Skerp daling in verbruikersvertroue wek kommer

(Foto: Maroela Media)

Beurtkrag en die hoë lewenskoste in Suid-Afrika het verbruikersvertroue in die eerste kwartaal van die jaar skerp laat duik.

Volgens die Buro vir Ekonomiese Navorsing (BER) en FNB se kwartaallikse indeks oor verbruikersvertroue, het dit in die eerste drie maande van die jaar met 15 indekspunte tot -23 gedaal.

Die vlak van verbruikersvertroue stem naastenby ooreen met die derde kwartaal van 2020, toe kwaai inperkings weens die Covid-19-pandemie gegeld het. Dit het in daardie stadium ʼn verbod op die verkoop van alkohol, die sluiting van skole en die aandklokreël ingesluit. In die tweede kwartaal van verlede jaar het die syfer op -25 gestaan. In daardie stadium het KwaZulu-Natal onder verwoestende oorstromings deurgeloop en het die ekonomiese gevolge van die Russiese inval van Oekraïne eers begin duidelik word. Die syfer van -23 is ook die derde laagste op rekord sedert 1994.

“Dit is ʼn aanduiding van die uiterste kommer onder verbruikers oor Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte en hul huishoudelike finansies,” lui die verslag.

Die meeste verbruikers verwag ʼn verslegting in ekonomiese groei oor die volgende 12 maande en glo dit is nou nie eens naastenby ʼn goeie idee om duursame items (soos voertuie, meubels, huishoudelike toebehore en elektroniese goedere) aan te skaf nie.

“Terwyl verbruikers nie meer verwag dat hulle huishoudelike finansies oor die volgende jaar gaan verbeter nie, is hulle nietemin aansienlik minder pessimisties oor hul eie finansiële vooruitsigte in vergelyking met hul neerslagtige verwagting vir die ekonomie in die algemeen.”

Beurtkrag kry skuld

Verbruikers belê al hoe meer in alternatiewe oplossings vir krag. (Foto: Maroela Media)

Al hoe meer huishoudings belê – teen aansienlike onkoste – in sonkrag en ander rugsteunstelsels vir krag en gaan na verwagting hul diskresionêre besteding tot op die been sny om die begroting te laat klop.

Die verwagting is gevolglik dat die verkope van duur items soos nuwe voertuie, meubels en huishoudelike toebehore onder al hoe meer druk gaan kom.

Vervangingsaankope – wanneer toebehore vervang moet word omdat dit weens beurtkrag die gees gegee het – kan dalk help om dié druk te verlig.

Terwyl die dienstesektor, wat hotelle, restaurante, vervoer, ontspanning en toerismeverwante dienste insluit, steeds verstewig, gaan die kleinhandelsektor waarskynlik weens die ineenstorting van verbruikersvertroue die spit moet afbyt.

“Die kommerwekkende toename in kragonderbrekings sedert Desember en die gepaardgaande verswakking in Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsig, het verbruikersentiment in die eerste kwartaal ongetwyfeld geruk,” sê Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom by FNB.

“Skerp stygende kospryse, nog ʼn rentekoersverhoging en ʼn skerp daling van die rand het skande by die skade gevoeg. Verdere werkskepping in die steeds herstellende dienstesektor het waarskynlik die uitwerking vir laer- en middelklasinkomstevertroue verminder.”

Matikinca-Ngwenya sê die kwaai daling in verbruikersvertroue is ʼn weerspieëling van die aansienlike verswakking in kleinhandelsentiment in die eerste kwartaal van die jaar.

“Die skerp omkeer in verbruikersvertroue dui op ʼn opvallende daling in verbruikers se bereidwilligheid om geld te bestee en voorspel ʼn noemenswaardige verstadiging in die groei van werklike verbruikersbesteding wanneer dit vergelyk word met die verrassende sterk koers wat in die vierde kwartaal opgeteken is,” sê sy.

“Die feit dat hoë-inkomstevertroue die meeste gedaal het, is selfs meer kommerwekkend vir die vooruitsig oor huishoudelike besteding, omdat welaf verbruikers die grootste bestedingsmag het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.