Skip veroorsaak onwelriekende reuk in Kaapstad

(Foto verskaf deur Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid van water en sanitasie)

Inwoners van Kaapstad het Maandagoggend gou op sosiale media plasings gedeel met die vraag: “Wat ruik só?”

Dr Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid van water en sanitasie, het gesê hy is vroegoggend in kennis gestel van ʼn rioolreuk in dele van die stad. Inwoners van Woodstock, Observatory, Groenpunt en die middestad het sy kantoor gekontak.

Badroodien se departement het spanne na die pompstasies ontplooi om hul fasiliteite na te gaan.

Die departement van omgewingsgesondheid is ook in kennis gestel en hulle het bevestig dat dit ʼn skip in die hawe is wat die reuk veroorsaak.

“Die skip het gisteraand in die hawe aangekom en vervoer vee. Die skip sal na verwagting die hawe Maandagaand om 21:00 verlaat,” het Badroodien gesê.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het intussen in ʼn verklaring gesê hy benadruk sy teenkanting teen die vervoer van lewende hawe ter see.

“Ons was al sedert 2019 gereeld in die hooggeregshof hieroor. Die NDBV en die Kaap die Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV) is aktief besig op die AI Kuwait, ʼn vaartuig wat tans in die Kaapstadse hawe lê. Die skip is besig om voer te laai en vervoer 19 000 vee van Brasilië op pad na Irak.”

ʼn Span, insluitend NDBV-veeartsenykonsultant dr. Bryce Marock, was al Sondagaand om 22:00 aan boord die skip en het samewerking van die kaptein ontvang om die welsyn van die diere na te gaan.

“Ons is bewus van die besware deur lede van die publiek oor die onwelriekende reuk van die skip. Die reuk is ʼn teken van die haglike toestande waarin die diere verkeer. Hulle is reeds twee en ʼn half weke lank op die skip en ontlasting en ammoniak het op die skip opgebou. Die stank aan boord is ondenkbaar en tog moet die diere dit verduur.”

Die NDBV is baie dankbaar vir die Kaap die Goeie Hoop-DBV wat alles in sy vermoë gedoen het om die NDBV met sy inspeksie by te staan.

“Ons maan die publiek om die lot van dié wesens te oorweeg. Hulle is beperk tot hul kwartiere met beperkte ventilasie en higiëne. Ons gaan voort met ons pogings om hul welstand te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Delia ·

Die mens is net soms so n nare spesie. Alles gaan oor geld. Waarom diere uitvoer so lank op see???

Hasie ·

Mense het geen gevoel vir diere nue Beskou hul as besitting en niks meer nie

Heleen ·

Die is net verkeerd!
Die bose mens besig om die wereld te vernietig agv sy eie geldsug.
Ek hoop en bid die DBV kry iets uitgerig om die te stop! Dan sal ek sommer meer per maand aan die DBV gee!

Tinus ·

Die geldgod het tot gevolg dat dieremishandeling nie meer saak maak nie, solank almal net hul wins kan maak. Moenie diere verkoop aan hierdie handelaars wat diere in sulke omstandighede vervoer na die Midde Oooste nie. Skokkend verby!

Danie ·

Waar n rokie is n vuurtjie.Waar dit stink is daar probleme.Het die spul daar bo nie kos nie.Moet dalk minder wapens koop.

Martie ·

Al weer die muishond lande en SA se vriende, maar sulke wreedheid word nie aan die groot klok gehang nie. Maar in SA is die volk net so wreed, sny sommer beeste se senings af of stukke vleis uit lewende diere.

Gaitsigubib ·

Rego julle, maar kyk hoeveel mense klap hande wanneer hulle hoor skaap word ingevoer na SA, dan sal die prys volgens hulle sak. Dit gebeur wel in die korttermyn. Dan maak die diere se welstand egter nie meer saak nie. Die feit dat lokale boere dan swaarkry is vir hulle goeie nuus.

Treurwilger ·

Australië is ook skuldig aan hierdie onmenslike praktyk.
Altyd honderde redes en verskonings oor waarom dit nodig en kwansuis veilig is, maar gierigheid van uitvoerders is die enigste dryfveer.
Dis hoogtyd dat die Midde-Oosterse lande, waarheen die stomme diere op pad (see) is, óf bevrore vleis invoer óf hul eie diere plaaslik slag.
Wat te erg is, is te erg en boonop onbeskaafd.

JohanR ·

Ek wonder wat die Prophet Mohommed sou gese het van die wreedheid teenoor diere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.