraïners ontvang by die dag al minder wapens van die Weste terwyl sy ekonomie die afgelope twee jaar byna in omvang gehalveer het.

“Die moraal in Oekraïne is relatief laag,” sê Kleynhans. Die gebied het natuurlik in ʼn groot mate ontvolk en dit is winter. Dit is tans ʼn baie depressiewe gebied.”

So lyk Oekraïne deesdae. (Foto: YURIY DYACHYSHYN / AFP)

Meer as die helfte van die Donetsk-streek waaronder die provinsies van Donetsk en Lugansk is tans onder Russiese beheer. Rusland het dus ʼn redelike deel van die gebied beset wat hy wou, maar nog nie alles nie, wys die kenners daarop.

Kleynhans sowel as Neethling vermoed dat Rusland se pres. Wladimir Poetin die Weste se steun aan Oekraïne onderskat het.

Die verwagting was dat Rusland – wat oor die wêreld se tweede grootste weermag beskik – Oekraïne sou oorrompel. Oekraïne kon egter het met behulp van die Weste sorg dat die Russe slegs beperkte gedeeltes van Oekraïne beset, sê Neethling.

“Skielik het Oekraïne ʼn kans.”

Kleynhans sê egter die Amerikaners is nou besig om “krapperig” te raak. “Veral die Republikeine. Die Amerikaners wil nie meer wapens voorsien nie. Hulle voel ook Europa doen nie genoeg nie. Europa het egter eenvoudig nie genoeg wapens om aan Oekraïne te verskaf nie.”

Armin Papperger, uitvoerende hoof van die Duitse verdedigingsmaatskappy Rheinmetall, het vroeër vandeesweek gesê binnelandse produksie kan nie aan Oekraïne se vraag aan wapens en ammunisie voldoen nie.

Volgens Papperger sal dit Duitsland tien tot 15 jaar neem om sy eie voorraad alleen aan te vul.

Einde nog nie in sig

Kleynhans meen die oorlog tussen Rusland en Oekraïne kan nog tien of 20 jaar voortduur as dit aangaan soos nou.

Neethling meen ook ʼn diplomatieke oplossing is in die stadium buite die kwessie, aangesien nie pres. Zelenkski of pres. Poetin die wit vlag gaan waai nie.

“Oekraine gaan nie toegee nie want hulle het geweldige opofferings gemaak as jy kyk na die lewensverlies en skade aan infrastruktuur. Indien Poetin bes gee, sal dit ’n geweldige negatiewe impak op sy presidentskap hê.

“Duisende Russiese soldate wat het lewens verloor. Hy kan nie net onttrek ná al daardie lewensverlies nie. Hy sal moet vasbyt.

Neethling meen egter die komende Amerikaanse verkiesing kan dinge in ʼn rigting stuur.

“Dit is algemene kennis dat die VSA se pres. Joe Biden se administrasie Oekraïne deurgaans ondersteun het. Trump is egter nie so gretig om Oekraïne te ondersteun nie.

“Ek dink Poetin hou duim vas dat Trump weer aan bewind kom.”

Die grafte van Oekraïnse soldate. (Foto: YURIY DYACHYSHYN / AFP)

Kleynhans meen daar is tans net een oplossing vir die konflik tussen Rusland en Oekraïne en dit is vredesonderhandelinge.

“Die twee partye moet eenvoudig gedwing word om met mekaar te praat en die VSA kan ʼn groot rol speel.

“Die probleem is egter dat die VSA (en Europa) nie met Rusland praat nie. Daar is geen gesprekvoering nie.

“Hierdie is eintlik ʼn oorlog tussen Rusland en die Weste eerder as Oekraïne. Rusland wil Navo weghou van sy grense. Dis waaroor hierdie oorlog gaan.

“’n Groter skikking tussen Rusland en die Weste is dus eintlik nodig, en dis nie iets wat ek kan sien gou gaan gebeur nie.”

Derduisende dood

Die presiese hoeveelheid sterftes sedert die Russiese inval van Oekraïne is nie bekend nie, aangesien nie een van die kampe hierdie syfers beskikbaar stel nie.

Die syfers word vermoedelik van die publiek weerhou om te verhoed dat die moraal onder die troepe en die breër publiek ondermyn word.

The New York Times het egter in Augustus verlede jaar berig dat sowat 70 000 Oekraïense soldate in die oorlog dood en tussen 100 000 en 120 000 gewond is. Vir dié syfers het die gesaghebbende publikasie Amerikaanse amptenare aangehaal.

Volgens dié einste Amerikaanse amptenare het 120 000 Russiese soldate sedert hul inval van Oekraïne gesneuwel. Tussen 170 000 en 180 000 is gewond.

Lede van die Oekraïnse weermag hergroepeer na ‘n terugvegpoging teen Russiese magte in die Lugansk-streek. (Foto: Anatolii Stepanov/AFP)

Inligting oor die presiese getal burgerlikes wat sedert die begin van die oorlog gedood is, is ook tans onbetroubaar. Dit is omdat geen onafhanklike telling gedoen kan word nie weens ʼn gebrek aan toegang tot Oekraïense gebiede wat deur Rusland beset word.

In Junie 2023 het die Oekraïense owerhede gesê hulle kon net 10 368 burgerlike sterftes aanteken, wie se liggame gevind is.

Oleg Gavrych, ʼn topassistent van die kabinetshoof van pres. Volodymyr Zelensky, sê die dodetal is waarskynlik vyf keer hoër. “Ongeveer 50 000 sterftes.”

Oekraïense owerhede meen die beleg van Marioupol van Februarie tot Mei 2022 het minstens 25 000 lewens geëis, waarvan baie in massagrafte begrawe is.

Die belangrike suidelike hawestad is in dié stadium steeds onder Russiese beheer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Adriaan ·

Russian forces fully liberated the heavily fortified Donetsk suburb of Avdeyevka this week, breaking out and advancing over 8.5 kilometers beyond the city amid a disorganized and chaotic retreat by Ukrainian forces.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.