Skaaphond durf wêreldkampioenskap aan ná tragedie

Die skaaphond Kyla is verlede jaar as die beste skaaphond in Suid-Afrika aangewys. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Suid-Afrika se skaaphondkampioen is steeds effens getraumatiseer nadat sy haar hele werpsel vroeër vanjaar kort ná geboorte verloor het. Haar eienaar hoop egter dat die tragedie haar nie té erg sal beïnvloed wanneer sy hierdie jaar aan die wêreldkampioenskap deelneem nie.

Kyla wat nou sewe en ʼn half jaar oud is, is verlede jaar as die beste skaaphond in Suid-Afrika aangewys nadat sy met honderde skaaphonde in verskeie kompetisies regoor die land meegeding het.

Vroeër vanjaar het sy egter ʼn terugslag beleef toe sy ʼn keisersnee gekry het en al tien van haar hondjies kort ná geboorte dood is.

Kyla se eienaar, Pierre Strydom, sê hierdie hartseer het Kyla diep geraak.

“Sy is in die fleur van haar lewe, maar dit het haar in alle aspekte geaffekteer,” sê hy.

Tog blyk dit asof Kyla goed op dreef is om vanjaar se wêreldkampioenskap saam met Strydom se ander skaaphond, Mac, in Ierland aan te durf.

Die kampioenskap begin op 13 September en sal vier dae lank duur. Die eerste twee dae is kwalifiserende rondes waarin 250 honde van 35 lande sal meeding. Slegs 42 honde sal kwalifiseer vir die halfeindstryd. Op die derde dag vind die halfeindstryd plaas wanneer die beste 16 honde op die laaste dag aan die eindstryd deelneem.

Die wêreldkampioenskap, net soos enige ander skaaphondkompetisies, is ontwerp om te toets wat skaaphonde op ʼn plaas kan doen, en hoe goed hulle dit doen.

Strydom verduidelik die deelnemers begin met volpunte en dan trek die beoordelaars punte af na gelang van die hond se gedrag, die lyne wat die skape hardloop en die hekke wat gemis word.

“Daar is vier faktore wat die uitkoms van die kompetisie beïnvloed: die weer, die foute wat ek maak, die foute wat die hond maak, en hoe moeilik die skape is,” sê Strydom.

Hy sê dit gebeur dikwels dat erge weerstoestande sommige deelnemers se pogings kniehalter, terwyl ander balhorige skape kry wat weier om saam te werk.

“Een dag is hierdie skaaphond die beste, die volgende dag is dit die ander een. Ek kan net hoop dat ons die beste sal wees wanneer dit saak maak.”

ʼn Droom verwesenlik

(Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Volgens Strydom is sy honde se deelname aan die wêreldkampioenskap ʼn lewensideaal wat verwesenlik is.

Strydom werk al sedert die 1980’s met skaaphonde, maar het vir jare daarmee opgehou totdat hy dit weer in 2016 hervat het toe hy vir Mac gekry het.

“Dit is een van my passies om met hierdie honde te werk en ek wens meer boere kan hulle waarde insien,” sê hy.

Strydom is positief oor die wêreldkampioenskap, maar wil nie onrealistiese ideale vir sy honde stel nie.

“Suid-Afrika het al vier keer aan die wêreldkampioenskap deelgeneem, maar nog nooit ʼn hond gehad wat vir die halfeindstryd kwalifiseer nie. My doelwit is om die halfeindstryd te haal, maar ek het nog nie verder as dit gedink nie,” skerts hy.

Strydom sê hy as hanteerder kan net sy beste gee, en hy weet sy Kyla en Mac gaan dieselfde doen. Hy is egter bekommerd oor of Mac in die eerste plek aan die wêreldkampioenskap sal kan deelneem, aangesien hy onlangs een van sy agterbene beseer het.

Nietemin is die sewejarige Mac topfiks, skerp en gefokus. “Dit is duidelik dat hy wil werk, hy is ywerig”.

Suid-Afrika stuur altesaam vyf van sy beste skaaphonde na Ierland. Die grootste kompetisie blyk egter skaaphonde van Engeland, Wallis, Ierland en Skotland te wees, waar dié honderas van afkomstig is.

“Dit is die mekka van skaaphonde, maar ons bane is dieselfde as hulle sʼn en ons is baie kompeterend.”

Kyla en Mac sal vyf dae voor die kampioenskap in Ierland aankom om hul met Skotse skape te vereenselwig. Strydom gaan ook hierdie tyd gebruik om die skape te bestudeer, want “as die herder dwaal, dwaal die skape ook”.

ʼn Week ná die wêreldkampioenskap word die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir 2023 gehou, wat Strydom hoop Kyla en Mac weer aan kan deelneem.

Al Suid-Afrika se Skaaphonde wat aan die wêreldkampioenskap gaan deelneem. (Foto: South African Sheepdog Association/Facebook)

Verstandhouding ‘soos geen ander’

Strydom sê hy en sy honde het ʼn verstandhouding wat nie in woorde beskryf kan word nie. Daar is ʼn aanvoeling tussen hom en elke hond.

“Die honde verstaan my só goed dat hulle in my fluit kan hoor of ek op my senuwees is.”

Strydom het in ʼn stadium 17 skaaphonde gehad om op sy plase te help, maar het intussen afgeskaal na net ʼn paar om te help met sy Nguni-beeste en skape.

Pierre Strydom saam met sy skaaphonde Mac en Kyla. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Dit vat enigiets van tussen sewe maande en twee jaar om ʼn skaaphond op te lei en Strydom is reeds besig om een van sy jong skaaphonde op te lei vir kompetisies, aangesien “hy beslis in hulle [Kyla en Mac se] voetspore gaan loop”.

Strydom hoop om in die toekoms ander boere op te lei oor hoe om hulle skaaphonde ten volle te benut, aangesien een skaaphond die werk kan doen van drie arbeiders.

“Die belangrikste ding van skaaphonde is dat hulle nie net fisieke oefening benodig nie, maar hulle brein moet ook ‘gewerk’ moet word. Hulle is altyd reg en gewillig om te werk.”

Kyla en Mac het elk sowat drie jaar oor voordat hulle “op pensioen gaan”, sê Strydom.

“Sodra hulle tien jaar oud word, sal hulle hul dae rustig in die son deurbring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

trotsNAMSA ·

Al my beste wense aan ons span. Julle is uitstekend. Die honde is te pragtig.
Kayla, jammer oor jou baba’s :(. Jy gaan weer die prys kry een as Beste ! Mac en die ander honde voorspoed !
SA se bestes.

Karina ·

Sterkte met die kompitisie. Die skaaphonde is pragtig en ongelooflik hoe hulle net op die eienaar se fluit reageer. Ons glo Kayla gaan met die trofee wegstap en haar spanmaats kort op haar hakke.

Bolandse Nooi ·

Mac, Kyla, sê tog net vir daardie Ierse skape … “God bless yer soul, meeeeehhhhh!!!!”. Hulle sal dit goed verstaan. Hulle sal dan mooi reguit lyne hol, geen hekke mis nie en mooi in hul vier pote se spoortjies trap, want sêg jy dít vir ‘n Ier, stuur jy hom of haar eintlik warmplek toe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.