Skenking aan Kuba: ‘Adjunkminister het parlement mislei’

Candith Mashego-Dlamini (Foto: DIRCO/Facebook)

Die DA gaan die parlement se etiekkomitee nader om te versoek dat Candith Mashego-Dlamini voor die komitee moet verskyn om te verduidelik hoekom sy glo die parlement mislei het oor Suid-Afrika se skenking aan Kuba.

Volgens Mergan Chetty, DA-woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, het Mashego-Dlamini, adjunkminister van internasionale betrekkinge en samewerking, verlede week in die parlement aangevoer dat so skenking nie plaasgevind het nie.

Daar is verlede maand bekend gemaak dat die regering R50 miljoen aan Kuba gaan skenk, in ʼn poging om die voedseltekort in dié land te help verlig.

Tydens die portefeuljekomitee oor internasionale betrekkinge en samewerking se sitting Dinsdag, is dit volgens Chetty egter bevestig dat die skenking plaasgevind het. “Dit is duidelik nie aan adjunkminister Mashego-Dlamini gekommunikeer nie.”

Die voorsitter van die portefeuljekomitee het onderneem om aan Mashego-Dlamini, wat gerieflik afwesig was tydens die vergadering, te skryf om op haar weersprekende verklaring te reageer.

“Dit is nie die eerste keer dat weersprekende of misleidende stellings deur die departement se leierskap gemaak word nie,” sê Chetty.

“Slegs twee weke gelede het die departement, onder leiding van minister Naledi Pandor, ʼn verklaring uitgereik waarin ʼn beroep op Rusland gedoen is om onmiddellik sy magte aan Oekraïne te onttrek. Tog, onmiddellik daarna, is ʼn verklaring deur die presidensie uitgereik wat hierdie verklaring weerspreek, en eerder ʼn draadsit-benadering van stille diplomasie en vreedsame bespreking versoek.”

Daar is vroeër sterk kapsie gemaak teen Suid-Afrika se skenking aan Kuba. Die VF Plus het dit as “skandalig” beskryf en gesê dit grens aan misdadigheid teenoor die mense van Suid-Afrika, veral teenoor hulpbehoewendes sonder kos of heenkome.

Dr. Corné Mulder, die VF Plus se woordvoerder vir internasionale betrekkinge en samewerking, het gesê die feit dat Suid-Afrika hom ontferm oor ʼn ander land terwyl dit so sleg gaan op eie bodem, “gaan die verstand te bowe”.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het gesê hy gaan die hof nader om ’n dringende interdik te bekom om die regering te verhoed om die “irrasionele en onwettige” skenking te maak.

“Dit is verregaande om in die huidige sosio-ekonomiese toestande so ’n reusebedrag aan ’n ander land te wil skenk. Om die waarheid te sê, dit is ’n absolute belediging vir landsburgers,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

SomeOne ·

nog ‘n dlamini, nog meer ontnugterings wat gaan kom, nog ‘n boetie (sussie) in die regering, hoeveel is daar nog

Bella ·

Myns in siens is die ANC regering meer bekommerd oor Kuba se hongeres en om die vrede te bewaar met Rusland as wat hulle net eers vir die burgers van Suid Afrika sorg. Dis mos ok dat die pasiente in Chris Hani Baragwanath nie kos het nie en n klomp ander mense in die land onder die broodlyn leef. Gee eerder kos vir Kuba!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.