Skokdiagnose vir tiener ná 7 kg-kankergewas verwyder word

Carien saam met haar ma, Chrissie Jacobs. (Foto: Verskaf)

In net ’n paar maande het haar lewe ingrypend verander en is sy nie meer die sorgvrye 16-jarige wat sy eens was nie.

Carien Jacobs van Sasolburg in die noorde van die Vrystaat het uitgevind sy het kanker van die eierstokke ná ʼn 7 kg-gewas uit haar ingewande verwyder is.

Die kankerdiagnose het nie net die tingerige donkerkop onverhoeds betrap nie. Haar hele gesin was platgeslaan deur die nuus, vertel haar ma, Chrissie Jacobs, telefonies.

Sy was juis langs Carien se hospitaalbed in die Universitas-hospitaal toe Maroela Media haar Dinsdag gebel het.

Carien is Dinsdagoggend opgeneem en het gewag om geskandeer te word sodat vasgestel kon word op watter fase haar kanker is.

“Toe ons vanoggend op die hospitaalbus klim, het ons baie gehuil… sy het nou vir my gesê sy wil nie hier wees nie,” sê ʼn bewoë Chrissie.

Sy het in November verlede jaar opgemerk haar dogter se maag begin swel. Eers net geleidelik, maar teen Kersfees was Carien ongemaklik. Sedertdien kon Carien, ʼn leerder aan die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg, nog nie terugkeer skool toe nie.

“Die gewas het al haar organe begin druk… dit het gelyk of my kind ʼn tweeling verwag.”

Carien Jacobs (16) se buik het in November begin swel weens ‘n kwaadardige gewas. (Foto: Verskaf)

En soos wat die gewas net al groter in haar buik gegroei het, het Carien al hoe sieker geword. Sy het gesukkel om haar kos in te hou en het in ʼn paar weke meer as 20 kg verloor.

Chrissie het haar na die dokter geneem en ʼn sonar het bevind dit is ʼn gewas. Wat die sonar egter nié kon wys nie, was die oorsaak van die gewas.

Carien Jacobs (16). (Foto Verskaf)

Carien is in Januarie in die Boitumelo-staatshospitaal in Kroonstad opgeneem, waar sy byna twee weke lank toetse ondergaan het. Sy is hierna na die Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas en ʼn week later, op 31 Januarie, geopereer.

Dit is eers drie weke later, toe sy vir haar opvolgbesoek terug is, dat sy die uitslae van al die toetse meegedeel is.

Die gewas was kwaadaardig en sy het kanker van die eierstokke. Hierdie nuus het die gesin geruk, want Carien se regterkantse eierstok moes saam met die gewas verwyder word.

“Die dokter het vir haar gesê as sy ooit eendag kinders wil hê, gaan dit vir haar moeilik wees om swanger te raak.”

Dit is boonop ook nog nie seker of die chemo-behandeling enige verdere impak gaan hê nie.

“Ons wag nog vir die uitslae van die finale toetse en behoort teen Woensdag te weet wat op haar wag.”

Carien Jacobs (16) na die operasie waarin die gewas uit haar buik verwyder is. (Foto: Verskaf)

Die gesin sal dan ook weet hoeveel hulle vir brandstof moet begroot om Carien tussen die huis en hospitaal te vervoer vir haar behandelings.

Want alhoewel pa Willem tans ʼn vaste werk het, is die gesin se inkomste nie groot nie. En as die hospitaalbussie nie beskikbaar is nie, is hulle afhanklik van vriende en familie om hulle te vervoer.

Dit is om dié rede dat Chrissie ʼn fondsinsameling op Back-a-Buddy begin het om haar dogter by te staan.

“Ek weet dit is ongelooflik moeilik vir ons nou, maar ons sal ook hierdeur kom, ek wil net my kind kan help na die beste van my vermoë,” sê Chrissie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Delia ·

Moeilike pad waarop julle stap. Alle sterkte. Solank daar lewe is, is daar hoop.

Wondermaarnet ·

Baklei teen die siekte mooie mensie en voorspoed. Ek bid vir jou herstel.

Pieter ·

Vertrou net op God in hierdie moeilikke tyd. My suster het dieslfde oorgekom toe sy ook nog jonk was. Dokter ook vir haar gese sy sal nie kinders he nie, en vandag is sy gesond en n ma van 3 pragtigge kinders. Wees net sterk, en ondersteun mekaar

Bolandse Nooi ·

Ai, dis so hartseer. Hier is ‘n jonge, jonge, pragtige meisiekind wat veronderstel is om nog uit te sien na die lewe en wat dit alles sal bring, maar sy is met die wrede, groot K gediagnoseer. Aan die anderkant sit ek, oud, afgeleef en met die grootste begeerte net om dood te gaan, maar ek is (relatief) gesond.

JohanR ·

7kg of nou 15.44 pond. Dink net as jy ‘n 5kg gewig by die gym lig…..en dan nog 10kg daarby!
Sterkte Carien vir alles wat nog voor jou le.

Dahlia ·

Baie hartseer, ek bid vir krag van bo vir haar en familie. Sterkte.

Elmarie ·

Ai Bolandse Nooi … Weet nie eers wat om vir jou te sê. Die lewe is nog altyd die moeite werd! Carien, sterkte-ek is nou twee jaar in remissie hoewel daar ‘n tyd was wat ina gedink het ek sou nie 2020 Kersfees sien nie. Veg hard en gló

RS ·

Sterkte meisie. Ek hou duim vas dat jy gesond sal word. Ek het ook n eierstok verloor en is gese ek sal nie sommer swanger kan raak nie, want alles in my fabriek is dood. Mens weet nooit wat gebeur nie. Vandag het ek n seun uit my eie bloed. 2 jaar na vir my gese is ek sal nooit n kind kan he nie, het ek met n skok uitgevind ek is swanger. Stekte ek dink aan jou kindjie.

Martie ·

Liewe mense geniet die tyd saam met julle kind. Ek weet waarvan ek praat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.